Trompie Omnibus 2. Topsy Smith
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith страница 2
“Ook g’n verstand nie,” mompel Trompie en toe, omdat hy nie weet wat om verder te sê nie, sê hy: “Ek kan nog baie groot dinge met julle praat as ek wil, maar ons beter nou stem of ons Rooie ’n kans gaan gee om sy sê te sê of nie.”
Trompie kry alles gereed vir die groot stemmery. Hy haal ’n stukkie opgefrommelde papier en ’n kort, stomp potlood uit sy hempsak. Hy het dit spesiaal saamgebring. Hy weet mos wat is die regte prosedure by vergaderings.
Hy stryk die papier voor hom op die kissie oop. Dan lek hy die potloodpunt met die punt van sy tong. Hy skryf stadig. Elke keer hou hy op om die potlood se punt weer te lek. Bo-aan die papier skryf hy:
Dié wat sê Rooie mag maar praat.
Trompie kyk trots na sy werk. Dan loer hy na die ander drie om te sien watter uitwerking dit op hulle het. Ja-nee, hulle lyk beïndruk. Hulle hou hom belangstellend dop terwyl hy ’n tweede sin skryf:
Dié wat sê Rooie mag nie praat nie.
Daar word dik strepe onder die sinne getrek. So ja, Trompie is nou reg vir die stemmery. Hy staan op en maak weer keel skoon.
“Manne, dit is ’n groot saak waaroor ons stem en julle moet mooi dink voor julle hande opsteek.”
Hy gee hulle ’n tydjie om mooi te dink en dan sê hy met sy stem so grof as moontlik: “Dié wat sê Rooie mag maar praat, steek op julle hande.”
Dawie se hand is hoog in die lug. Hy kyk op daarna en wikkel sy vingers asof hy vir iemand tot siens waai.
Blikkies se elmboog rus op sy maag, sy voorarm is reguit, en hy wys met die een vinger.
Rooie stem ook. Sy hand is net ’n entjie opgelig en styf voor hom uitgestrek.
Trompie tel die drie versigtig. Dan steek hy sy hand ook op.
“So ja,” sê hy en maak die potloodpunt weer met sy tong nat, “dis vier wat stem dat Rooie maar mag praat.”
Hy skryf die getal vier onder die opskrif: Dié wat sê Rooie mag maar praat.
Dan kom hy regop en sê: “Nou dié wat sê Rooie mag nie praat nie.”
“Dis mos onnodig, Trompie,” sê Blikkies. Toe hy sien hoe woes Trompie hom aangluur, sê hy vinnig: “Ag, ek bedoel Kaptein. Ons weet mos niemand kan stem dat Rooie nie mag praat nie, want almal het al klaar gestem dat hy mag.”
“Ek weet, maar dit het niks met die saak te doen nie. Alles moet reg en volgens die reëls gaan. Dié wat sê Rooie mag nie praat nie, hande in die lug.”
Niemand steek natuurlik hand op nie.
“So ja,” sê Trompie tevrede. Hy lek die potloodpunt weer en onder die opskrif “Dié wat sê Rooie mag nie praat nie” maak hy ’n mooi ronde nul.
“Baie dinge het al by hierdie vergadering verkeerd gegaan,” mompel Blikkies.
“Soos wat?” Trompie wikkel sy neus op en af.
“Wel,” sê Blikkies en verskuif die grashalmpie in sy mond behendig van die een kies na die ander, “Rooie mag nie gestem het nie en jy mag ook nie gestem het nie.”
“Wie sê so?” vra Trompie vies.
“My pa.”
Blikkies se pa is ’n man wat baie op politieke en ander vergaderings praat. Trompie is effens van stryk af.
“My pa sê,” verduidelik Blikkies, “mens mag nie stem as jy iets te doen het met die goed waaroor daaroor gestem word nie. En ’n voorsitter mag ook nooit stem nie. Jy is ons Kaptein, so jy’s ons voorsitter wanneer ons vergadering hou.”
Trompie stem net oor een ding saam. Hy ís die voorsitter.
“Ek is julle Kaptein,” sê hy saaklik, “en ek sê ons kan almal stem. So nou het ons gestem.” Trompie trek sy skouers op om te wys die saak is hiermee afgehandel.
Hy kyk weer na die papier waarop hy geskryf het. Dit is tyd om die uitslag van die stemmery bekend maak.
“Vier lede van die Boksombende stem dat Rooie maar mag praat en niemand stem dat hy nie mag praat nie. Hy kan nou sê wat hy op die hart het,” kondig Trompie formeel aan en gaan sit.
Rooie staan op. Hy is ’n frisgeboude knaap van twaalf, net so oud soos Trompie en Blikkies. Hy trap-trap rond. Dan brom hy: “Ek’s nie ’n ou wat baie praat of na nonsens luister nie, maar ek het dinge wat ek wil sê …”
“Watse dinge?” vra Trompie.
“Dinge wat nou gesê moet word, want ek voel dit moet uit.”
“Nou hoekom sê jy dit dan nie?” vra Blikkies lui en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog uit.
“Wel, ek wil net sê,” gaan Rooie ná ’n paar oomblikke verder, “dinge is heeltemal omgekrap vandat julle twee fietse het en Dawie ook een gaan kry.”
Die drie kyk hul vriend verbaas aan.
“Hoe bedoel jy?” vra Trompie.
Die seuns kan sien Rooie is ernstig. Hy staan en sluk-sluk. Skielik gaan sit hy en mompel: “Vir wat moet ek staan? Julle is mos my vriende.”
Al drie knik. Rooie is reg. Hulle is sy vriende.
“Kyk,” sê hy dan skor, “ons ouens is al van graad vier af maats, nè?”
“Dis waar,” sê Trompie. “Ons is nog al die jare maats en ons sal altyd vriende bly.”
“Wel,” sê Rooie en dit lyk of sy hande effens bewe, “dis wat ek op my hart het. Ek dink nie ons gaan meer vir lank vriende wees nie.”
“Wat is jou probleem?” vra Trompie.
“Hoekom gaan ons nie meer vriende wees nie?” vra Dawie in sy piepstemmetjie.
“Sê nou jou sê,” por Blikkies aan terwyl hy ’n grashalmpie uit ’n graspol pluk en begin kou.
“Ek voel ek wil nie meer aan die Boksombende behoort nie,” sê Rooie terwyl hy strak na sy voete kyk.
“Maar wat is jou probleem?” vra Trompie weer.
“Ons was altyd groot maats,” sê Rooie en hy klink kwaad. “Ons het al partykeer met mekaar baklei, maar ons het nog altyd soos een man saamgestaan.”
Die drie knik soos een man. Dis waar. Hulle het nog altyd saamgestaan.
“Maar nou het alles verander,” gaan Rooie verder. “Julle ouens het fietse en ek nie. Julle jaag op die goed rond en ek …”
“Maar Rooie,” sê Trompie, “ons vat jou mos altyd saam.”
“Ja,