Klaprose teen die wind. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 2

Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

van die dag sprei in Marc oop toe hy die hand aanneem. “Marc de Vries. Ek kom van Stellenbosch af.”

      Die ander se oë verhelder toe hy lag. “Ek dag al ek hoor die Boe­land in jou aksent.” Hy trek ’n stoeltjie nader aan hom uit. “Sit digter­by, man. Magtig, dis ’n barmhartige inval.”

      “Ja, hel,” sê Marc en vryf sy hande ingenome, tas na sy sigaret­pakkie en los dit weer. Dankbaar vir die onverwagte bekendheid en tog onseker oor wat verder van hom verwag word.

      “Wat doen jy dan tog op jou eie in dié bose plek?”

      Marc grinnik. “Vir my Nederlandse ouma kom kuier.”

      “Eerste maal?”

      Hy skud sy kop en steek twee vingers op. “Maar die vorige keer was ek maar vyf.”

      “Jou Nederlands klink nie te vrot nie.”

      Marc bloos effens. “Ag, jy weet hoe dit is, dis so na aan Afri­kaans …”

      “Dis juis die moeilikheid, dan kry jy dit nóg moeiliker reg.”

      “Bly jy hier?” vra Marc.

      “Jy kan seker half so sê. Ek’s al ’n paar jaar hier rond.”

      “Studeer?”

      Jurgen skud sy kop. “Nee. Ploeter maar rond. Hier iets en daar iets. Weet jy?”

      Marc weet natuurlik nie, maar hy knik.

      Jurgen kyk hom met skerper belangstelling aan. “Het jy net kom kuier?”

      Marc trek hom sigbaar bymekaar. “Ek … weet nog nie seker nie. Dalk ook nog studeer of so …”

      “Army-probleme?”

      Marc se oë vernou, maar die ander bly hom so sonder skroom aankyk dat hy tog sê: “Jaa …” Maar op die ou end voeg hy niks daar­by nie.

      Die meisie kom sit Marc se bier en broodjie voor hom neer. “Ken julle mekaar eintlik, Jurg?” vra sy.

      “Nee, meid, maar ons het allebei dieselfde vaderlandjie.”

      “Prettig, hè!”

      “Jy kan dit miskien so sien,” sê Jurgen en kyk in sy koffie om sy glimlag te verberg. Marc lag.

      Wanneer sy haar wegdraai, sê Jurgen: “Ja, wij kan daar waaragtig tog ook niet altijd over huilen, jongen.”

      Marc skud sy kop by gebrek aan ’n gepaste opmerking en eet sy broodjie hongerig op.

      Jurgen sit hom ondersoekend en aankyk. “Jy hét wel ’n ouma hier?”

      Marc knik hewig en eet sy mond haastig leeg om te kan sê: “My pa was Nederlands. Hy’s ’n paar jaar gelede dood en ek het my voorgeneem om my ouma te kom opsoek as ek so ’n bietjie afge­studeer is.”

      “So, jy hét werklik ’n blyplek.”

      “Definitief,” antwoord hy kouend.

      “Hoe’t jy hier gekom?”

      “Skip. Oorgewerk.”

      Jurgen frons geïnteresseerd. “Ek wis nie dat mens dit nog kan doen nie.”

      “Eintlik nie, maar ’n vriend van my pa is ’n verteenwoordiger in Suid-Afrika van die eienaar van een van die kleiner lyne wat gereeld tussen Kaapstad en Rotterdam vaar. Hy’t dit vir my ge-wangle.”

      “Lekker. So, jy’s redelik ge-organise?”

      “Hoekom vra jy?”

      “Nee, sommer, want ek het in my tyd al heelwat van die ge­wetensbeswaardes sien uitspoel wat nie ’n aardse idee het wat hier van hulle moet word nie. Hul reken hul kom in Kanaän aan. Maar dit vat nie lank nie om uit te vind dat die veelbesonge Nederlandse toleransie met vrydenkers bepaald ook sy perke het. Die meeste sit sonder geld ook.”

      “My pa het my ’n bietjie geld nagelaat.”

      “Dié raak jy hier ook met min moeite kwyt, hoor.”

      “Ek kom so agter.”

      Hulle drink in stilte tot Jurgen skielik na buite wys. “Kyk.”

      Marc swaai hom vinnig om op sy hoë stoeltjie. Dit het begin sneeu, vlokkig sag in die fyn reën. Teen die verdwynende middaglig kom vlokke soos blinde voëls vanuit die duiselende hoogte teen die raam aangevlieg.

      “Pragtig,” sê hy eerbiedig.

      Jurgen knik, sy oë op die ander se ekspressiewe gesig.

      ’n Man en vrou bars gearmd en natgereën die kafee luidrugtig binne. Saam met hulle kom ’n snerpende wind en die reuk van die nat honde wat by hulle is.

      “Jurg, jongen!” roep die man verheug, “wat aardig om jou weer ’n keertjie terug te sien.”

      Maar dis die honde wat eerste by Jurgen is. Hy trek hulle groot nat koppe teen sy bors vas en vryf hul ore tussen sy vingers. Hulle vertrap mekaar om sy aandag. Die drie mense groet mekaar geesdriftig en verval in so ’n dik Nederlands dat Marc hulle moeisaam volg. Hy merk dat Jurgen se aandag meer by die diere as by die mense is. Die meisie, Willemiene, kom later ook by en toe hulle van Marc onthou, word hy bekend gestel.

      Meer mense kom uit die sneeuerigheid binne en die plekkie dreun weldra van stemme en musiek en Willemiene se lag wat spora­dies opklink. ’n Jong man met olierige hare en ’n verslaapte gesig het van iewers te voorskyn gekom om haar te help.

      Lank nadat Marc klaar geëet het, bly hy nog saam met Jurgen in die behaaglike warmte sit om ’n koerant te deel. Toe die ergste drukte be­daar, bring Willemiene ongevraag vir albei ’n lekker koppie koffie. Ter­wyl hulle dit gesellig sit en roer, vra Jurgen: “Hoe lank is jy al hier?”

      “Ag, net eergister aangekom.”

      Jurgen knik. “By Ouma tuis?”

      “Ja. Bodegraven.”

      “Waar’s dit nou weer?”

      “Vlak by Gouda.”

      “Nog vanaand terug soontoe?”

      “Bus, ja. Ek moet my loop kry.”

      “Ja seker.”

      Marc drink sy koffie klaar. Dit het ophou sneeu en, indien moont­lik, nóg kouer geword. Dis byna heeltemal donker buite. Hy wil graag met Jurgen kontak behou, maar die vrymoedigheid ont­breek hom om dit direk te vra.

      Jurgen grim effens, of hy Marc se probleem aanvoel. “Jy kom darem seker gou weer terug Amsterdam toe.”

      “Natuurlik,” sê Marc gretig.

      “Kom dan daar na my plek toe. Ek dink daar’s heelwat wat ek ’n Afrikaner-landgenoot hierlanges kan laat sien.”

Скачать книгу