Klaprose teen die wind. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 6

Klaprose teen die wind - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

meer nie. Hy lees nie, hy luister nie na musiek nie; sit net koulik met die Siamesie op sy skoot vasgehou. “Wil jy vir ons die verwarming aansteek?” vra hy naderhand vir Marc wat in ’n koerant begin blaai het.

      Marc kyk hom verbaas aan. Dit was die eerste dag dat daar ’n bietjie son sigbaar was. Hy het eintlik warm gekry met ’n windjekker oor ’n trui. Op meer as een plek in die parke het hy tulpe sien oopgaan. Dis nou ook nog nie juis koud nie. Maar hy staan op en steek die verwarming aan. Toe gaan hy uit om Rubicon vir sy wandeling te neem. Jurgen bly sit of hy hom nie sien gaan nie. Sodat Marc later seergemaak en afgeslote oor die brug in die grag staan en kyk. Hy wonder of dit tyd geword het dat hy moet teruggaan Bodegraven toe.

      Maar die volgende môre is Jurgen oënskynlik weer homself. Hulle gaan uit na die mark om groente en vrugte te koop omdat ’n Duitse vriend van Jurgen die aand op besoek kom.

      “Dalk sal Claus jou aanstoot gee, Marc. Ek weet nie of jy al met so ’n geval te doen gekry het nie,” sê Jurgen terwyl hulle die groente in die kombuis staan en skoonmaak.

      “Watter soort geval is hy dan?”

      “Hy’s uitgesproke gay. Bietjie kru, maar interessant. Ek wonder net of die kliniek én Claus nie net te veel vir een dag sal wees nie. Ek het eintlik half vergeet dat ek hom gevra het om vanaand hier te kom eet …”

      Marc se hande word stil oor die bak met wortels waaraan hy sny, maar hy sê: “Ek dink ek sal dit maak.”

      “Ek hoop so.”

      Die Amsterdamse Akademiese Siekehuis is selfs in vergelyking met die groot hospitale waarmee Marc in Suid-Afrika kennis gemaak het, ’n kolos. Toe hulle in die parkeergarage uitklim, voel Marc hom­self heeltemal onvoorbereid. Daar was soveel wat hy vooraf vir Jurgen wou vra. Maar daar was altyd ’n vreemde soort geslotenheid by hom oor sy werk, anders as die openhartige vriendelikheid wat Marc in die vorige twee weke leer ken het. Miskien het dit ook met sy eie on­ge­maklikheid oor die saak te doen gehad. Dat hy angstig is om hier­heen te kom en tog ook nie wil wegbly nie.

      Jurgen wys teen die gebou op na ’n blok. “Dis F-5 Noordwes. Die rooi sone.”

      “Hoeveel pasiënte is daar?”

      “Tien tot vyftien beddens.”

      “Almal Aids?”

      Jurgen knik. “Prognose zero.”

      Hulle stap deur die druk hospitaalgange na die afdeling.

      “Dis dalk nie ’n goeie plan dat jy die hele vier uur hier bly nie. Kyk ’n bietjie rond en as jy geïnteresseerd is, kan jy nog ’n keer terugkom, miskien met van die pasiënte gesels. Die meeste van hulle gee glad nie om om te praat nie.”

      Marc knik. “Ek sal sommer ’n trem terug stad toe haal.”

      Wat hom die eerste opval, is die byna algehele stilte wat daar heers in vergelyking met die bedrywige res van die hospitaal. Die deure na die kamers is meestal toe. Terwyl sy oë behoedsaam oor die naamkaartjies op die deure gaan, merk hy dat dit sonder uitsondering mans is. Hy sien ’n ouerige vrou met ’n bossie blomme styf in die hand geklem een van die deure versigtig oopstoot en ingaan.

      “As jy ’n rukkie hier wil wag, gaan ek net kyk watter werk daar is.”

      Marc knik en sy mond is verskriklik droog. Uit een van die kamers hoër op in die gang kom ’n jong man met rooigehuilde oë nikssien­de by hom verby. Hy gaan op ’n stoel sit. Marc sien hoe sy lyf ruk. ’n Suster kom met ’n koppie tee na hom toe. Sy lê haar hand op sy hare, kniel en praat naby sy gesig. Marc druk met sy hand agter hom teen die koue muur, want sy bene tril verskriklik.

