Amber maan, oker son en ander verhale. Elize Parker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker страница 2

Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker

Скачать книгу

stad. Een vir een maak die winkels toe. Daar is lankal nie meer restaurante of kafees nie. Verkeersligte werk, alhoewel daar nie meer ’n motor in sig is nie. Dié staan verroes en vol stof langs die sypaadjies. ’n Klein groepie bekendes begrawe tant Helena Oktobermaand in ’n begraafplaas vol sipresse.

      Esperanza besluit om nie dadelik te vertrek nie. Sy wil voor Onafhanklikheidsdag na die oorlogsfront beweeg. Indien dinge te warm raak, kan sy Lee se kontak gebruik. Alec Mardon – klink soos ’n filmster. Sy weet waar in Luanda sy hom in die hande kan kry. Sy het daarvan seker gemaak. Hy is dalk nog haar reddingstou na die buitewêreld. Sy skryf oor die besonderhede van veldslae waarvan sy hoor, oor Roberto se aanslag uit die noorde en Jonas Savimbi van Unita s’n uit die suide. Oor fluisteringe om die MPLA en Kubane. Oor die kinders wat grootgemaak is om dood te maak.

      Oor ’n vierhonderd jaar oue oorlog wat nie einde wil kry nie.

      Die gebroke teerpad van Benguela na Luanda is seshonderd kilometer lank. Die pad is gebaken met omgerukte padtekens, kliphopies en padversperrings. In die droë seisoen stof die aarde op. Die son is dae lank bloot ’n veraf trom, en tamboer die dag se kom en gaan.

      Met nat seisoene draal wolke oor die maanlandskap totdat buie neerruis. Deur die waas van stof of wolke verkleur die hemelliggame die maan tot amber, die son tot oker.

      Skemer is ’n seisoen – lankal nie meer ’n dagewening nie.

      Benguela, stad onder akasias, blom uit die geel barheid op. Esperanza klim verlig uit die trok. Sy is deel van ’n Portugese televisiespan op ’n frontbesoek. Sy het die spanleier in Luanda bevriend en oorreed om haar saam te neem.

      Die reis was ’n nagmerrie. Jaag en wag, jaag en wag – dit was hul lot. ’n Dolle gejaag tussen padblokkades om uit die spervuur te kom. Daarna ’n eindelose gewag en sielkundige speletjie met wagte by die wagposte. Hier koop een sigaret vir jou ’n paar kilometer teerpad.

      Een van Unita se kantore aan die front is gesetel in ’n luukse villa. Waar vrolike tuinpartytjies eens gehou is, staan nou kiste ammunisie. Soldate leunslaap teen groot onthaalvertrekke se mure. Esperanza se groep wag hier vir vervoer en nog ’n verslaggewer. Sy rus op die koel veranda met haar rug teen die dik muur. Sy laat tam haar kop agteroor sak en maak haar stofseer oë toe.

      Waarin het sy haar begewe? Sy het ’n roekelose pad na die onbekende geneem sonder om aan haar bestemming te dink. Die koorsgevoel ken sy goed. Jare al plaas sy haarself onder sulke druk. Miskien het sy dit hierdie keer te ver gevoer. Wie kan sin maak uit hierdie mal oorlog? Haar oë knip oop.

      In die stoep se hoek vroetel ’n donkerkopman sy natgeswete T-hemp ingedagte uit sy demin en trek dit oor sy kop. Sy gespierde rug is op haar gedraai. Hy vou sy hande agter sy kop en strek hom moeg uit.

      Soepel spiere verstyf tot bondels krag. Sy bruingebrande bolyf staan stil teen die warm newelbeelde in die verte en die middaggloed hou hom bewend vas. Sy wil met haar lou hande die sweet op sy ruggraat afvee. So moet hy vir ’n ewigheid staan. Sy silhoeët draai na die huis. Hy maak sy denim se dik leergordel los en haal dit in ’n lang trekbeweging af. Met sy duim ingehaak in sy los broekband stap hy vir ’n rukkie heen en weer terwyl hy nadenkend oor sy hare vryf.

      Deur haar halfgeslote oë soek sy na iets bekends aan hom. Dit is so al asof sy hom al iewers in ’n skare of op straat gesien het. Iets krap aan haar onthou. Wie is hy? Sy ritssluiter girts oop en hy trek sy denim uit. Sy sien sy bobene is nog sterker as wat sy gedink het. Sy het haar hom reeds kaal voorgestel toe hy sy T-hemp uitgetrek het. Verontrus moet sy erken sy begeer hierdie vreemdeling vandat sy netnou haar oë oopgemaak het. Verward sluit sy haar ooglede. Miskien is hy net ’n desperate droom, ’n skim van haar uitgeputte verbeelding. Toe sy haar oë weer oopmaak, is hy steeds daar, geklee in ’n kortbroek en ’n T-hemp.

