Agter die skerms. Christo Gerlach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Agter die skerms - Christo Gerlach страница 4

Agter die skerms - Christo Gerlach

Скачать книгу

sitkamer” na mekaar en kyk. Op die 1960’s-winkelhaakbank en bypassende groen-en-wit stoele. (In die 1990’s het die retro-etiket dit weer mode gemaak.) Almal glimlag stywelip vir me­kaar, die koppe knik. My ma se gulheid was miskien effens oordrewe, maar net ’n geoefende oog sou dit kon agterkom. Of ’n vierjarige oog­getuie.

      Dit was die begin van baie jare se voorgee. Ek sou altyd een lewe hê, maar ’n ander lewe begeer. Die begin van ’n leeftyd van fantasie en begeerte na iets beters – ’n leeftyd waarin die werklikheid net nooit goed genoeg was nie. Ek was ook nie goed genoeg vir myself nie, en ek het verskillende selwe aan verskillende mense voorgehou. ’n Ver­kleurmannetjie. Dit was ’n hanteringsmeganisme wat die gevaarlike fondament vir ’n psigotiese persoonlikheid (sou) kon vorm. Boonop het ek dit netjies gekoppel aan ’n paranoïese sy wat altyd sou vrees om “uitgevang” te word. Of om verwerp te word.

      Alles tesame ’n resep vir ’n psigiese ramp. Een met ’n ingeboude tyd­skakelaar, en daardie skakelaar was my pa se dood.

      GEBOORTE

      Ek wou om die dood nie gebore word nie.

      Ek het uiteindelik, nadat my ma “dae lank in kraam was”, die eerste lewenslig aanskou. “Dae lank” was natuurlik ’n oordrywing, maar dis hoe die lydingstorie deur die jare oorvertel is. Ek is “genadiglik” met be­hulp van ’n “tangverlossing” gebore. My ma was verlos van haar barensnood, en ek was verlos van die baarmoeder. Waarvan ek duidelik nie verlos wou wees nie.

      Niemand het dit ooit so beskryf nie, maar elke keer as iemand vertel het hoe swaar my ma tydens my geboorte gekry het, het ek net bloed gesien. Bloed orals. En nie eens my ma se eie bloed nie.

      Want terwyl ek volstrek geweier het om toe te gee aan die geboorte­proses, is die volgende deel van die storie dat ek my ma só aan’t bloei laat raak het dat die hospitaaltjie op Clocolan nog bloed uit Bloemfontein moes laat kom. Met ’n klein vliegtuigie. Ek kan nie meer ont­hou hoeveel pinte bloed nie, maar dit moes ’n hele paar gewees het. Dit was die enigste uitweg om te keer dat my ma haar doodbloei, en my oupa Le Grange het daarvoor betaal.

      Dit was egter nie net ’n kwessie van betaal en ’n paar pinte bloed val uit die lug uit nie. So maklik was dit nie. Die vliegtuigie kon daai tyd nie op Clocolan land nie, en my oupa en my pa moes die outydse twintig myl (veertig kilometer) Ladybrand toe jaag, waar die naaste lan­dingstrook was. In Oupa se groot grys Plymouth.

      Ouma Le Grange, in haar jonger dae ’n vroedvrou, versit geen tree van haar tweede jongste dogter se bed in die kraamsaaltjie waar my ma in kraam, maar ook nie in kraam, was nie. Waar sy geboorte wou gee en ek nie gebore wou word nie.

      “Jou ma het vreeslik swaargekry met jou geboorte. Jy kan maar sê sy was op die rand van die dood,” moes ek sommer baie vroeg in my kinderlewetjie hoor. Daarna is dit talle kere herhaal. Want veral die twee oumas wou seker maak dat ek nie vergeet nie. Hulle het my van kleins af laat voel dit was my skuld dat my ma amper doodgegaan het met my geboorte.

      En terwyl ek nog ’n keer na die storie luister, en die eerste skuldgevoelens oor my bestaan leer ken en daarmee begin worstel, moet ek my dan boonop nog dom hou ook. Ek kon hulle mos nie laat agterkom dat ek lankal uitgewerk het ’n baba kom uit ’n ma se maag en dat die ooievaarstorie net . . . wel, net ’n ooievaarstorie is nie. In werklik­heid ’n volslae leuen, terwyl ’n kind geleer is om nooit te jok nie.

      Sou ek iets sê, sou ek net weer moes hoor ek is darem so voor op die wa, “ ’n regte klein japsnoet”. Maar ek kan dink wat ek wil. Dink word my enigste uitweg.

      Soveel so dat Angelina, my “ander ma”, gereeld net haar kop ge­skud het terwyl sy anderpad kyk. “Kleinbaas dink te veel. Die kleinbaas se kop, dié sal seer word.”

