Trompie Omnibus 2. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith страница 1

Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

      Trompie

      Omnibus 2

      Trompie die hoërskoolseun

      Trompie die dromer

      Trompie die speurder

      Topsy Smith

      Human & Rousseau

Trompie die hoërskoolseun 04.tif

      1

       Trompie en Rooie

      Trompie het graad sewe geslaag. Hy is uiteindelik klaar met laerskool. Sy pa het vir hom ’n fiets as beloning gegee. Noudat hy vinniger en verder van die huis af kan wegkom, is daar natuurlik soveel meer kanse om kwajongstreke aan te vang!

      Die jaende gedaante op die rooi gevaarte is deesdae ’n bekende gesig op die dorp Kwaggaberg. Ja, Trompie het sy nuwe fiets rooi geverf – “Anders kan die mense die ding mos nie sien nie!” het hy vir sy pa gesê.

      Blikkies het ook ’n fiets – óók ’n rooie. Die besadigde, ewig kouende seun wou nie sy fiets rooi verf nie, maar die reg om oor so ’n belangrike saak te besluit is hom ontneem toe Trompie die fiets eendag sonder sy medewete onder hande gekry en begin verf het. Blikkies was vies, maar wat kon hy doen?

      Daar is dus nou twee rooi fietse op die stil dorpie aan die voet van die berge. Dit is nog maar net drie weke, maar die inwoners loop al klaar versigtig wanneer hulle die vlieënde gedaantes in die strate opmerk. Ondervinding is die beste leermeester.

      Rooie en klein Dawie, die ander twee lede van die Boksombende, is glad nie in hul skik met die fietse nie. Hulle voel Trompie en Blikkies is geldwolwe wat op hulle neersien en hulle net as gewone simpel voetgangers beskou. Dawie gaan gelukkig ook ’n fiets kry, maar eers later, wanneer die skool begin.

      Die fietse veroorsaak deesdae baie onenigheid tussen Trompie en sy maats. Hy en Blikkies moet Rooie en Dawie oral op hul fietse saamkarwei. Die probleem is, Rooie is baie swaar en die tengerige Dawie is veerlig, so Trompie en Blikkies stry alewig oor wie vir wie gaan oplaai. Hulle al twee wil vir Dawie hê.

      Met die lang somervakansie het sake só erg geword dat Rooie vir die eerste keer wat Trompie kan onthou ’n vergadering aanvra. “In ons fort,” voeg Rooie by en skop na ’n graspol met sy skurwe regtervoet. Hy het duidelik iets op sy hart.

      “So?” Trompie lig sy wenkbroue. “En wie wil dit nogal hê?”

      “Ek.” Rooie skop weer na ’n graspol. “Ek wil groot dinge gesels.”

      Hy besef ook dit is ongehoord dat hy vra hulle moet vergadering hou. Dit is mos altyd Trompie wat ’n vergadering belê as hy die ander drie iets ampteliks wil meedeel.

      Trompie brand van nuuskierigheid om te weet wat die “groot dinge” is waaroor Rooie wil gesels. Hy stem in, maar doen dit met só ’n hooghartige houding dat sy maat goed moet verstaan hy bewys hom ’n groot guns.

      Die Boksombende se Grootkaptein stap ingedagte deur die veld na die ou waenhuis net buite die dorp. Dit is hul fort – die plek waar hulle altyd bymekaarkom.

      Trompie sou verkies het om op sy fiets te ry, maar daar is nie ’n voetpaadjie na die ou murasie toe nie. Sy pet sit windmakerig skeef op sy kop. Sy kakiehemp hang agter by sy broek uit. Sy kouse lê op sy skoene. Hy loop onwillekeurig en skop na klippe en graspolle.

      Sy sproetgesig is geplooi. Hoekom wil Rooie hê hulle moet vergadering hou? Trompie kan sommer aanvoel daar is moeilikheid. “Maar ek sal hom gou op sy plek sit,” brom hy en stap vinniger.

