Agter die skerms. Christo Gerlach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Agter die skerms - Christo Gerlach страница 6

Agter die skerms - Christo Gerlach

Скачать книгу

tannie Elisabeth het ’n affiniteit vir die bottel gehad. Sy het soms op die plaas kom uitvars, al het niemand dit ooit in soveel woorde uit­gespel nie. Dit was hier in die laat sestigs, as ek reg onthou. As ek en sy laatnag alleen in Gansfontein se kombuis gesit het, het ek maar altyd so terloops uitgevra oor die familie aan my ma se kant. Tannie Elisabeth het sit en naaldwerk doen, en soos dit later word, het haar tong losser, of eerder meer mededeelsaam, geraak. Ek het uitgevra voor­dat sy te ver heen was, en ek het antwoorde gekry. Japsnoet het sy sin gekry.

      Daar was nie drank op die plaas nie. Nee, ek jok nou, daar was soetwyn vir spesiale Sondae, maar dit was toegesluit in Oupa se kantoor op die boonste verdieping. Sy stêddie, het ons dit genoem, Afrikaans vir “study”. (My ouma het van die Oos-Kaap gekom, waar Engelse woorde in haar tyd verafrikaans is.) Maar die medisynekas was nie toe­gesluit nie, en dit was vol van elke liewe botteltjie in Lennon se medisynereeks, tot die vorige winter se Borstol.

      Tannie Elisabeth het elke aand klokslag na ete ’n ou kwaaltjie ont­wikkel en in Ouma se kassie gaan rondkrap. Die hoesmedisyne het seker maar gehelp met die lusgeit vir ’n glasie sterker medisyne. En dan kon ek oop en gemaklik uitvra oor die Le Granges se besigheid. Die verbode terreine wat net die grootmense beskore was en waar­oor daar net nie gepraat is nie. Dit het net nóóit gebeur nie – die ou Afrikaanse familiekwaal.

      Tannie Elisabeth is toe ek alreeds op universiteit was, so twaalf jaar later, dood aan ’n ongeneeslike lewerkwaal.

      Ons het vir baie jare nog oor haar gepraat – haar sagsinnigheid, haar skerp humorsin en haar nog skerper slag met die naald. Sy was ’n streng ma vir haar kinders, maar ’n goeie ma. Niemand het ooit oor haar siekte gepraat nie. Ook nie oor haar slim maar oorgewig dogter wat net ná matriek met ’n man weggeloop het omdat sy “in die ander tyd” was nie. Die man was boonop baie ouer as sy. Erger nog: Hy het gekom van die verkeerde kant van die treinspoor. Só ver van die trein­spoor, hy het gesukkel om ’n geleentheid te kry stasie toe.

      Toe stories in die familie die rondte begin doen dat hy haar boonop die plathand gee, was daar nog minder simpatie vir haar. Sy het haar eie bed opgemaak, en sy moes maar sien en kom klaar. Sy het self haar lewe weggegooi.

      Ek en Mazawatta – my pa se bynaam vir my niggie – was as kinders onafskeidbaar. Ons het saam gedroom oor ’n toekoms op die verhoog. Ons het selfs konserte gehou waarvoor ons deurgeld gevra het. Ons fantasieë het geen perke geken nie, en dat sy later net sou verdwyn en alle kontak met my verbreek, was amper ondenkbaar.

      Sy was altyd in my gedagtes en ek het – as ’n verdraaide huldeblyk seker – gereeld vir mense die storie vertel van ’n streep sissende ganse wat my niggie gejaag het. My niggie wat gillend spruit toe hardloop, vinniger as wat haar dik beentjies haar kon dra . . . Tot teen ’n toe hek met gespande doringdraad aan weerskante. Klokslag het die lagtrane gerol. Die beeld van ’n baie vet, gillende dogtertjie wat vlug voor twin­tig woedende ganse was elke keer ’n partytjietreffer.

      Maar ek was nooit lus om die res van haar storie met my gehore te deel nie. Ek het altyd nagelaat om by te voeg dat my slim niggie later stilletjies die pad gevat het aan die sy van ’n man met ’n tatoeëermerk op sy arm (die buitelyne van ’n wulpse, welbedeelde vrou wat gelyk het soos die arm man se Raquel Welch).

      In ons familie – seker maar in enige ordentlike Afrikaanse familie – het mense destyds nie sulke merke gehad nie. Die vet niggie met die hoogste IK van al die kleinkinders het weggeloop met ’n kort, klein mannetjie wat altyd afgekyk het grond toe as hy met jou praat . . .

