Klaprose teen die wind. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 3

Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

kyk uit vir jou.”

      “Jy sal my sien!”

      Dis ná tienuur toe hy Oma se voordeur behoedsaam oopsluit, maar haar stem klink nog helder uit die voorkamer op. Sy slaan haar arms om hom en soen hom drie maal toe hy by haar kom. “Ek dag dat jy die weg kwytgeraak het, jongen!”

      “Nee, hoor.”

      “Het jy wel wat te ete gehad?”

      Hy verduidelik van sy broodjie, maar sy gaan onverstoord kom­buis toe om nog iets voor te berei. Hy laat haar begaan. Hy draai die televisie se klank af, skop sy nat skoene uit, stel die gasverwarmer effens laer en gaan op sy sy op die mat daarvoor lê. Die vertrek is oorverhit en feitlik lugloos en uit die kombuis kom die geur van wat ook al sy aan ’t make is. Marc raak meteens aan die slaap. Toe sy later met sy soep inkom, kom hy by soos een uit ’n diepe beswyming.

      Hy rek sy lyf tot sy litte kraak. “Heel stuk geloop vandag. Hele boel gesien.”

      “Glo ek wel. En was jy ook by die Walletjes?”

      Hy kyk op in haar wakker oë en hy moet lag. “Nog nie.”

      “Ek dag dit sal een van die eerste plekke wees waar jy sal gaan kyk?”

      Byna praat hy met haar oor die meisie op die brug, maar bedink hom toe. “Ek gaan nog,” sê hy net.

      Sy sit by hom solank hy eet. Haar aandag verdeel tussen hom en die onderhoud wat oor die televisie met ’n kabinetslid gevoer word. Haar skerp deurlopende kommentaar op alles wat daar gesê word, amuseer en verteder hom. Bring ’n vae herinnering van sy pa by hom op.

      Toe hy klaar is, ruim sy op. “Waarheen gaan jy dus môre?”

      “Môre dag ek om hier by u te bly.”

      Sy kyk verras op oor die teepot wat sy sorgvuldig met ’n mus aan ’t toemaak is. “By my?” Haar gesig word rosig.

      “Ek hét tog by u kom kuier.”

      “Nou jongen, niemand verwag immers dat jy die hele tyd by jou grootmoeder bly sit nie!”

      “Dit weet ek ook, maar ek vind dit nogtans lekker om ’n daggie hier by u te bly.”

      Sy raak teen sy gesig. “Dis goed dan?”

      “U laat my by tye heel veel aan Pappa dink.”

      Haar oë versag. “Oor hom wil ek soveel nog met jou praat, Marc.”

      “Ek ook.”

      “Maar nou moet jy voorlopig na bed. Môre is nog ’n dag.”

      In die bed vind hy dat die slaap hom ontwyk. ’n Kaleidoskoop van Amsterdamse beelde draai rasendsnel deur sy vermoeide ge­dagtes. Kom telkens weer by die meisie op die brug tereg. Hy draai hom op sy rug om en sien haar weer voor hom. Die vol borste, die arrogante mond. Hy draai hom terug op sy sy en dink dat hy moes gebly het om alles te sien. Waarom het hy eintlik so gou weggegaan? Voordat hy tog eindelik aan die slaap raak, dink hy nog: Ek gaan terug Amsterdam toe, elke keer weer, tot niks my meer te vroeg laat terugdraai nie!

      Die weer bly so guur dat drie dae verbygaan voor hy weer die tog daarheen aanpak. Selfs toe val daar nog ’n grou reëntjie en is hy tot aan sy neus toegewoel. Hy het voorlopig geen erg aan museums en kuns­galerye nie. Hy dwaal deur die stad, half suf van ’n depressie wat hy nie kan plaas nie. Die sambreel wat Oma saamgegee het, het hy op die bus al vergeet. Nou trek hy maar die wolserp stywer om sy nek en laat die reën toe om algaande sy hare te deurweek.

