Die grondbaron. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die grondbaron - Schalkie van Wyk страница 6

Die grondbaron - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

peul ’n senuagtige laggie oor Sophia se lippe. “Jy moet Wilhelm maar verskoon, ou diertjie, maar hy was van jongs af ’n moeilike kind, seker maar omdat hy na my oorle oupa Wilhelm geaard het. Wilhelm, sorg jy vir al my pakkasies en bring my portmanteau’s na my ou slaapkamer in die westelike vleuel. Ek en Erika gaan solank vir die aandete sorg.”

      “Haar seun het nog nie die pakkies uit die motor gedra nie,” sê Wilhelm en Erika kan die genoegdoening in sy stem hoor.

      “Hoe nou?” Sophia kyk verras na Wilhelm en dan na Erika wat hom met blitsende oë aangluur. “Watter seun van wie, ou dingetjie?”

      “Daardie kind, Bartel Klopper, Tannie.” Erika rig haar toornige blik op Bartel wat op sy hande langs die sleepwa loop om Jackie se aandag te trek. “Aan wie behoort hy nou eintlik?”

      “Wat ’n vergeetagtige moeder,” terg Wilhelm haar. “Sy ken nie eens haar eie kinders nie.”

      “Moenie laf wees nie, Wilhelm,” berispe Sophia hom, frons peinsend en knik bevestigend. “Maar dis nogal waar wat jy sê: Bartel se ma vergeet alte maklik dat hy haar en oorlede Daniël Klopper se seun is. Jy het tog nie die mooi Minette du Toit van La Rochelle vergeet nie, Wilhelm? Sy noem haarself deesdae weer juffrou Minette du Toit en sedert Daniël ses maande gelede dood is, is sy weer terug op Bergvallei.”

      “Minette se seun?” vra hy skor en draai weg om na die kind te kyk.

      Erika wonder of dit net haar verbeelding is wat haar wysmaak dat die bloed skielik uit Wilhelm se gelaat gedreineer het en dat hy ontroer klink om te hoor dat Bartel Minette se kind is. Wie is Minette du Toit en hoe pas sy in die prentjie? wonder sy, weet intuïtief dat sy nie van Minette sal hou nie en verbaas haar oor haar eie gedagtes.

      Erika staar Henno ongelowig aan. Sy wens sy kan sy sorgelose glimlag van sy gesig afvee, maar sy weet dat dit nutteloos is om met hom rusie te maak, want Henno twis nooit nie.

      “Jy het Drie Eike sommerso aan hom teruggegee? Hoe kán jy, Henno? En wat van ons geld? Sê nou Riaan het dit klaar gespandeer? Wat word dan van ons?” vra sy ontsteld.

      “Riaan het reeds ons geld gebruik om vir hom ’n groot boot te koop, daarom sal hy ons seker nie dadelik kan terugbetaal nie,” antwoord Henno en glimlag gerusstellend. “Ek het Wilhelm daarvan vertel en toe bied hy aan om vir ons die geld terug te gee, maar ek het ’n beter voorstel gehad.”

      “Jy het?” vra sy wantrouig.

      “Ja, want dit pas my om hier op Bergvallei te woon. Ek is naby die see, die hawe, die vissersdorpies, die pragtige valleie en berge . . . Dis ’n fees vir ’n skilder, daarom gaan ek net hier bly. Dis waarom ek ou Wilhelm oorreed het dat hy jou nodig het.”

      “Hoekom noem jy hom ou Wilhelm? Is hy so oud?” vra Erika, verras omdat sy haar vir Henno vererg omdat hy Wilhelm as oud durf bestempel.

      Henno haal sy skouers op.

      “Tant Sophia sê hy was al vier-en-dertig en dis stokoud as ’n man pas mondig was. In elk geval, ek het vir Wilhelm gesê jy is ’n uitmuntende kok en aangesien tant Sophia haar hande so vol het met klein Jackie, moet hy jou as huishoudster of kombuishoof of so iets aanstel. Toe, wat sê jy daarvan?” vra hy ingenome.

      “Jy bedoel ek moet by daardie man wérk?” krys sy ingehoue en gryp na ’n klerehanger wat sy ’n paar minute gelede uit een van haar tasse gehaal het.

      “Hoekom nie? Jy is ’n mooi meisiekind, Erika, en as jy sommer net hier by Wilhelm bly, sal die mense praat, maar as jy by hom werk, sal –”

      “Uit! Trap uit my kamer uit voordat ek jou met die hanger oor jou kop slaan, Henno! Verbeel jou! Ek, Wilhelm van Vollenhoven se huishoudster!” tier sy en storm op hom af.