      Selektiewe geheue. Weer daardie goed gekose herinneringe wat soos ornamente voor in die glaskas uitgestal word sodat die spieël dit mooi kan reflekteer. Herinneringe wat nie van jóú wil vergeet nie. Herinne­ringe waarvan jy jou nie kan losmaak nie.

      Of jy wil of nie . . .

      Herinneringe wat mettertyd spoke word.

      Een van my spoke was Jan Bezuidenhoudt.

      BEZUIDENHOUDT

      Jan Bezuidenhoudt se spook sal my seker bly volg tot die dag van my dood en dis sy spook wat my tot in die nuwe eeu laat wag het voordat ek die moed aan die dag kon lê om terug te keer Slabberts toe.

      Dit was soos in enige spookstorie. Die gehoor kan homself nie keer om die storie enduit aan te hoor nie, al wil die benoudheid sy keel toetrek. Dit was nes die gevoel wat ek as kind gehad het as my Ouma Gerlach die aand op haar stukke was met ’n spookstorie – Ouma, ek en my niggie Magda saam in ouma se bed sonder enige lig wat brand.

      Ek het Slabberts se naambord onverwags langs die pad raakgesien, en op die impuls van die oomblik, sonder om te dink, afgedraai. My hart het vinniger begin klop en ek het stadiger begin ry. Ek kon later nie omdraai nie.

      Skielik was ek tussen die oorblyfsels van die beelde wat ek so­veel jare saamgedra het van die klein plekkie. Die beeld was helder en skerp ingeprent soos ’n rolprent wat ek oor en oor en oor gekyk het.

      Die berg aan die sonopkant van die spoorlyn was nog daar. Maar die ry sinkhuise was weg.

      In een van die sinkhuise op Slabberts se stasie het Jan Bezuidenhoudt, wat vir die spoorweg gewerk het, my in Sub B geleer van voortplanting. Die manlike orgaan en die vroulike orgaan en wat hulle doen – en dan het hy my gewys. In die bedompige skemerte van sy slaapkamer. Klere het oral rondgelê. Dun strepies lig het deur gaatjies in die sinkdak geskyn.

      Die huis is nou afgebreek en die sinkplate iewers in ’n plakkers­kamp – en hoekom laat dit my verlate voel?

      Miskien omdat hy my op sy skoot getel en vertel het van die eerste keer toe ek met die trein aangekom het en hy die mooi seuntjie op die platform sien staan het. (My pa was toe besig om ’n diaken te wees.) Waar ander kinders dieselfde spookstorie oor en oor wou hoor, wou ek oor en oor hoor van daardie dag toe hy my van die trein sien afklim het in my skoolklere. Ná die storie het hy altyd sy gesig met die stoppels teen my gesig gedruk en dan het ek skerpsoet aftershave geruik. Partykeer het die spoorwegpet in die pad gekom.

      Toe hy eendag net uit ons lewe verdwyn, het ek my pa elke nou en dan gevra wat van hom geword het. Net weg, het my pa gesê. (My pa was toe lankal ’n ouderling.) Verdwyn. Soos mis voor die son. Ná als wat ons vir hom gedoen het. Sal nie eers ’n foon optel en laat weet waar hy is nie.

      Miskien, het ek my later begin afvra, was hy bang ek begin verstaan?

      Elke nou en dan, terwyl ek besig was met wat ook al, het ek gewonder waar hy was. Of hy my nog onthou. As my foto in die koerant was, het ek gehoop hy sien dit en bel miskien. Later het ek teësinnig begin weet dat ek op tien of elf te oud vir hom geraak het. Toe hy begin het om my hand weg te vat as ons saam op die enkelbed in my kamer ge­slaap het. Dieselfde bed waar hy my getroos het, my gesoen het as ek onder my pa se plathand deurgeloop het, voordat my pa op sy knieë langs die bed gaan kniel het om te bid. Hy het my stywer teen sy bors vas­gedruk terwyl sy oë weggekyk het van myne. Hy het my saggies stywer gedruk tot ek ophou huil het. Ek het my partykeer verbeel dis my pa wat my so vashou en troos.

      Ek onthou die kamer was altyd doodstil tussen ons voordat ons aan die slaap geraak het. Nadat ek met hom gespeel het en hy klaar sy ding soos seep tussen my bene deur geskuur het.

      Partykeer het ek in die nag wakker geword en dan was hy weg.

      Ek het op die bad se rand gesit en opgekyk na hom as hy in die oggende geskeer en daarna sy hare gekam het. Hy het sy blonde kuif agteroor gekam met Brylcreem, nie heeltemal soos ’n ducktail nie, dat sy inkeep-haarlyn wys. Hy het sy aftershave met harde klapgeluide aan­gesit en die badkamer het lank daarna

Скачать книгу