Meisie in die reën. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Meisie in die reën - Schalkie van Wyk страница 1

Meisie in die reën - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

      

      Schalkie van Wyk

      Meisie in die reën

      Melodie

      1

      Hilgard Geldenhuys pers sy lippe hard saam en kyk met ’n gevoel van stygende ongeduld deur die voorruit van sy motor na die swart veiligheidshek wat, glinsterblink in die najaarsreën, hom met byna menslike leedvermaak toegang weier. Dís waarom hy uit die stad gevlug het: hy was keelvol vir tralies wat hom ingehok het, van hom ’n prisonier en van elke besoeker ’n verdagte gemaak het, dink hy grimmig. As hy tant Alma nie so plegtig beloof het om Marli Conradie te besoek nie, kon hy reeds op pad gewees het Groeneweide toe.

      Hy sal die knoppie van die interkom vir ’n laaste maal druk . . .

      Hy skuif die venster langs hom oop, maar sy kop ruk op toe hy ’n beweging op die sypaadjie regs van hom gewaar. Uitdrukkings van verdwasing en ergernis wissel mekaar snel op sy gelaat af toe hy ’n meisie, kaalvoet in die reën en onbewus van sy teenwoordigheid, aangestap sien kom. Sy is geklee in ’n denimkortbroek en ’n te groot T-hemp wat druipnat aan haar slanke liggaam kleef, haar skouerlengte hare silwerblonde slierte wat halfhartig krul. Haar gelaatstrekke is porseleinfyn, haar lippe vol, en haar lang, donker wimpers wat haar oë versluier, lyk byna swart in kontras met die onnatuurlike bleekheid van haar gesig.

      Hy klim vinnig uit sy motor.

      “Is jy stapelgek, Marli? Die wind is ysig en jy is natter as ’n kat!” sê hy misgenoegd, wil haar aan die arm gryp om haar na sy motor toe te help, maar laat sak sy hand toe sy opkyk. Haar oë is blouer as wat hy dit onthou – die blou van gekneusde viooltjies, wat deur die donker vlekke onder haar oë geaksentueer word. Hy onthou die sprankelende veertienjarige skooldogter van tien jaar gelede, maar die Marli wat voor hom staan, is ’n jong vrou, asemrowend mooi en terselfdertyd so hartseer en verwese dat hy moet veg teen die drang om haar in sy arms te neem en te troos – iets wat hy sedert haar kleuterdae spontaan gedoen het.

      “Hilgard?” Sy klink verwonderd, haar blik soekend oor sy gesig. “Ons het so oud geword,” vervolg sy sag.

      “En seergekry,” antwoord hy, empatie in sy stem, en slaan sy arm beskermend om haar skouers. “Kom klim in my motor. Jy het warm koffie en droë klere nodig.”

      “Ja, dit reën. Dit hoort so. Nou huil ek nie alleen nie,” sê sy, half tot haarself, en laat hom toe om haar in sy motor te help.

      “Hoekom is jy alleen, Marli?” vra hy terwyl sy die sekuriteitshek en een van die motorhuisdeure met haar afstandbeheerder oopmaak. “Tant Alma het geglo jy is saam met jou ouers huis toe na jou ouma Heilet se begrafnis. Sy was bitter ontsteld toe sy gister by jou pa gehoor het jy is ook stoksielalleen hier in jou ouma se huis.”

      “Jy vergeet – dis my huis ook.”

      Hy kyk haar flitsend aan, voel vreemd skuldig, maar daar is geen verwyt in haar oë of stemtoon nie.

      Hy parkeer sy motor in die motorhuis en wil haar ondervra, maar sy klappertand van die koue. “Wys my waar is die kombuis. Ek sal koffie en iets te ete maak terwyl jy vinnig bad of stort. Of het jy al ontbyt gehad?”

      “Ek kan nie onthou wanneer laas ek geëet of geslaap het nie,” antwoord sy belangeloos en hou haar afstandbeheerder en sleutels na hom toe uit. “Ek dink daar is kos in die yskas. As jy melk of brood moet gaan koop – daar is geld in die suikerpotjie wat soos ’n huisie lyk. Dit staan op die yskas.”

      “Ek sal regkom,” antwoord hy gerusstellend terwyl hy haar na die gangdeur toe volg.

      Sy is deurnat en so bitter koud, so oneindig moeg en stukkend binne, maar sy is nie meer alleen nie, dink sy en bly staan toe hulle die breë trap wat uit die ruim ontvangsportaal lei, bereik.

