Agter die skerms. Christo Gerlach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Agter die skerms - Christo Gerlach страница

Agter die skerms - Christo Gerlach

Скачать книгу

n>

      

      Agter die skerms

      Christo Gerlach

      TAFELBERG

      To gossip about others is certainly a vice,

       but to gossip about oneself is a virtue.

      – MADIBA, in een van sy tronkkalenders

      AANVOORWOORD

      Hierdie is my reis, en hopelik lees jy dit nie as ’n skryfbyl van afreke­ning nie. Dit is my reis na vergifnis en voorwaardelike vrede – die eer­ste tree wat ek gee na vergifnis. Óór en ván myself.

      Sommige name in my storie is verander, want dis my exposé en niemand anders s’n nie. (Uiteraard het ek die pad nie alleen geloop nie, en ongelukkig moes ek verhoudings en verhoudinge blootlê . . . en dit is afhanklik van mense.)

      Ander kere sou ek iemand se naam verruil vir sy of haar tweede naam. Dan is daar mense vir wie ek bloot ’n titel of omskrywing gee.

      Dankie aan al my wonderlike vriende, kollegas en veral my familie – lewend en dood. Almal wat die pad saam met my geloop het, en ook jy wat langs die pad afgedraai of weggeraak het. Jy weet wie jy is. En dan is daar dié van julle wat ek net een of twee keer elke jaar of wat hoef te sien . . . en dan tel ons die drade op asof ons mekaar net gister gesien het.

      CHRISTO GERLACH

      November 2011

      INLEIDING

      In die hospitaal vat die dominee my hand vas en bid vir my. Dominee Andries is skaars klaar of ek raak diep aan die slaap. God, in die Naam van Jesus, gaan my red uit my eie, selfopgelegde hel.

      Ek droom van my Judas met die Italiaanse naam. Alfredo.

      Toe ek wakker word, kla die verpleegster dat ek al weer die bed be­vuil het. Sy vee my hardhandig skoon. Is daar enigiets van my boude oor?

      Ek maak my oë toe en verbeel my ek weet nie van die skaam nie. Ek het nie ’n vuil agterent nie en die lakens is nie besmeer nie. Ek bewe van die koue. Dit help vir die skaamte. Die bewe vries die gevoel van ont­bloot en vernedering weg.

      Ek probeer my boude wegdraai toe sy die laaste van die gemors weg­was.

      “No!” Sy klap my liggies op die boud.

      Ek vererg my en mik ’n hou na haar. Sy dreig dat sy sal terugklap.

      “Don’t you dare!” skree ek.

      Ek ruk die pype uit my lyf. Ek skop die kombers van my af. Ek het nie ’n broek aan nie, net ’n oorrokkie van stukkies linne.

      Hulle maak my hande vas aan die bed.

      Ek skaam my. Maar nie te lank nie, want die monitor bo my bed word ’n 24-uur TV-kanaal. ’n Nuusman berig oor ’n ongeluk. Twee polisiemanne is dood en die skuldige het ontvlug. Die voortvlugtige is Alfredo, ek weet dit. Ek huil my aan die slaap.

      Ek word weer wakker met dieselfde prentjies wat raampie vir raam­pie oor en oor gespeel word. Stadig, om te wys hoe die karre inmekaar frommel. Hoe die skuldige bo-oor die dakke van die karre spring. Alles in slow motion. My keel trek toe.

      Ek skree na Alfredo. Ek sien hom skuil buite my venster. Ek roep na hom, maar my stembande is lam en my skree stol. Moeder Courage se silent scream, soos in enige nagmerriedroom.

      Ek neem die verpleegster in my vertroue. “Die skuldige,” fluister ek, “het kom skuiling soek by my venster.”

      Sy kyk op na die skerm. Elke raampie vries eers en speel dan ver­der. Sy kyk na die venster en dan na my.

      “Kalmeer,” sê sy. Dit lyk asof sy haar lag probeer bedwing. Dan draai sy om en loop weg.

      Ek wil roep, maar my tong sit aan my verhemelte vas. Daar is nie klokkies in intensiewe sorg nie.

      Woede brand in my. Dis die verkeerdste ding om vir ’n gespanne akteur “Ontspan” te sê net voor hy op die verhoog moet gaan.

      Maar dan raak die verpleegster uit fokus. Sy beland op die redigeer­der se vloer en ek kies self die volgende toneel . . .

      Ek maak vinnig my motor se deur toe. Kyk om my rond of iemand my nie dalk gesien het nie. Ek kan nie vinnig genoeg wegtrek nie. Ter­wyl ek die ratte verwissel, frommel ek die stukkie koerantpapier oop.

      Houtskaafsels. Weer net donnerse houtskaafsels. Die bliksem het my weer gevang.

      “Wat dink jy doen jy?” vra ek myself af. Ek weet mos die Wes-Afrikane lieg hulle almal as sangomas voor.

      Ek kyk die psigiater reg in haar oë.

      “Dit gaan goed,” sê ek. Ek lieg my in my eie vals dapperheid vas. “Dit gaan baie goed. Regtig.”

      “Ek wil nie op lamppale van jou lees nie!” sê sy. “Jy is talentvol, slim. Ruk jou reg.”

      “Ja,” sê ek.

      Ek sal.

      Ek het mos.

      My hospitaalkamer is soos ’n stasie; mense kom en gaan.

      Die internis klink kwaad. “Ek het jou lewe gered! Jy is ondankbaar!”

      Die suster sê iets in Sesotho vir ’n kollega. Ek hoor die woord “lekgoa” (witmens).

      Sy weet nie ek verstaan haar taal nie.

      “You are a racist!” skree ek vir haar.

      Die naalde suig my bloed. Elke sel word gefynkam. Tot vir sifilis – in die gevorderde stadium. Niks kan meer uitgesluit word nie, want selfs iemand wat as ernstig bipolêr gediagnoseer is, kan nie só mal wees nie.

      Later as die suster met die naalde naderkom, koes ek soos ’n kleuter vir Ouma se bottel Borstol. Ek maak my oë toe as hulle my vingerpunte prik. Weer en weer en weer.

      Ek weet ek gaan my bloed aan God moet skenk. Ek weet nie hoe lank ek dit nog kan vermy nie.

      (Maande later sê ’n ander internis vir my die kliniek se internis was bloedtoets-happy. “Hy’t seker ’n aandeel in die laboratorium.”)

      Deur skrefiesoë sien ek Daniel langs my bed staan. Verbeel ek my of sien ek sy lip bewe as hy afkyk na my? Of hoop ek net?

      Hy kyk af na negentien jaar se sweersel wat nou oopgebars in ’n vrotterige gemors op ’n treurige hoop in die eksklusiewe kliniek in die noordelike voorstede lê. Dis die plek waar almal, veral die sogenaamde bekendes, kom wegkruip as hulle lewe so hopeloos soos myne geword het. Onder die dekmantel van wat-ook-al.

      In my geval is daar nie ’n dekmantel nie. Daar was nie tyd vir keer toe hulle met my hospitaal toe gejaag het nie. Het ek gehensop? Het ek probeer uitskree om hulp?

      Daar was lang tye in die put van donkerte dat ek nie geweet het wat ge­beur het nie. Toe ek later die stukkies probeer optel, het die gapings in my bewussyn net groter gate geword. Tonnels.

Скачать книгу