Die AA tot OE van seks. Riette Rust

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die AA tot OE van seks - Riette Rust страница 9

Die AA tot OE van seks - Riette Rust

Скачать книгу

jy reguit wees en iets sê soos: “Ek hou daarvan om ’n glad geskeerde man / ’n man met ’n vars asem te soen.”

      Indien jou maat oorgewig is, sê vir hom dat vroue ook visueel geprikkel word. Baie mans weet dit nie! Laat die klem op gesondheid eerder as verslanking val. Gaan stap gereeld saam as gesin en maak gesonde maar smaaklike kos. Vra jou maat om sy cholesterol en bloeddruk te laat toets. Dalk skrik hy so groot dat dit hom inspireer om gewig te verloor.

      3. Te veel alkohol

      Alkohol gee jou sekslus aanvanklik ’n hupstoot (!) omdat dit jou inhibisies laat afneem. Maar te veel daarvan kan jou libido laat verlaag. As julle vanaand seks beplan, moet liefs nie meer as twee glase wyn of een sopie spiritualieë drink nie.

      4. Jy is latent gay

      As jy in ’n heteroseksuele verhouding is, maar nie seks geniet nie, kan jy moontlik latent gay wees. Gaan sien ’n sielkundige om jou te help om jou seksuele oriëntasie te aanvaar en nie langer ’n leuen te leef nie.

      MENEER, DÍT KAN JY DOEN

      Help só jou maat met die lae libido:

      • Maak haar las ligter: Vra waarmee jy kan help. Of doen dit net. Pak die kinders se kosblikke, bad hulle of maak aandete.

      • Belê in ’n huishulp of skoonmaakdiens: Sny eerder ander luukses. Moegheid is ’n groot oorsaak van ’n lae libido.

      • Gun vir haar alleentyd: Hou die kinders besig terwyl sy bad. Maak oor naweke kos.

      • Gee haar gehaltetyd: Besluit byvoorbeeld Woensdagaande is júl aand. Nie een van julle sal dan die res van die week onder druk voel om seks te hê of verwerp voel nie. Dié afspraak sal julle laat dink oor en beplan vir seks. As julle nie tyd vir mekaar maak nie, sal julle nie seks hê nie.

      • Sê vir haar jy is lief vir haar: Sy wil ook graag hoor dat sy mooi en sexy is, dat jy dink sy is ’n goeie ma en/of beroepsvrou, dat jy haar bewonder (as dit so is!) en dat jy graag by haar wil wees.

      • Sorg vir romanse: Blomme, kerse en wyn verrig wondere. Verras haar. Bederf haar nou en dan met ’n spa-geskenkbewys “oor jy so hard werk”. Masseer haar, sonder seks. Skryf romantiese briewe of SMS’e. Sy hou ook daarvan as jy vir haar ’n skuimbad tap.

      • Raak gereeld aan haar: Maar nie net op ’n seksuele manier nie. Sit jou arm om haar, soen haar saggies in die nek, streel haar arms en vryf haar voete.

      • Rek die voorspel uit: Onthou, voorspel begin reeds die oggend. As jy dan al onbehulpsaam of onvriendelik is, sal sy nie vanaand seks wil hê nie. Gee ook baie aandag aan intimiteit. Jy kan haar later selfs vra of sy gereed is vir seks.

      • Luister werklik na haar: Sy soek baiekeer nie oplossings vir probleme nie, maar wil eerder net vasgehou word.

      • Versorg jouself: Geen vrou hou van ’n sofapokkel met ’n groot boep of bierasem nie.

      • Ontdek weer die lekkerte van vry sonder seks of intieme aanraking. Jou maat moenie elke keer as jy aan haar raak, dink ai, hier kom dit al weer nie. Fokus saam op die sensuele.

WenkMoenie aanvanklik ander, opwindender seksposisies voorstel nie. Dit gee jou maat die boodskap dat alles vir jou steeds net oor seks gaan. Sy hou dalk ook glad nie van waag nie, of is bang die kinders hoor julle. Tref vooraf reëlings met jul spruite. Een aand per week is net julle s’n.