      Dit is warm. Trompie se hond, Boesman, draf lui-lui langs sy baas. In die ou waenhuis gaan sit die seun op ’n paraffienkissie. Boesman draai so ’n paar keer in die rondte en dan plof hy in die skaduwee van die muur op die grond neer.

      ’n Paar sonbesies zoem eentonig, verder is dit doodstil. Skielik word die stilte verbreek deur ’n gefluit – ’n hoë noot gevolg deur ’n lae een. Dit is die Boksombende se sein. Trompie fluit op dieselfde manier terug.

      ’n Lang, skraal seun kom stadig aangestap. Hy gaan sit op ’n kissie en kou ’n grashalmpie. Toe hy gemaklik met sy rug teen die muur sit, sê hy: “Hallo, Trompie.”

      “Hallo, Blikkies.”

      Blikkies kyk na die hond, spoeg sy grashalmpie uit en sê: “Haai, Boesman.”

      Die hond lig sy kop, klap ’n paar keer met sy stert teen die grond, en dan is dit weer stil.

      “Waaroor gaan vandag se vergadering?” vra Blikkies en strek hom uit om nog gemakliker teen die muur te lê.

      “Ek wonder self ook. Rooie wil met ons praat,” sug Trompie.

      Die twee sit ernstig en dink. Albei wonder wat hul maat op die hart het.

      ’n Gefluit – ’n hoë noot, dan ’n lae een.

      Rooie en klein Dawie kom om die hoek van die ou murasie.

      “Jis, julle bere,” sê Dawie en sy ondeunde oë vonkel.

      Al vier seuns sit nou op kissies. Trompie byt op sy onderlip en wikkel sy wenkbroue op en af sodat almal kan sien hy is vies. Ja, hy is sommer die joos in. Hy is die kaptein. Hy is die een wat ’n vergadering moet belê.

      Blikkies se sitvlak is op die kissie, sy bene lank voor hom uitgestrek, sy rug teen die muur. Was dit nie vir sy kakebene wat ritmies op en af beweeg soos hy ’n grashalmpie kou nie sou ’n mens gedink het hy is vas aan die slaap.

      Dawie is tengerig en twee jaar jonger as die ander drie. Hy tel ’n klip op en gooi dit vir Boesman om te gaan haal. Die hond blaf net een keer en dan sit hy sy kop tussen sy pote neer. Hy is nie lus om in die hitte klippe te jaag nie.

      Rooie se sproetgesig lyk ernstig en bekommerd. Hy staar stip na sy skurwe voete. Sy pa is die skoenmaker op Kwaggaberg, maar daar is selde skoene aan Rooie se voete.

      Blikkies verander effens van posisie en vra lui: “Wanneer begin die vergadering, Trompie?”

      “Kan jy nie sien ek dink nog hoe om die ding te open nie?” snou Trompie hom toe. “En wie’s jou Trompie?”

      “Goed dan – Kaptein.”

      Trompie is baie gesteld daarop dat sy drie maats hom as Kaptein moet aanspreek wanneer die Boksombende amptelik vergader.

      Uiteindelik staan die Grootkaptein op. Hy maak keel skoon. Dit is mos altyd effektief. Die ander drie kyk na hom.

      “Is ons almal hier?” vra die hy en tel hulle. Ja, al vier is teenwoordig. Rooie dink dit is belaglik dat Trompie hulle altyd eers moet tel. Hy kan mos sommer sien hulle is almal hier.

      “Manne van die Boksombende,” sê Trompie en hy laat sy stem so effens tril, “vir die eerste keer vandat ons deur dik en dun, deur gevare en probleme saamgestaan het, vergader ons vandag hier onder die blou hemel, nie omdat ek julle byeengeroep het nie, maar omdat een van ons kastig iets op sy hart het.”

      Trompie bly stil. Hy bewonder

Скачать книгу