Trompie Omnibus 2. Topsy Smith
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith страница 3
Die seun met die skurwe voete staar mismoedig voor hom uit.
“Maar Rooie …” sê Trompie.
“Wag, laat ek klaar praat.”
Verslae sit Trompie, Blikkies en Dawie en luister.
Rooie praat oor hul vriendskap die afgelope jare. Hy herinner hulle aan al die avonture wat hulle al saam beleef het – die gedoente met Dominee se bobbejaan, die stokkiesdraaiery in die kloof, hoe hulle vrugte gaan gaps het by die kwaai oom Suurknol, hoe hulle saamgestaan het toe Trompie so siek was, hoe Trompie vir hom wat Rooie is eendag ’n blouoog gegee het.
Dit is duidelik dat Rooie al dae lank oor hierdie dinge nadink.
“En nou,” sê hy, “is ons klaar met laerskool en ons gaan hoërskool toe. Ons vier het al die jare saam skool toe gestap en ná die tyd saam terug huis toe gekom. Maar hoe gaan ons nou hoërskool toe? Julle drie gaan fietsry en ek sal moet loop.”
“Ons sal jou oplaai!”
“Nee, dan stry julle net weer oor wie my moet vat.”
Trompie en Blikkies voel skuldig. Dawie staar ingedagte voor hom uit. Hy voel nie skuldig nie, maar hy ys by die gedagte dat Rooie nie meer hul maat sal wees nie.
Die ander twee wil ook nie eens aan so iets dink nie. Rooie is een van hulle en dit moet so bly.
“Het … het jy jou pa al reguit gevra vir om jou ’n fiets te koop, Rooie?”
“Ja, maar hy’t nie geld nie. En hy sê ook hy glo nie aan fietse nie.”
Trompie se pa is ’n bankbestuurder op die dorp. Blikkies en Dawie se pa’s is albei sakemanne. Rooie se pa is ’n hardwerkende skoenmaker. Die drie seuns besef nou vir die eerste keer vaagweg dat hulle meer bevoorreg as Rooie is omdat hul pa’s meer geld as syne verdien.
Die Boksombende se Grootkaptein kry ’n nare gevoel op die krop van sy maag. Rooie is sy vriend. Hy sien hoe Rooie styf op sy onderlip byt en dit lyk of sy oë blink. Nee, besluit Trompie, hy sal nie toelaat dat so iets tussen hulle kom nie! Maar wat gaan hulle doen?
Uiteindelik sê hy met ’n hees stem: “Rooie, jy is my vriend en jy gaan dit vir altyd bly.”
“Myne ook,” sê Blikkies.
“En myne,” piep Dawie.
“Ek weet, ouens,” sê Rooie, “maar noudat julle op julle fietse rondjaag, voel ek so bietjie, julle weet – uitgestoot.” Hy glimlag moedig.
“Jy moet nooit so voel nie,” sê Trompie hard. “Jy’s een van ons!”
“Ek weet,” sê Rooie sag, “maar ek reken noudat drie uit die vier lede van die Boksombende fietse het, moet die vierde een maar liewer uit. Daar is nie meer plek vir hom nie.”
“Nonsens!” snou Trompie hom toe.
“Dis wat ek ook sê,” beaam Blikkies.
“En ek!” voeg Dawie by.
“Rooie …”
“Ja, Trompie?”
Daar is ’n ver kyk in Trompie se oë. “Ons gaan ’n plan maak. Ons sal sorg dat jy ook ’n fiets kry!”
“En sommer gou.” Blikkies spoeg sy grashalmpie uit.
“Vir seker,” sê Dawie.
“Kyk, julle bere,” sê Rooie en sy stem is hees, “julle praat nou van iets wat onmoontlik is. Julle weet tog self ’n fiets kos ’n hoop geld.”
“Ja, maar as Trompie sê ons gaan ’n plan maak, sal alles regkom,” paai Dawie. “Jy ken mos vir Trompie. Het hy al ooit gesê hy sal iets doen en dit dan nie reggekry nie, hè?”
“Ja, maar hierdie storie is heeltemal anders …”
“Ek sê jou, Rooie, ons gaan vir jou ’n fiets kry!” sê Trompie beslis.
“Hoe?”
“Ek weet nog nie, maar ons sal ’n plan maak.”
Trompie het sowaar al weer belowe om iets aan te pak wat baie moeilik gaan wees om uit te voer. Rooie is heeltemal reg. ’n Nuwe fiets is ’n duur ding. Waar op aarde gaan hy, Blikkies en Dawie ooit genoeg geld vandaan kry?
“Los dit liewer,” sê Rooie. “Ons het nog nooit probeer om geld in te samel nie. Ons kon verlede jaar nie eens genoeg kry om vir die sirkus te betaal nie.”
“Ons het nog steeds daar ingekom!”
“Maar ons het nie betaal nie. En nog ’n ding, Trompie,” gaan Rooie verder, “sê nou julle pa’s wil help om vir my ’n fiets te koop? Ek sê nie hulle sal nie. Ek sê net, sê nou hulle wil – dan sal my pa nooit ja sê nie. Hy sê hy kan goed genoeg vir sy gesin sorg met sy twee hande.”
Ja-nee, dink Trompie, sy vriend se pa is baie trots en koppig. Hy sê egter beslis: “Vergeet van hierdie hele fietsbesigheid, Rooie. Ek belowe ons sal jou oral saamvat en nooit weer stry oor wie jou moet oplaai nie. En ek belowe jy gaan een van die dae jou eie fiets hê – nog voor die skool begin!”
“Dankie, ouens,” sê Rooie. “Ek sal nie weer kla nie. Maar los liewer die idee om vir my ook ’n fiets te kry. Dis hopeloos.”
Rooie staar voor hom uit. Sy oë blink. Hy voel vir die eerste keer sy gesin is nie van die gegoede klas nie en dat dit miskien nog die einde van hulle vier se vriendskap gaan beteken.
Hy staan op en mompel: “Ek moet my pa in die winkel gaan help.”
Rooie stap vinnig weg. Die ander staar hom agterna. Hy lyk alleen en verlate soos wat hy al verder wegbeweeg. Hy knip die nattigheid in sy oë weg. Hy moet vergeet daarvan om ’n fiets te wil hê. Dit sal tog nooit gebeur nie.
2
Trompie die sakeman
Dié aand is Trompie buitengewoon stil by die huis. Hy dink diep – dit gaan harde werk kos om vir Rooie ’n fiets te kry!
Meneer Toerien sit en koerant lees. Mevrou Toerien sit en lees. Trompie se suster is fliek toe. Hy kan nie verstaan wat die kêrels aan Anna sien nie. Dis nou weer ’n jong boer van die distrik wat aanhoudend by haar kom kuier. Hy is glo ryk. Sy naam is Piet de Wet.
Trompie het nog nie veel met hom te doen gehad nie. Sy suster het hom die dood voor die oë gesweer as hy ooit by hulle in die geselskap kom sit. Asof hy wat Trompie is alewig moleste maak! Hy weet mos hoe om hom in geselskap te gedra.
Trompie dink daaraan dat hy miskien