Meisie in die reën. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Meisie in die reën - Schalkie van Wyk страница 5

Meisie in die reën - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

Ek wou boer, maar ek het besef ek het die kapitaal nodig om al die verbeterings aan te bring wat ek beoog. Ek en Armand het tydens ons hoërskooljare al in die effektebeurs en aandele belanggestel, daarom is ek universiteit toe om ’n effektemakelaar te word. Rekeningkunde, ekonomie . . . Ek kan my kennis ook in my boerdery op Geldenweide gebruik.”

      “Jy is terug op Geldenweide, sommer by tant Alma?” sêvra sy met blye verrassing.

      “Dis die gerief van die opstalle van Geldenweide en Drie Werwe: hulle is langs mekaar en vorm die oostelike grens van Groeneweide. Ons is boere wat op die dorp woon!”

      “Is jy al lank terug op Geldenweide?” vra sy terwyl sy hulle kos na die ontbythoekie toe dra.

      “Minder as ’n maand.” ’n Glimlag lig sy mondhoeke. “Selfs tant Alma weet nog nie dat ek van plan is om permanent te boer nie. Ek wou eers die kat goed uit die boom kyk, seker maak dat ek wel van my rol as boer gaan hou.”

      “En?” vra sy toe hy oorkant haar aan die tafel plaasneem.

      “Ek geniet dit selfs om vieruur soggens op te staan! Ek gaan beslis bly. Maar intussen: eet jou kos, voordat jy my verplig om jou met ’n teelepel te voer.”

      “Ja . . . ek sal,” antwoord sy, eet werktuiglik, maar proe nie wat sy eet nie. Sy stel nie in kos belang nie – nie met Hilgard wat oorkant haar sit en ongekende emosies deur haar binneste jaag nie. Sy wil net na hom kyk, sy gelaatstrekke een vir een met haar oë streel, sy breë skouers en gespierde arms bewonder en na die diep, welluidende resonansie van sy stem luister. As sy net aan hom kan raak . . .

      Nee, nee, sy is nie meer normaal nie. Sy is vier-en-twintig en sy was nog altyd in beheer van haar emosies, selfs toe sy geglo het sy voel aangetrokke tot Frans. Maar sy is bang vir haar bandelose begeerte om in Hilgard se arms te wees, deur hom gesoen en geliefkoos te word. Het sy eensklaps al haar selfrespek verloor? wonder sy ontsteld.

      “Jy eet nie, asjas,” raas hy kamma. “En jy het my nog nie vertel of jy reeds jou tasse gepak het nie.”

      “Ek eet,” antwoord sy, kou en sluk vinnig ’n paar mond­jiesvol en sê gejaagd: “Ek het gedink . . . besluit ek sal volgende week met my eie motor Groeneweide toe ry. Ek . . .ek het nog ’n paar sake om af te handel.” Ja, dis beter so, dink sy verlig. Sy het ’n week nodig om nugter oor haar gevoel vir Hilgard te dink. Sy sal vanaand vroeg gaan slaap en môreoggend sal sy weer die ou Marli wees.

      “Gaaf. Ek kan tot volgende week wag,” sê hy ongestoord en staan op. “Verskoon my, asseblief. Ek maak solank vir ons iets te drinke.”

      “Maar . . . maar wat van al jou plaaswerk?” maak sy hulpeloos kapsie.

      “Ek het ’n knap voorman en betroubare arbeiders, maar selfs al was dit nie die geval nie – jy kan nie alleen die ver pad Groeneweide toe aanpak nie,” antwoord hy met finaliteit.

      “As ek net bedags ry en snags in ’n hotel –”

      “Nee, Marli,” val hy haar ferm in die rede. “Jy is dalk nie meer die fraai, pienk babatjie met die wit haartjies nie, maar ek voel nog soos jou ridder wat jou kleintyd beskerm het. Dis doodeenvoudig te gevaarlik vir jou om alleen die lang pad af te lê, maak nie saak hoe betroubaar jou motor is nie. Jy kan in jou motor ry as jy wil, maar ek sal op jou hakke wees. Pas dit jou?”

      “Dis so ver . . .” Sy byt op haar onderlip en bloos betrap. “Ek bedoel, ek sien nie kans om reeds vanmiddag self te ry nie. As ek ’n paar nagte goed geslaap het, sal ek makliker kan bestuur.”

