Trompie Omnibus 2. Topsy Smith
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 2 - Topsy Smith страница 9
Almal knik vasberade.
“Begin!”
Die klomp seuns val weg! Dis ’n gewerskaf soos wat daar seker nog nooit vantevore in die Toeriens of enige ander gesin in Kwaggaberg se tuin was nie.
Die seuns werk hard en vinnig. Elkeen dink aan die vyftig rand wat hy miskien kan wen.
In die skaduwee sit Trompie gemaklik met sy rug teen die peperboom se stam. Blikkies lê uitgestrek langs hom. Dawie sitlê en kyk hoe die twintig seuns swoeg. Die drie is hoog in hulle noppies.
“Ou Trompie,” sê Dawie en grinnik, “as jy so slim met jou skoolwerk is soos met al jou planne sal jy wraggies eerste in die klas staan, in plaas van amper laaste.”
“Ja-nee,” sê Trompie trots, “al sê ek dit nou ook self, ek glo nie iemand anders sou ooit aan so ’n skitterende plan gedink het nie.”
Die drie sit heerlik in die skaduwee en lag vir party van die seuns wat maar sukkel om die welige onkruid baas te raak.
“Kyk hoe sweet ou Gerhard al,” sê Trompie. “Dit sal hom goed doen om vir ’n verandering bietjie harde werk te doen.”
“Jy weet, Trompie,” sê Blikkies en pluk ’n grashalmpie uit ’n graspol en begin kou, “ek verstaan nog nie hoekom die wenner net vyftig rand kry nie. Jou pa gaan jou mos meer as dit betaal.”
“Ja, maar van dit gaan nog vir die deposito en van dit moet vir ons ook gaan,” sê Trompie ondeund.
“Hoe bedoel jy”
“Ons moet mos iets vir ons moeite kry. Ons het dan al die organiseerwerk gedoen.”
Blikkies en Dawie wens Trompie van harte geluk met sy wyse besluit. Ja-nee, sodra die seuns klaar gewerk het, gaan hulle drie sommer pakke lekkers koop.
Dit lyk of almal min of meer ewe vinnig werk. Nie meer lank nie, dan is die stuk grond skoon.
Ná omtrent ’n halfuur skree een ou opgewonde: “Ek’s klaar!”
Trompie en sy twee maats stap na hom toe. Hulle moet eers inspeksie doen en kyk of hy die werk ordentlik gedoen het.
Terwyl hulle na hom toe stap, skree twee ander amper gelyktydig dat hulle klaar is, en toe nóg een. Die hele klomp is omtrent gelyk klaar. Die bossies en onkruid is skoonveld!
Voor almal oorhandig Trompie die wengeld aan die glimlaggende ou wat eerste klaar was.
“Sien julle,” sê Trompie, “ek is nie ’n kroek nie.”
“Hei, Trompie,” sê Gerhard Moerdyk skielik.
“Ja?”
“Terwyl ek so hard gewerk het, het ek baie gedink …”
“So? Ek het nie geweet jy kan dink nie!”
“Ek het gedink – ek wonder hoeveel betaal jou pa jóú om hierdie grond skoon te maak.”
“Dit,” sê Trompie, “is mý besigheid.” Dan sê hy vir almal: “Baie dankie, ouens. Ek is jammer ek het nie genoeg geld om vir julle almal pryse te gee nie.” Hy swaai sy arm deur die lug soos ’n koning wat sy onderdane goedgunstiglik verlof gee om te gaan.
Meneer Toerien staan dié middag toe hy van die werk af kom verbaas na die skoon stuk grond en kyk. Hy kan dit nie glo nie.
Toe hy in die sitkamer kom, wag Trompie hom met ’n breë glimlag in.
“Hoe lyk dit, Pa – tevrede?”
“Ja, baie. Maar hoe op aarde kon julle drie so vinnig gewerk het?”
Trompie se ma en sy suster is nou ook in die sitkamer. Hy vertel opgewonde vir hulle van sy briljante plan – van hoe die klomp seuns geswoeg het en hoe hy en sy twee maats lekker in die skaduwee gesit het.
Meneer Toerien lag en oorhandig ’n paar note aan Trompie. Mevrou Toerien skud haar kop en sê: “Dit is seker in orde, maar ek voel tóg daar is iewers iets verkeerd … Ek weet net nie wát nie.”
“Niks is verkeerd nie, Ma,” sê Trompie. “Daar was mos nie ’n kullery nie. Die ou wat gewen het, het sy geld gekry.”
“Wat gaan jy maak met dit wat oorbly ná jy die vyftig rand afgetrek het, Trompie?” wil Anna weet. “Dis mos baie geld.”
Die seun kyk haar verbaas aan.
“Weet jy dan nie dis vir Rooie se fiets nie?”
Dié aand tel Trompie die geld in die blikkie. Daar is presies genoeg vir die deposito. Môreoggend wanneer oom Jorrie sy winkel oopmaak, gaan hy en Dawie en Blikkies daar wees!
En dit ís toe ook die volgende oggend so. Die oomblik wat meneer Jordaan sy winkeldeur oopsluit, stap die drie seuns in.
“Môre, Oom,” sê Trompie glimlaggend en speel met die geld in sy broeksak. Dawie en Blikkies groet ook vriendelik.
Die eienaar groet hulle effens nors. Hy het nie goed geslaap nie.
“Ons kom die fiets koop, oom Jorrie,” kondig Trompie opgewonde aan en hy haal die geld uit sy broeksak.
Die oubaas tel die geld versigtig. Dit is die regte bedrag.
Maar dan loer hy oor sy bril na die drie seuns wat hom so gretig staan en dophou en sê: “Voor ek die geld vat, moet jy eers hierdie vorm vir jou pa neem, Trompie. Hy moet dit invul en teken.”
Die seuns kyk verslae na die oubaas.
Trompie vat die vorm en sê half verbysterd: “Wat is dit nou, oom Jorrie?”
“Jou pa moet teken dat hy die fiets teen hierdie bedrag koop, dat hy ’n deposito betaal het en dat hy die balans oor ses maande sal afbetaal. Ek kan die fiets nie aan een van julle op skuld verkoop nie. Julle is minderjarig en julle het nog nie ’n vaste werk nie.”
Drie monde val oop. Trompie se hart klop vinnig. Hy sê met ’n bewende stem: “Maar oom Jorrie, hier het ons dan die … dep- … deposito? En ek belowe ons sal die res elke maand afbetaal.”
“Jammer,” sê meneer Jordaan en gee die geld vir Trompie terug, “jou pa moet die vorm teken as jy die fiets wil hê.” Die besliste manier waarop hy sy rug na die drie verslae seuns draai, wys duidelik hy gaan nie verder onderhandel voor die vorm geteken is nie.
Die drie is bitter teleurgesteld. Hulle kyk afgehaal na die fiets en loop druipstert by die winkel uit.
Buite praat die seuns nie veel nie. Dit is asof hulle skielik nie woorde het nie. Hulle kyk ook nie na mekaar nie. Trompie mompel net dat hy hulle later die oggend sal sien en ry dan stadig huis toe.
Hy sit sy fiets op die gebruiklike plek teen die boom op die werf neer