      Dan staan hy voor haar met sy hande op sy heupe. “Hoe lank kruip jy al daar weg?” vra hy geamuseerd. Sy maak asof sy nou net wakker geword het en haal haar skouers op, staan op en stap vinnig weg.

      “Wag vir my!” skree hy en val langs haar in. “Nie so vinnig nie. Is jy op pad na die bevelvoerder?” Sy knik net kortaf. Sy Engels is goed, maar met ’n swaar aksent. Hy moet maar dink sy verstaan hom nie goed nie. Hier vertrou sy niemand nie. ’n Roekelose onverskilligheid spreek uit sy berekenende glimlag. Sy donkerblou oë het meer geheime as beloftes. Langs sy mond is diep vertikale lyne en op sy voorkop horisontales asof hy dikwels son-in kyk. Sy dag oue baard laat hom eerder sorgeloos as onversorg lyk. Donker krulle val oor sy voorkop sodat hy telkens nodig het om dit uit sy oë te skud. Sy wonder hoekom die man haar so roer. Miskien is dit die soort bui waarin sy is. Dalk wil sy ’n man blindelings begeer om te voel sy lewe nog. In die soeke na sin in hierdie oorlog maak die sintuie lankal nie meer saak nie. Nugter, aardse verlangens tel – soos rou, naakte hunkerings van die bloed. Later sou sy dit nog minder kon verklaar. Al wat sy weet, is op die koel veranda met die smeltwarm dag ver anderkant bougainvilleas, kurf elke stroompie sensualiteit soos nog nooit vantevore nie haar liggaamsrondinge vol. Hulle sluit by die televisiespan aan. “Gerard Jobert,” stel die donkerkop hom voor. Hy is die Franse joernalis op wie hulle gewag het.

      ’n Krulkoptiener in kamoefleerklere stap die vertrek binne met ’n outomatiese geweer oor die skouer. Op sy melkbaardgesiggie is reeds ’n soldaat se doelgerigtheid. Hy stel homself as Francisco voor en lei hulle na die motor. Hy sit langs die bestuurder met sy geweer skuins oor sy knie. Sy sit styf teen Gerard ingeprop op die agterste sitplek. Harde haartjies op sy voorarm skuur teen hare. Hy vertel haar meer van die front. Dit is lank nie sy eerste besoek nie. Sy luister aandagtig na hom, maak notas en leer hom aan sy gebare, idiome en gesigsuitdrukkings ken.

      3

      Hulle stop by ’n paar beskadigde brûe en ry deur ’n uitgebrande gehuggie na ’n plantasiedorpie. Hier wissel die gesag gereeld tussen verskillende oorlogsgroepe. Veraf klink skote op. Vanmôre nog was die dorp in besit van die MPLA. Nou is die bordjies verhang. Al die inwoners het gevlug. Die skelette van uitgebrande huise staan soos aasvoëls aan die dorpie se buitewyke.

      “Dit lyk soos ’n soldatekamp, met dié verskil – die gewere word deur tieners gedra,” sê Gerard. Sy volg sy oë na waar ’n groep vyftienjariges speel.

      “Die jong meisies lyk asof hulle die oorlog van hulle wil afwas.” Sy beduie hom na ’n groepie met blinknat hare. Tussen hulle knoop ’n band van menslikheid en ’n gedeelde hartseer oor vermorste jong lewens.

      Terwyl die span films skiet, loop Francisco met die outomatiese geweer op gereed asof hy ’n aanval verwag. Uiteindelik het die span genoeg stof. Hulle klouter terug in die motor, maar Francisco besluit om te bly. Niemand kry hom omgekoop of oorreed om saam te kom nie.

      Sy sak terug en raak aan die slaap op die donkerwordende pad. Haar kop kantel op Gerard se skouer, maar sy gee nie meer om nie. Sy kan nie langer stry teen die band tussen haar en die vreemdeling nie. Sy voel in haar lotsbestemming is ’n inskrywing gemaak. Hul lewensweë het geswaai om hier in die middel van nêrens te kruis. Voren­toe sal haar paadjie sy spoor dra. Sy kop rus teen hare en hy gee hom oor aan die dag se eise. Dit maak nie saak of hy sy opdrag oorskry nie. Die middag was ’n jaar lank.

      “Ek skiet jou vir aandete,” spot hy toe hulle in Benguela kom. “Mineraalwater en beskuitjies.” Hy dwing haar om reguit na hom te kyk en sy blik te ontmoet. Sy stap weg om die klem te breek wat die vol dag om hulle geklink het. Ongeduldig trek hy aan haar kamerasak en draai haar na hom. “Ons het mekaar nodig.”

      Sy weet hy is reg. Op hierdie dorpie onder die uitgedoofde sterre smag sy daarna om iemand teen haar aan te trek. Sy wil al haar vertwyfelinge en vrede teen die klam holtetjies in sy nek fluister.

      “Kom,”

Скачать книгу