      Henno ruk haar kamerdeur oop. “Rissiepit!” roep hy oor sy skouer en klap die deur haastig agter hom toe.

      “Ek wil my geld hê, hoor jy, Henno? Ek wil my geld hê sodat ek so gou moontlik hier kan wegkom! As ek nog een keer in daardie draak se gesig . . . Wat wil jy hê?” blaf sy toe haar kamerdeur oopgaan en sy in Wilhelm se gesig vaskyk.

      “Jy skree darem verskriklik vir so ’n klein meisietjie,” sê Wilhelm en lyk bekommerd. “Ek weet nie of ek jou as my huishoudster moet aanstel nie, want ’n meisie met sulke sterk longe kan ’n man dalk doof skree. Doen jy dit dikwels?”

      Sy gaan ’n beroerteaanval kry, dink sy, en besluit dadelik om dit nie te doen nie, want sodoende sal sy Wilhelm net sy sin gee. Sy is bitter jammer hy het haar hoor skree, maar dis nog nie te laat om aan hom te wys sy is ’n verfynde dame nie.

      “Meneer Van Vollenhoven, klop jy nie aan ’n meisie se kamerdeur voordat jy dit oopmaak nie?” vra sy met ysige afkeer.

      “Gewoonlik, ja, maar jy is mos net my huishoudster,” antwoord hy met opsetlike onskuld.

      “Ek is nie jou of enigiemand anders se huishoudster nie, meneer Van Vollenhoven!” bars sy uit en bloos vuurrooi toe hy met sy pinkie in sy oor krap en homself dan liggies teen die kop tik, asof haar uitbarstings sy oortrommel beskadig het. “Ek wil my geld terughê, meneer Van Vollenhoven!” fluister sy dringend.

      “Wilhelm,” sê hy en skud sy kop tongklikkend. “Tsk, tsk, dis nou ’n jammerte. As jy al die probleme kon voorsien het, sou jy natuurlik self met Riaan onderhandel het, maar nou het Henno alles met Riaan gereël.”

      “Vanselfsprekend, want ek het nog in Johannesburg skoolgehou en Henno was hier,” sê sy driftig en wens sy het sagter gepraat, want hy vat-vat weer aan sy regteroor.

      “Juis, daarom het jy eintlik geen seggenskap nie. Jy kan wel jou geld van Henno terugeis, maar jy en Riaan het geen transaksie aangegaan nie. Solank Henno tevrede is om alles net so te laat, sal jy met ons nuwe reëlings tevrede moet wees,” redeneer hy bedaard.

      “Maar my erfgeld!” krys sy en besluit om nooit weer met Wilhelm te praat nie, want hy laat haar skree.

      “Ek is seker daarvan Riaan sal al die geld wat hy van Henno gekry het om sy boot mee te koop, mettertyd met rente terugbetaal, Erika. Intussen huur ek jou as my huishoudster en sodoende het jy en Henno darem ’n heenkome . . . en julle help sommer vir tant Sophia. Jy het as ’t ware nog jou losieshuis, met dié verskil: ék sal bepaal wie loseerders sal wees. Is dit dan afgespreek, Erika?” vra hy tegemoetkomend, maar Erika weet dis bedrog, want sy oë hou haar met vonkelende leedvermaak dop.

      Sy steek haar neus in die lug, keer haar rug op hom en hoor hom oordrewe sug.

      “So ’n pragtige stem – dis net jou toonhoogtes wat ’n bietjie pla,” terg hy agter haar en maak die deur byna onhoorbaar agter hom toe.

      Sophia lyk soos ’n hoëpriesteres in haar spierwit nagrok waar sy voor haar spieëltafel staan en haar silwergrys hare borsel, dink Erika terwyl sy ná ’n haastige klop die kamerdeur oopstoot en die vertrek binnegaan.

      “Ek is jammer om te pla, Tannie, maar –” begin sy onstuimig.

      “Maar jy pla mos nie, ou kindjie,” val Sophia haar goedig in die rede. “Ek het so pas klein Jackie en die onnutsige Bartel in die bed gesit, en toe dag ek ek sal ook maar kom inkruip, want môre is nog ’n dag. Het jy al klaar uitgepak?”

      “Ja, Tannie, maar slaap Bartel hier by ons? Sal sy ma nie na hom soek nie?” vra sy verras.

Скачать книгу