Amber maan, oker son en ander verhale. Elize Parker

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker страница 5

Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker

Скачать книгу

ken vir Luiz en kyk vinnig na hul dokumente. “Dankie, Vader,” bid sy sag­gies. Gerard help haar op. Sy spiere ontspan sigbaar, die frons tussen sy oë versag en hy blaas ’n lang teug lug uit.

      “Hoe lyk die pad vorentoe?” vra Luiz.

      “Oop. Julle kan laat waai,” kom die welkome antwoord. “Dis goeie nuus,” sê Luiz en groet. Die groepie maak plek sodat hulle kan deurkom.

      “Vanaand sien ek my vrou vir die eerste keer in ’n jaar,” gesels hy en vertel haar van sy gesin.

      5

      Hulle ry Luanda in die donker binne. Sy en Gerard loop moeg na tante Helena se huis en val uitgeput in die koel donkerte neer. Luanda is weer sonder krag. Sy steek van haar tante se dun gebedskerse aan. Met paternosters en rooskransies teen die mure voel die vertrek soos ’n kerkie. Op die banke is gehekelde komberse en geborduurde kussings.

      “Joune?” vra hy en wys na die huisie.

      Sy skud haar kop en gee vir hom ’n bottel mineraalwater. Sy maak blikkiesvleis en koekies oop. “Die huis het aan ’n tante van my behoort. Sy is ’n ruk gelede oorlede.”

      “Lyk soos ’n feesmaal,” sê hy.

      Tyd staan voorlopig stil. Van gister en eergister wil hulle doelbewus vergeet. Aan môre wil hulle nie dink nie. Buite draai wolke voor ’n bruingeel maan totdat ’n tropiese storm neersak.

      “Waar is jou radio?” vra hy.

      Sy gee dit aan, hy trek die lugdraad uit en krakerig hoor hulle meer van die Luanda-beleg. Die belangrikste inligting is vandag se datum. Dit is net enkele dae voor die Portugese amptelik onttrek.

      “Op Luiz en Raoul,” sê sy, glas in die hand. Daar is ’n nuwe band tussen hulle – die noodlot se wette is oorwin. Sy trek haar voete onder haar in. Gespanne oormoegheid hou haar wakker. Die laaste paar weke eis hul tol. Sy druk haar lippe styf opmekaar om die trane te keer. Haar hand reik uit, raak aarselend aan sy stowwerige hare en lig sy kuif op.

      Hy soen haar warm handpalm. “Toe maar,” fluister hy toe haar trane loop en vee haar nat hare weg. Haar snikke klink bo die reën op totdat sy rustig word.

      “Ek weet mos waardeur jy is.” ’n Naamlose gevoel klop in sy bors – ’n gevoel waarvan hy lankal vergeet het. Sy is ’n mengsel van krag en weerloosheid onder ’n siniese front – dit boei hom.

      “Erken dit. Jy het iemand nodig om jou soms op te pas.”

      “As ek iemand nodig het, sal jy eerste weet. Klink of jy al die antwoorde ken. Nou het ek net een ding nodig: dit is slaap.”

      Sy raak op sy skoot aan die slaap. Die harde lyne op haar gesig versag en laat haar meer meisie as vrou lyk. Haar hare val steilerig eenkant toe; hy het so gewoond aan haar besige krulle geword. Sy lyk of sy verdwaal is en nie alleen haar pad huis toe kan vind nie. Hy rus agteroor teen die bankleuning en sluimer in. Nie net sy het slaap broodnodig nie. Môre gaan ’n lang dag wees. In die stad op pad na ’n bloedbad is hulle vir ’n nag twee spoelklippies wat meerol in ’n stroom. Met seer harte lê hulle terwyl Luanda skanse gooi teen verowering.

      Vroegoggend stoot hy haar eenkant en maak haar toe. Sy word alleen wakker. Waar Gerard was, is net ’n warm holte. Eenkant staan die uitgebrande kersies soos onbeantwoorde gebede – klein simbole van ’n liefde wat kon gewees het. Miskien op ’n ander plek, ’n ander tyd. Sy kyk rond, maar hy het niks gelos of vergeet nie. ’n Naam en van. Dit is al handvatsels wat sy het. Bemindes is oorloë se groot verloorders. Ekonomieë kan herstel. Volke verenig. Maar mense raak vir mekaar verlore.

