Die grondbaron. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die grondbaron - Schalkie van Wyk страница 4

Die grondbaron - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

vra sy ongelowig.

      “Hy het nie ’n keuse nie. Op Bergvallei is daar net nie vakansiewerk nie en Bartel het sakgeld nodig. Hy het my laat belowe dat ek aan niemand sal vertel dat hy huishulp speel nie. Kan ons hom bekostig?”

      “Vir ’n halfdag, ja,” antwoord sy laggend, begin wegstap na die deur en sê oor haar skouer: “Miskien moet jy solank gaan kyk of jy nie vir tant Sophia kan help nie. Bartel kan vir my die kruideniersware uit die motor aandra.”

      “Goed, dan ry ek eers,” antwoord hy en stap na sy motor toe wat voor die huis geparkeer staan.

      Erika steek in die kombuisdeur vas, haar blik verras op die groot, donker man wat met sy rug op haar gekeer voor die een kombuisvenster staan. Hy draai om toe hy haar voetstappe hoor, maar met die lig agter hom is dit onmoontlik vir haar om sy gelaatstrekke behoorlik te onderskei.

      “E . . . hallo, Bartel,” groet sy met ’n senuagtige glimlaggie. “Henno het gesê jy sal my met die huiswerk help. Dit is al byna vyfuur, maar as jy my tot so sewe-uur kan help, sal ek jou drie rand betaal. Is dit reg so?”

      Wat ’n vreemde jong man wat huiswerkies wil doen om sakgeld te verdien! dink sy, intens bewus van Bartel se besonderse lengte en breë skouers. Is hy moontlik ’n student? Maar studente speel nie huishulp nie, redeneer sy en skreef haar oë om sy gesig duideliker te kan sien.

      “En jy dan, juffroutjie? Wat gaan jy doen terwyl ek die huis aan die kant kry vir ’n hele drie rand? Of betaal Riaan jou net om mooi te lyk?” vra die man, tree nader en staan tronend oor haar.

      Hy het sterk, gebeitelde gelaatstrekke, merk sy, maar dis sy ysblou oë onder sy donker wenkbroue wat haar laat besluit dat hy die lelikste man is wat sy nog gesien het – dít, en die koue spot in sy diep baritonstem.

      “Drie Eike is my en my broer Henno se losieshuis, meneer. Ons het die plek van Riaan gekoop en dit behoort nou aan ons. Ek weet nie wie jy is nie, maar –” sê sy vyandig.

      “Ek is Wilhelm van Vollenhoven, Riaan se ouer broer, en ek het reeds tien jaar gelede die opsie gekry om Drie Eike te koop. Drie Eike is myne, juffroutjie, en hoe gouer jy en jou broer vertrek, hoe beter vir ons almal,” val die man haar in die rede en glimlag in haar verbysterde gelaat.

      2

      “Nee,” sê Erika beslis en skud haar kop aanhoudend, haar oë verdwaas op Wilhelm van Vollenhoven, asof sy nie kan glo dat hy of sy woorde waar kan wees nie. “Ek en my broer het Drie Eike met ons erfgeld gekoop, en nou is dit ons losieshuis. Riaan het niks van jou gesê nie.”

      “En omdat Riaan niks van my gesê het, bestaan ek nie?” spot Wilhelm, sy glimlag humorloos.

      Erika frons en lig haar ken uitdagend.

      “Dit kan my nie skeel wie of wat jy is nie, meneer Van Vollenhoven,” sê sy geraak, haar oë glimmend in syne. “Henno het kontant vir Drie Eike betaal, daarom is dit nou ons s’n. As jy my woord in twyfel trek, wag dan tot my broer terugkom.” Sy blik op haar polshorlosie. “Henno sal oor so tien minute of wat terug wees.”

      “Ek wag graag,” sê Wilhelm tegemoetkomend, trek ’n stoel onder die kombuistafel uit, neem daarop plaas en blik met ’n vraende blik van sy regterwenkbrou na Erika wat in die kombuisdeur bly staan en hom met ’n gloed van ysige vyandigheid in haar oë bejeën. “Hoekom gaan pak jy nie solank in nie, juffroutjie? Jy gaan tog binnekort trek,” doen hy glimlaggend aan die hand.

      Dis oomblikke soos hierdie wat haar laat wens sy het nie in ’n ordentlike huis grootgeword nie, dink sy bitter. As sy nie ’n dame was nie, kon sy hierdie selfvoldane mansmens se ore vuurwarm geklap en hom by die kombuis uitgeboender het.