      Hy plaas ’n beker koffie voor haar neer en neem weer op sy stoel plaas. “Hoe goed gaan jy stoksielalleen in hierdie kasarm van ’n huis met al jou hartseer herinneringe slaap? Hoe gereeld gaan jy eet? Wees eerlik, Marli: jy het ’n vakansie nodig. Meer as dit – ’n vakansie by die liewe tant Alma wat jou sal vertroetel en bederf totdat jy nie meer soos ’n verdwaalde spookasempie lyk nie.”

      “Dankie! Ek het nog nooit so gevlei gevoel nie!” sê sy gekrenk.

      Hy lag haar goedig uit. “Jy het ’n spieël en oë . . . Maar aan die ander kant: daar is soveel onskuld in jou uitdrukking dat jy moontlik onbewus is van jou skoonheid.”

      “Onskuldig – ek?” vra sy ongelowig, innig dankbaar dat haar uiterlike nie haar verwarrende emosies verraai nie.

      “Onbetwisbaar, ja,” antwoord hy terwyl sy blik tydsaam oor haar gly. “Jy het nie dikwels saam met mans uitgegaan nie?” vra hy.

      ’n Skaam glimlaggie fladder om haar lippe. “Nee . . . Ek dink ek het al my selfvertroue en sprankel in die stad verloor. Op skool was ek sku vir seuns, en toe ek universiteit toe is, het ek onbewustelik met my ma se akademiese prestasies gekompeteer. Ek móés doodeenvoudig al my vakke met die hoogste lof slaag, anders sou ek soos ’n mislukking gevoel het. En na oupa Fanus se dood het ouma Heilet al my aandag vereis. Ek het soms uitgegaan, maar my verhoudings was nooit ernstig nie, behalwe . . .” Sy swyg, ’n ligte frons kepend tussen haar wenkbroue.

      “Hy verwar jou en laat jou ongelukkig lyk. Los hom!” skerts hy.

      “Jy verstaan nie, Hilgard. Frans is . . . Dis die interkom.”

      Hy staan vinnig op en laat rus sy hand op die gehoorstuk van die interkom. “Verwag jy gaste, Marli?”

      “Dit kan net Frans wees, want hy het gesê hy kom weer inloer. Maak maar die hek oop, asseblief,” versoek sy, jammer dat Frans se teenwoordigheid die intimiteit van haar en Hilgard se kuiertjie gaan onderbreek, maar terselfdertyd bly dat haar vriendskap met Frans sal verhoed dat Hilgard agterkom hoeveel sy vir hom omgee.

      “Gaan jy nie jou gas tegemoetloop nie?” vra hy toe hy weer aan die tafel plaasneem om sy koffie klaar te drink.

      “Hy stap altyd deur die huis na die sitkamer toe. Kom jy saam?” nooi sy hartlik.

      Hy kyk haar wantrouig aan. “Só gretig om my aan die liefde van jou lewe voor te stel, Marli? Ek sou liewer solank jou tasse in my motor wou laai. As ons binnekort ry, kan ons op Colesberg oornag en môremiddag teen etenstyd op Groeneweide wees.”

      Sy glimlag onnutsig. “My bagasie staan gereed aan die bopunt van die trap. As jy so graag arbeider wil speel, sal ek Frans intussen inlig oor my vakansieplanne. Kom roep my sodra jy gereed is om te ry.”

      “Slim meisie. Maar eers sal ek seker die vervlakste skottelgoed moet was!” antwoord hy kamma vies en dra die breekgoed en eetgerei met ’n oordrewe sug na die opwasbak toe.

      Marli glimlag flitsend toe Frans die sitkamer binnekom en beweeg opsetlik om die rusbank na die venster met ’n uitsig oor die tuin. “Hallo, Frans. Die plante lyk so vars en skoongewas na die onverwagte reën vanoggend. Sal ons buite gaan sit?”

      “Hallo, my liefste,” groet hy asemrig, sluit by haar aan en plaas sy arms besitlik om haar. “Ek kyk liewer na jou, want jy is mooier as enige blom.”

      “Daar is niks mooi aan die donker vlekke onder my oë nie, maar dankie vir die kompliment. Kom ons gaan sit. Ek het iets om jou te vertel,” antwoord sy, beur weg van hom af en verstyf toe sy lippe dringend op hare rus. Sy ruk haar kop weg, druk met haar handpalms teen sy bors en stoot hom liggies weg. “Asseblief, Frans. Ek het vanoggend vir jou verduidelik hoe ek oor ’n ernstige verhouding voel.”

      “Jammer, my liefste. Ek sal meer selfbeheersing toepas, maar as ’n man liefhet

Скачать книгу