      MENEER, HOU HAAR IN DIE BUI

      Julle het al twee ’n besige loopbaan en minder tyd vir seks as ooit tevore. Daarom is dit belangrik om jou maat in die bui te hou, selfs al sukkel sy nie met ’n lae libido nie. Dit gaan alles oor hoe jy haar buite seksuele tye behandel en laat voel. Pas dié wenke toe en jy is in haar hart. En later in haar lyf!

      • Hou ’n foto van haar in jou beursie: Sy sal dit sien wanneer jy vir iets betaal. Dink net hoe dit haar sal laat voel. Net so as jy ’n foto van haar en jul kinders op jou lessenaar hou.

      • Sê ’n slag hóékom jy haar liefhet: Om bloot te sê “ek is lief vir jou” kan so maklik soos gewoonte-woorde klink. Sê ’n slag hoekom. Iets soos: “Ek is gek oor jou lag.” Of: “Ek voel so spesiaal as jy hierdie kos maak.”

      • Gebruik haar naam of troetelnaam sommer in die middel van ’n sin of skryf dit in pen op jou arm of hand. Dit sê: “Jy is regtig vir my belangrik.”

      • Soen haar soms lank en innig sonder dat dit hoef oor te gaan in seks.

      • Laat haar verstaan hoe baie jy van ’n drukkie hou – ’n lange wat jy nie wil hê moet eindig nie.

      • Soen haar op ander plekke as op die mond: Agter haar knieë, agter haar ore, op haar voete, in haar nek …

      • Voer haar sexy kos soos aarbeie of kersies.

      • Gee aandag aan die sensuele deel van jul verhouding: Masseer haar. Weer sonder seks. Vryf haar gespanne skouers, haar rug.

      • Gesels nou en dan oor hoe en waar julle ontmoet het: Wat het jou eerste aangetrek? Sy sal spesiaal voel as jy die detail kan onthou, soos wat sy aangehad het en hoe jy gevoel het.

      • Soen en hou haar in die openbaar vas (maar nie waar iemand julle kan sien nie). Só sal sy saam met jou uitsien na wanneer julle by die huis kom.

      • Versorg haar nou en dan: Borsel haar hare, sit selfs haar lipstiffie aan.

      • Benut jou kanse: Wanneer ’n ander vrou voor haar met jou flirteer, is sy dalk in die bui om seker te maak jy is net hare … Gebruik dié geleentheid. As sy gelukkig of opgewonde is oor iets, kan sy daardie positiewe energie na seks kanaliseer. Gebruik ook dié kans.

      • Stel ander plekke of posisies voor: As jy seker is sy is verveeld met jul sekslewe, gesels oor hoe julle sake kan opkikker. Stel dan ander posisies of plekke voor. (Lees “Sit ’n slag jou bene om my nek” in Hoofstuk 13.)

WenkMoet haar nie vir seks nader net nadat julle gestry het nie. Jy wil dalk só wys jy is nog lief vir haar, maar sy sal dink: Ons het pas baklei, wat dink jy doen jy?

      3

      ‘SEKS IS SEER’

      __________________

      Vaginisme is dalk die oorsaak

      Vaginisme – dit gaan oor die lewe,

      nie net seks nie …

      – Ditza Katz, Women’s Therapy Center, New York

seksgids-4701.jpg

      Hy het gesê hy sou versigtig wees, dat jy niks het om te vrees nie. Dis toe dat jy begin uitsien het na jul eerste seks. Julle was al ’n jaar saam en jy het geweet die verhouding is ernstig. Jy het kerse aangesteek en roosblare op die bed gestrooi. Hy het yskoue vonkelwyn gekoop … Nooit in jou wildste nagmerrie sou jy kon dink dat julle nie seks sou kon hê nie, omdat jou vagina in die proses “toegetrek” het.

      Ná die katastrofiese nag was jy heel waarskynlik verlig toe jy uiteindelik hoor jou probleem het ’n naam: vaginisme (of vaginismus).

      Vaginisme en pynlike seks

Скачать книгу