      “En wat nou van my, Ma? Gaan Ma my dié keer saamneem wanneer Ma en oom Henno trek, of moet die Welsyn my weer kom haal?” vra ’n patetiese stemmetjie regs van Erika.

      Erika wip van die skrik, swaai vinnig om na die spensdeur en kyk vas in die groot, verwytende, blou oë van ’n blondekopseuntjie met ’n fyn sproetneusie en ’n sagte vollipmond­jie wat ’n engelagtige uitdrukking aan sy gesig gee.

      “E . . . e . . . waar is jou ma?” vra Erika oorbluf, loer onder die groot kombuistafel in en voel ’n blos op haar wange toe Wilhelm gedemp lag.

      “Sies, Ma . . .” Die seun klink na aan trane, kom nader en lê ’n vuilerige handjie op Erika se arm. “Kan Ma nie sien ek is Ma se eie Bartel nie?” beskuldig sy stem haar weer.

      Bartel Klopper, die seun wat haar met die huiswerk wou help, onthou Erika en glimlag verlig.

      “O . . . Bartel. Jy soek mos werk, nè? As jy wil, kan jy solank die kruideniersware uit my motor aandra kombuis toe, sodat ek met ons aandete kan begin. Oom Henno kom netnou met drie van ons loseerders en ek het nog niks klaar nie. Toe, gaan haal nou die pakkies in my motor – dis voor die deur geparkeer,” versoek sy, oortuig daarvan dat Bartel nie heeltemal wys is nie, maar tog onskadelik moet wees.

      “Sien Oom nou?” Bartel kom langs Wilhelm tot stilstand en ’n hartroerende sug ruk sy skraal lyfie soos ’n jong loot in die suidooster. “Ek is net tien, Oom, maar vandat my pa dood is, laat my ma my werk en werk en werk . . . totdat my naels afbreek. Sien Oom hoe kort is my naels? My ma vertel almal ek kou my naels, maar sy jok, want dis van die harde werk dat hulle so lyk.”

      “Dan is u ’n mévrou en nie ’n júffrou nie?” vra Wilhelm en klink asof hy haar huwelikstaat afkeur.

      “Nee, Oom, ’n weduwee. Sien, my pa is dood,” help Bartel hom reg.

      “Natuurlik. Hoe lank is jou pa reeds dood, ou seun?” verneem Wilhelm belangstellend.

      “Ek dink dis nou ses maande, Oom, maar ek vergeet so ’n bietjie. Vandat my pa dood is, wil my ma my nie meer hê nie, want sy laai my elke keer by my . . . by die Welsyn af,” antwoord Bartel en werp Erika weer ’n verpletterende blik toe.

      “Dan het jy nie saam met jou ma by oom Riaan gekuier nie?” vra Wilhelm en sy stem klink nog vriendeliker, maar sy oë het reeds die doodsvonnis oor Erika uitgespreek.

      “Ek het nie eens geweet my ma kuier by oom Riaan nie. Maar, Oom weet, my ma kuier verskriklik baie en ek ken nie al die ooms se name nie,” vertel Bartel en sug weer aandoenlik.

      Erika bly asof versteen in die kombuisdeur staan en luister met ’n gevoel van toenemende verbystering en drif na Bartel se stories oor haar. Wie Bartel Klopper is, weet sy nie, maar dat hy ’n kind met ’n ooraktiewe verbeeldingskrag is, moet sy toegee.

      “En oom Henno? Is hy werklik jou ma se broer?” vra Wilhelm bedaard, sy ysblou oë glimmend op Erika se gelaat.

      “My ma het nie een broer of suster nie, Oom, maar ek ken oom Henno. Hy ry oral rond en hy teken mooi prente. Hy sê hy is ’n skilder en hy is baie goed vir my, want hy gee vir my altyd van sy toebroodjies. Maar hy het niks geld nie, nie eens ’n dooie duit nie. Wat is ’n duit, Oom?”

      “Geld,” antwoord Wilhelm kortaf en staan op uit sy stoel, sy regterhand liggies rustend op Bartel se skouer. “Gaan haal maar solank daardie pakkies. Ek sal jou persoonlik twee rand betaal.”

      “Sowaar, Oom? Oom moet net vir my ma sê sy moenie weer my geld vat nie, want ek moet al die werk doen en sy loop altyd met my geld weg,” sê Bartel diep gegrief.

      “Ek sal

Скачать книгу