      Sy was nog nooit werklik lief vir ’n man nie. Min kon sy weet hier in Angola sou sy liefde leer ken. Nou is eensaamheid soos ’n koors in haar ledemate. In die badkamerspieël neem sy haarself onder vier oë. Haar lewelose krulle hang slap teen ’n droë, bleek vel. Twee seer, rooi oë staar sonder fut na haar. Sy draai die kraan sonder veel moed oop en is verbaas toe daar water uitkom. Tante Helena se vergete badolie geur op uit die yskoue bad water: sy luier in die ongekende weelde voordat sy hotel toe stap.

      Die voorportaal swerm met ’n klomp buitelandse verslaggewers. Hulle is ingevlieg vir die vieringe op Onafhank­likheidsdag, maar staan vlugdronk rond. Hulle weet nie waar om nuus te jaag nie. Sy ontwyk die nuustrop maklik en stap doelgerig na Elvira se kantoor.

      “Skattebol, waar was jy? Almal soek jou. Jy lyk gedaan.” Sy stoot papiere op haar deurmekaar lessenaar rond en gee Esperanza ’n nota met ’n telefoonnommer. “Bel hierdie mense. Hulle het jou kom soek.” Sy herken Alec se nommer. “Die masjien werk steeds,” antwoord Elvira haar onuitgesproke vraag. “Jy moet jou kans waarneem voordat daai spul daarop toesak.”

      Esperanza neem plaas en skakel die masjien aan. Elvira trippel uit en speel die ideale gasvrou. Uiteindelik het sy die soort gehoor waaroor sy droom.

      Esperanza weet sy sal nie ’n woord in Portugees of Engels kan versend nie. Hierdie nuushonde sal elke woord net so herhaal. 5676 Luanda AN 3451UNA goeienaand, tik sy en begin haar ongelooflike verhaal. Sy voeg ’n paar opspraakwekkende brokkies by: vliegtuie vol Kubane het geland en die MPLA wil dalk voor die Portugese se vertrek onafhanklikheid aankondig.

      Sy eindig met: Ek bel Alec vandag. Die masjien flikker af. Vir ’n oomblik wonder sy of sy nie maar tot Onafhanklikheidsdag moet bly nie. Sy het so lank uitgehou, sy kan net sowel Angola se laaste stuiptrekkinge meemaak. “Pas op!” skree Elvira skielik agter haar en krap verwilderd op haar lessenaar. Twee mans met pistole in die hand agtervolg haar.

      “Hier bly ’n klomp verraaiers. Ons sal elkeen vind,” sê die een met die pet en kyk senuweeagtig in die vertrek rond. “Wie is jy?” vra hy vir Esperanza en swaai sy pistool wild.

      Sy bid die teleksmasjien stil. “Asseblief, moet net nie probeer kontak maak nie,” prewel sy. Haar berig se af­skrif is gelukkig reeds in haar rugsak. Indien hy sou sien dis in Afrikaans, skiet hy haar dood.

      “Sy is sommer ’n helper. Hier is die gastelys,” sê Elvira verlig en oorhandig die dokument. Die mans is skaars by die deur uit, toe sluit sy die kluis oop en skink vir haarself ’n drankie. “Hoe moet ’n mens dit hou? Dit gebeur elke dag. Gister het hulle twee verslaggewers met pistole teen die rug hier uit. Klomp boewe.”

      “Dankie vir jou leuen,” sug Esperanza.

      “Jy moet hier wegkom.” Elvira wys met die glas na die hawe. “Na die tiende gaan niks weer dieselfde wees nie.” Persvryheid het nog nooit in Angola bestaan nie, maar verslaggewers is darem nog altyd verduur. Dit lyk nie of dit nou gaan gebeur nie. Esperanza kyk na haar bewende hande. Sy dink sy moet maar liewer uitkom voordat sy ’n pistool in haar rug voel.

      Sy skakel Alec se nommer en dit word op foutlose Engels beantwoord deur dieselfde man met die heserige stem. Sy identifiseer haarself. Hulle kom ooreen om by tante Helena se huis bymekaar te kom toe hy aandui Alec het gevra hy moet haar help wanneer sy weer skakel.

      Sy is skaars tuis toe twee jong, sportiewe Amerikaners met donkerbrille, te knap denims en kortgeknipte hare voor haar deur staan. “Alec het ons gestuur. Ons moet planne maak vir môre. Daar kom ’n vliegtuig in waarop ons jou kan kry.” Die senuagtige een verken die omgewing. Sy herken sy stem as die heserige een met die foutlose Engels.

      “Kom binne,” nooi sy. Sy probeer met hulle oor die oorlog praat, probeer vasstel wie en wat hulle is, maar sy kry nie veel uit hulle nie. Oor Alec praat hulle nie.

      “Jy

Скачать книгу