      “Die kombuis is reguit in die gang af, die eerste deur op regterhand.” Sy steek haar hand uit en druk sy arm liggies. “Dankie dat jy gekom het, Hilgard,” vervolg sy effens skor en stap vinnig die trap op.

      Marli sit kruisbeen voor die kaggelvuur in die sitkamer en kyk met honger oë na Hilgard, wat met sy rug leunend teen ’n stoel en sy bene lank voor hom uitgestrek skuins oorkant haar sit en weglê aan sy bord kos. Sy is nie meer alleen nie, fladder die besef weer eens soos ’n speelse strepie sonlig deur digter boomblare deur haar gemoed. Tien jaar . . . maar dit voel soos gister toe sy deel was van die driemanskap: haar broer, Armand, sy boesemvriend, Hilgard, en sy . . . tien jaar jonger en meestal in die pad, maar altyd seker van hulle beskerming.

      Hilgard is selfs aantrekliker as wat sy hom onthou, erken sy teenoor haarself. Hy was altyd lank en breedgeskouerd, maar hy lyk groter, meer gespierd. Tien jaar gelede was sy verlief op hom met die aarselende, skaam liefde van ’n tiener. Sy het hom heimlik dopgehou, haar verkyk aan sy raafswart hare, wat as gevolg van sy gepunte haarlyn altyd terugval oor sy voorkop. Sy onthou sy skerp, geboë wenkbroue, sy sterk, gebeitelde gelaatstrekke, sy hoë wangbene, en die warm gloed in sy swartbruin oë. Die ligte lyne langs sy mondhoeke en die fyn lagplooitjies wat om sy ooghoeke uitwaaier, vertel haar hy is ouer, en die selfversekerdheid in sy stem en houding bevestig sy sukses as effektemakelaar.

      “Waarom is jy nog nie getroud nie?” vra sy impulsief, en bloos vuurrooi toe hy met dansende lag in sy oë opkyk. “Jammer. Ek was sommer net nuuskierig,” maak sy selfbewus verskoning.

      “Eet jou kos klaar, dan vertel ek jou, klein agie,” terg hy.

      “Ek dink ek het verleer om te eet, want al wil ek, kan ek nie meer nie. Maar die omelet was heerlik, dankie, Hilgard. Jy het gereeld vir my en Armand . . . vir ons omelette gemaak,” eindig sy haastig en verwens haarself daaroor dat sy na Armand verwys het. Sy hou haarself besig met haar bord en eetgerei en vra sonder om op te kyk: “Sal ek vir ons gaan koffie maak?”

      “Kyk na my, Marli,” versoek hy gedemp.

      Sy gehoorsaam onwillig, kyk in die donker dieptes van sy oë en onthou haar ontwakende liefde as ’n tiener, ervaar die bekende hunkering na iets wat nooit sal wees nie en lag gedwonge. “Ek hét al gekyk – jy is nog nie grys nie,” probeer sy spot.

      “Na Armand se dood . . . Ek het nege of tien keer vir jou geskryf en –”

      “Ek het nooit één brief gekry nie!” val sy hom in die rede.

      Hy sug en staar oomblikke lank stilswyend na die sluimerende vuur in die kaggel voor hy hom weer na haar wend. “Ek weet. My laaste brief was aan jou pa, maar jou ma het dit beantwoord,” vertel hy eindelik.

      “My arme ma was so gebroke oor Armand se dood . . . Na sy begrafnis het sy geweier om ooit weer oor hom te praat en ek en my pa het ook sy naam verswyg. As haar brief dalk onvriendelik was . . . As sy jou ouers dalk . . . dalk . . .”

      Hy glimlag wrang, flitsend. “Sy het my pa verantwoordelik gehou vir Armand se dood. Ek gee toe – my pa was die vlieënier van die ligte vliegtuig, maar hy het nie opsetlik in die berg vasgevlieg nie. Die ondersoek het getoon daar was ’n meganiese fout, en niemand was vir my ouers of Armand se dood verantwoordelik nie. Jou ma het hulle dood na selfmoord en moord laat klink. Is dit wat jy ook glo, Marli?”

      “Nee! Hoe kan jy so iets vra, Hilgard? Het jy vergeet jou ouers was vir my soos eie ouers? Ek was lief vir hulle en ek het oor hulle dood gerou soos wat ek oor Armand gerou het . . . en oor jou.” Sy lees die vraagteken in sy oë en verduidelik: “Ek het meer as net ’n broer verloor. Groeneweide en sy mense, tant Alma en jy, my ander groot broer, het binne ’n oogwink uit my lewe verdwyn. Ek en my ma het hier by my ouma Heilet gekuier, en toe ons weer

Скачать книгу