      Skuins oorkant hom staan ’n deur oop. Die vertrek is vol van die silweragtige middaglig wat deur die reusevensters na binne stroom. Die mosgroen kleure in die vertrek is in kontras met bosse diep­geel rose en tulpe wat voor die venster en op die bedkassie in glas­potte staan. Twee mans. Die een in pajamas het sy maer bene hoog teen sy borskas opgetrek, sy kop teen sy knieë gestut. Sy oë is toe; sy hande, vingers weerloos na binne gekrul, lê slap op die bed. Sy vriend sit half oor hom gebuk, arm om sy skouers, kop teen syne deur die venster na buite en wegkyk.

      Ek wil hier uitkom, dink Marc. Maar sy oë bly vasgenael op die toneel voor hom. Ek wil nie met hierdie mense praat nie. Ek wil nie weet dat hulle daar is nie. Waarom het Jurgen my hierheen laat kom? Hy voel paniekerig.

      Die man met die opgetrekte bene op die bed het ’n paar sagte geel wolsokkies aan. Marc merk dat sy vriend die hele tyd sy voete sag masseer. Hulle praat nie. Op die bedkassie langs die tulpe sit ’n sagte bruin beertjie uitdrukkingloos na hulle en kyk.

      Marc kyk gejaag in die gang af waar hy Jurgen se stem herken het. Hy wil meteens woedend op hom afloop en vra waarom hy hom daar­heen gebring het.

      Maar toe Jurgen by hom kom, is Marc so mis­lik dat dit voel of die vloer onder hom golf. Jurgen wat sy asbleek ge­sig sien, neem hom onmiddellik styf aan die arm en laat hom op ’n stoel sit. Eers toe hy die vertroostende smaak van tee oor sy lippe kry, begin die mis om hom opklaar. Kom die gesigte van Jurgen en die verpleegster by hom weer in fokus.

      “Is jy okay?” vra Jurgen gedemp en beduie vir die verpleegster dat hy haar nie meer nodig het nie.

      Marc knik verleë. “Ek weet nie wat my oorgekom het nie.”

      “Dis niks. Baie mense kom so oor van ’n hospitaal se reuk. Jy word later gewoond daaraan.”

      Dis die eerste keer dat dit my oorkom, dink Marc, maar hy sê dit nie. “Ek is jammer.”

      “Nonsens. Neem die bus stad toe, dan laai ek jou halfses by die terminus op. Goed so?” Jurgen druk sy skouers en bly hom besorg aankyk.

      ’n Groot verlange om sy kop teen Jurgen te laat sak en lank so te bly sit, oorweldig hom byna. Soveel so dat hy byna sy lip aan die binnekant stukkend byt. Maar die skerp pyn bring hom genadiglik genoeg tot bedaring om waardig afskeid te neem en weg te gaan.

      Marc stap deur die binnekant van die hospitaal uit. Eers so ont­daan dat hy volslae verdwaal en die pad moet vra. Op die grond­vlak tref hy ’n egte klein dorpsplein aan: winkeltjies, poskantoor, haar­salon, ’n oop kafee, blommestalletjies en ’n menigte mense. Sommige pa­siënte word op hul beddens na besoekers hier uitgestoot met word-gou-gesond-kaartjies in stringe om die bed gespan. Dikwels met bot­tels aarvoeding daarby. Ander sit weer in kamerjasse rond en gesels. Gesellig! Hy dwaal daar tussen die mense. Totdat hy lang­samer­hand weer rustiger word.

      Na links sien hy ’n aanwysingsbordjie: Stiltecentrum. Hy stoot die deur behoedsaam oop. Toe hy sien dat die vertrek leeg is, gaan hy na binne. Die rustige atmosfeer trek hom aan. ’n Klein kapel is dit, met blou matte en sagter blou gemakstoele oral rond. Op die klein kateder lê ’n Nuwe Testament oopgeslaan. Hy raak ingedagte aan die vertroude artikel en bly staan ’n rukkie daarby.

      Daarna stap hy deur die helder, koue middag, so diep in gedagte versonke dat hy byna voor die trem wat hy moet haal, beland. Later dwaal hy half rigtingloos deur die stad. Die weemoed van sy eerste dae in Amsterdam is terug by hom. Uiteindelik loop hy weer langs die Walletjes. Kom voor die raam met die Jamaikaanse vrou te staan. Hy sien dat sy hom vaag herken. Sy kyk hom afwagtend aan, maar hy glimlag verleë en draai weg.

      Dit het donker geword en nog kouer. Hy hurk weg in sy windjekker. Dwelmhoertjies kom hulle teen hom aanvryf. Halfbeswymdes hang in die pienk flikkering van neonligte teen die deurkosyne.

Скачать книгу