      Wyse woorde, maar dit sou dekades later eers insink tot ’n werklikheid.

      Nog iets wat my oor my geboorte vertel is, is dat dokter Schulenberg die dokter was wat my ma se lewe gered het (en seker myne ook) op die sesde Augustus hoeveel dekades gelede. Dokter Schulenberg was ’n tipiese kleindorpse Joodse geneesheer (“geneeshere” is deesdae selfs op klein dorpies ’n seldsame verskynsel), en hy is met allemintige agting en respek behandel deur al die dorpsmense.

      Ek kan nie onthou dat enigiemand ooit genoem het dat ek deel was van daardie “wonderwerk” nie. Ek was bloot die baba wat nie wou saam­werk met geboorte nie. Die baba wat vasgeskop het. Waaragtig letterlik. My ma se weergawe van my geboorte was dat sy deur die pyn groot ge­skrik het toe sy my “stukkende gesiggie” sien. Gekneus en geskraap van die tangverlossing. Die gebreklike bene het sy nie dadelik raakgesien nie, en hulle het dit ook nie dadelik vir haar gesê nie.

      Sonder dié nuus was dit al klaar nie ’n maklike tyd wat vir my ma voorgelê het nie. Ek was nou wel nie ’n koliekbaba nie, wat blykbaar enige nuwe ma se grootste nagmerrie is. Dis net dat ek om die dood nie wou byt aan die idee van tepels en borste nie. Ek sou my ook nie laat dwing nie. Ek het net my tandvleisies ingespan en gebyt.

      My ma het toe gelukkig melkkoors ontwikkel en ek het gelukkig ’n bababottel gekry. Die salige prentjie van ma met baba wat rustig haar bors knie, sou my ma nie beskore wees nie.

      Toe sy eindelik ná ’n lang slaap in Clocolan se hospitaaltjie tot verhaal kom en na my vra, was dit my vroedvrou-ouma se taak om haar van my bene te vertel. “Die dokter sê dis dalk omdat jy tot op die laaste in jou swangerskap gewerk het en by die lessenaar gesit het.”

      Dit was die begin van die hegte band tussen my en my ma. Só heg dat dit seker as ’n bietjie onnatuurlik beskryf kan word. En dit as ge­volg van ’n liefdevolle skuldgevoel. Sy het gevoel dis haar skuld dat haar kind twee “krom” bene het. Die dokter het wel gesê dit kan reggemaak word, maar dit sal “ ’n lang ruk” duur.

      Die prosedure het heel eenvoudig daarop neergekom dat ek na die “groot” hospitaal in Bloemfontein moes gaan, waar albei my bene gebreek en in gips gesit sou word om weer reguit aan te groei. Die praktyk was nie vir my ma en pa so eenvoudig nie, want die bene moes toe nog ’n keer of wat gebreek word.

      My pa het oor en oor vertel hoe hulle klein tweedehandse karretjie (was dit ’n Hillman?) langs die pad gaan staan het op pad Bloemfontein toe. En my ma het oor en oor vertel hoe sy moes sukkel om die morsigheid by my boude skoon te kry, wat heeltyd by die gipsomhulsel sou inglip. Ek kan – natuurlik – niks daarvan onthou nie.

      Jare later kom ek toe iewers in ’n solderkamer op ’n paar pare “gebreklike’ skoene in ’n groot trommel af. Saam met ou stukke gips, ge­stoor tussen vergeelde Saries, Landbouweekblaaie en Huisgenote. Dit was deel van ’n tyd wat my ma seker maar wou wegpak, maar tog ook nie. Ook die foto’s van ene Steenkamp, die verloofde wat haar so te sê voor die kansel laat staan het. Dit was nege maande voordat sy my pa ontmoet het. Net drie maande later is hulle getroud.

      Septembermaand. Ma se rebound-maand.

      Ek is in Augustus die jaar daarna gebore.

      “Ek weet nie hoekom nie, maar toe ek met jou pa getrou het, wou ek net dadelik ’n kind hê,” sou my ma vertel. Gevolg deur die magiese woorde: “ ’n Seuntjie soos jy . . . Voor ons in die skiprestaurant by Bethlehem se dam getroud is, was jou naam al klaar gekies.”

      Ek het haar menigmaal aangepor om dit weer vir my te sê. Dit het my altyd baie geliefd laat voel. Geliefd, en terselfdertyd ’n bietjie selfbewus. Maar voor ek my kom kry, glip dit weer uit: “Hoekom wou Ma ’n kind hê net toe Ma-hulle getroud is?”

      As sy nie dadelik antwoord nie, wag ek nie lank genoeg nie.

      “

Скачать книгу