      Ek is eensaam, erken hy naderhand die oorsaak van sy ellende. Ek mis iemand met wie ek kan praat oor wat ek sien. Hy dink aan die Suid-Afrikaner wat hy in die kafeetjie leer ken het. En daar is ook die adres van ’n familievriend in sy binnesak. Maar motivering om die een of ander rigting in te slaan, ontbreek hom. Dis eerder sy voete as sy hoof wat hom uiteindelik na die rooiligbuurt neem. Hy het tevore uit soveel monde soveel beskrywings daarvan gehoor dat hy nie onvoorbereid daarop afkom nie. Tog skok dit hom toe hy langs die raampies met uitgestalde snolle dwaal. Dit val hom op hoe min van hulle nog werklik jonk en mooi is. Ontroer hom. Hy wens hy het met sy sketsboek daar kom staan om tydsaam die uitdrukkings op hul gesigte vas te lê. Die desperaatheid in hul liggame. Maar hy besef tegelyk hoe onvanpas dié gedagte is. Hy word van alle kante met aanbiedinge oorval. Vir seks, vir seksvertonings of -films, vir dwelms en elke ander perversie. Hy loop ten slotte sat daarvandaan.

      Deurnat gaan hy later ’n rokerige restaurantjie binne en oor ’n bier en nog een en nog een, teken hy die rooiligvroue agterop die kaart­boek van die stad wat hy oral met hom saamdra.

      Die swart depressie waarvoor hy uit Suid-Afrika ook gevlug het, het opnuut soos ’n uil op sy skouer kom steun.

      Net omdat ek alleen is? wonder hy deur sy bierbeneweling. Hoe­kom ís ek alleen? Met sy voorvinger vee hy potloodskaduwees om die byna naak figure in. Sy potlood is tot op die hout stomp. Ek is alleen in Nederland en ek was alleen in Suid-Afrika. Ek was my lewe deur hoofsaaklik alleen. Hy skud sy kop langsaam. Die potlood kras steeds oor die papier.

      Hy skrik toe hy ’n hand op sy skouer voel. Die eienaar het agter hom kom staan. “Jongen,” sê hy gemoedelik, “ek vind dat jy so nodig wat te ete moet neem. Of nie?”

      Marc kyk hom beneweld aan: “Hoe so?”

      “Nou, dit skyn my dat jy behoorlik aan ’t dronk word is.”

      “Dit kan bes wees,” stem Marc toe.

      “Eerste maal in Amsterdam?” vra die kafeebaas en kyk belang­stellend na die tekeninge voor Marc op die tafel. Dit het tot op ’n papier­servet uitgebrei.

      Marc kyk saam met hom daarna. “Góéd ook, as jy reken dat dit uit my hoof is.”

      Die man lag. “Ja seker. Ek vind dit geweldig.”

      “Dis die tweede maal.”

      “Wat?” vra die ander onseker.

      “Dat ek hier kom.”

      “Waar kom jy vandaan?”

      “Van ver,” sê hy moedswillig.

      Die man trek sy skouers op. “Ja hoor, stom van my om te vra.”

      “Ek kom uit Suid-Afrika,” sê Marc toe met dronk erns. “Uit die Boererepubliek. Regime van alle ongeregtigheid en diskriminasie. Heilige plek van rassisme. Waar die profeet pas uit die gevangenis opgestaan het. Kameraad Mandela. Kom ek na die Nederlande waar­van ek verneem dat alle geregtigheid te alle tye aan alle mense bewys word. Heilige plek van die groot toleransie.”

      “Nou …” Die kafeebaas is half onkant. “Dit hang natuurlik alle­maal daarvan af hoe jy dit bekyk …”

      “Maak nie uit nie.” Marc wuif hom stil. Hy hou die laaste tekening effens verder van hom af om perspektief te kry en vryf toe nog ’n skaduwee met sy duim in. “ … hóé jy dit ook al bekyk.”

      “Geweldig!” sê die man weer goedkeurend van die skets of van die opmerking of van verleentheid. Marc weet nie en vanweë die oor­maat bier en sigaretrook gee hy ook nie om nie.

      “Wat

Скачать книгу