Agter die skerms. Christo Gerlach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Agter die skerms - Christo Gerlach страница 3

Agter die skerms - Christo Gerlach

Скачать книгу

het almal my ma – die Le Granges – se bruin oë geërf.

      Dekades later soek ek die Tien Gebooie in Eksodus 20 op. Ek lees weer die gebod wat sedert my laerskooljare in my siel eggo en my ge­wete pynig. Die einste gebod wat my ná al die jare ingehaal het.

      PA

      My selfoon lui. Dis my swaer. Hoekom sal hy my bel? Ek ignoreer dit. My selfoon is op silent in die redigeerkamer. Dit was teen die einde van Mei, 2006 en ons werk aan kykNET se Idols. Die eerste episode gaan Sondag uit.

      Dis nou Donderdag. Ons is agter.

      Ek kyk af toe die sel weer flikker. Dis weer my swaer. Ek kyk op na die redigeerskerm. Toe die selfoon die derde keer flikker, tel ek dit geïrriteerd op en loop uit.

      “Hallo!”

      “Christo. Jammer om te pla.” Rob klink soos hy maar altyd klink. “Dis jou pa en tannie Coba. Hulle was in ’n ongeluk. Hulle is al twee op slag dood.”

      Nee.

      “Christo?”

      Ek hoor my suster op die agtergrond huil.

      “Ek moet my show klaarmaak. Ons is agter. Die eerste episode gaan Sondag uit.”

      Dis al wat ek kan uitkry.

      Toe my suster harder huil, sit ek my selfoon af.

      Ek loop na die koeldrankmasjien toe. Ek sien niemand raak nie. Drie blikkies Creme Soda. Dit sal my kalmeer. Suiker help vir skok. “Die groen ambulans,” sê ons altyd ná ’n dranknag. Skielik is dit nie snaaks nie.

      Ek kan Daniel nie bel nie. Hy is in ’n vliegtuig op pad Kaap toe.

      Ek gooi slukke Creme Soda in my keel af. My mond bly droog. Ek glip in ’n leë, donker redigeersuite in. Ek wil my kop teen die glas­mure stamp.

      Ek bel die vriend wat Daniel by die lughawe in die Kaap moet optel. Sy selfoon is af.

      Ek los ’n boodskap: “Denis, my father and his wife died in an accident. Ask Daniel to phone me.”

      Ek sou eers later hoor hulle is nie albei op slag dood nie. My pa het nog veertig minute geleef. Al was hy breindood.

      My selfoon lui weer. Dis my suster. Sy huil net. Ek begin ook huil en druk die foon dood. Ek sukkel om my neus droog te vee met my hemp.

      Ek probeer beheer kry oor my gevoelens. Loop terug redigeerkamer toe. Ek gaan sit op die stoel langs die redigeerder met my Creme Sodas. Ek kyk, maar sien bitter min. Ek sukkel om te hoor wat hy sê of vra. Ek weet net ons is nog ver van klaar.

      Minder as twee uur later lui my foon. Dis Daniel. Ek stap vinnig uit. Hy hoor nie ek het opgetel nie.

      “Denis, I don’t believe it. Both of them?”

      Sy stem is helder aan die ander kant, met die lughawegeraas op die agtergrond. Aankondigings van vlugte wat kom en gaan, van die lewe wat aangaan.

      “Yes, Daniel, both of them,” antwoord ek hom. Al is ons verhouding nie die ideale saamwees wat ons aan die res van die wêreld voorhou nie, is hy die mens wat ek nou die graagste by my wil hê.

      My familie moet wag vir ’n opening in my skedule voor hulle ’n datum kan vasmaak vir die begrafnis.

      Dis soos twintig jaar gelede toe ons moes wag om ’n datum te be­paal vir my ma se begrafnis. My broer was besig met sy weermagopleiding in Angola, maar net een oproep na generaal Magnus Malan se kantoor het verseker dat hy betyds uit die oorlogsgebied op Clocolan kon aankom. Met die generaal se afsterwe in 2011 het ek met gemengde gevoelens oor sy lewe en loopbaan gelees, maar my opinie van hom het bly vassteek by die menslikheid wat hy getoon het met ’n gewone gesin se versoek vir ’n seun om sy ma se begrafnis by te woon.

      Clocolan se NG kerk is stampvol vir my pa en tannie Coba se begrafnis. Die rye en rye mense registreer net vaagweg by my toe ons familie die kerk inloop. Ek hoor skaars wat die dominee sê.

      Toe ons in die begraafplaas stadig na die oop grafte loop, val dit my by dat net ’n wintersdag in die Oos-Vrystaat so mooi kan wees. Die lug is ’n skoon witblou. Die lied wat die swart mense sing, is seer van mooi. Hel-seer.

      Ek kyk met gemengde gevoelens hoe my pa se kis afsak tot bo-op dié van my ma. Haar kis is nog in ’n perfekte toestand, met die nou droë blommerangskikking en die goudgeel linte net soos hulle destyds in strikke gevou is. Dit lyk asof iemand deur die jare gereeld die kis se geelkoperhandvatsels blinkgevryf het.

      My pa se graf was eintlik langs hare, destyds al bespreek met my ma se dood. Maar toe hulle die graf begin grawe, kom hulle agter daar is reeds iemand in die graf begrawe. Net in Suid-Afrika . . .

      Nou is hulle saam in een graf. “Soos dit hoort,” wil ek my ma hoor sê. (Die feit dat my pa ’n veel gelukkiger huwelik met sy tweede vrou gehad het, is nou nie meer belangrik nie.) Hy is op vyf dae na presies twintig jaar ná my ma dood, in Mei, dieselfde maand. Pinkstertyd. Ek onthou dieselfde bessierangskikkings in die kerk. En hoe graag my ma ons huis omgetower het met potte vol bessies – rooi en oranje bessies met of sonder dorings.

      Tannie Coba word net ’n paar grafte verder begrawe, in dieselfde ry as my ouers, langs háár eerste man. Haar graf is ook bestel toe hy dood is. Twee families langs twee oop grafte. Wonderlike tannie Coba. Ek huil oor tannie Coba wat my so onvoorwaardelik aanvaar en in haar huis en lewe toegelaat het.

      Dit voel asof alles so vaag en verwyderd om my gebeur. Is dit die pille wat my suster my gegee het om te sluk net voor die diens? Mense kom groet wat ek nie dadelik kan eien nie. ’n Neef van my pa. Niggies wat ek jare lank nooit gesien het nie. Ou onderwysers wat nog leef. ’n Swaer van my pa wat ek uit my kinderjare onthou as baie emo­sieloos, selfs koud, kom druk hom snikkend teen my vas.

      Die dominee wat die diens gelei het, kom stel hom aan my voor. Ek onthou weer die dominee op Ficksburg se kerkstem: “Eer jou vader en jou moeder . . .”

      Wat ek nou weet – en wat ek gelukkig toe nie geweet het nie – is dat die skuld en skok oor my pa se dood my lewenspad onherroeplik sou verander. Daardie koue wintersdag in Clocolan se begraafplaas was die begin van ’n selfverdelgende pad wat ek heeluit en heluit sou moes loop. Ek sou myself tot in die grond toe verrinneweer omdat ek my pa soveel keer vervloek het. Ek moes gestraf word vir sy gewelddadige dood.

      Ek moes hom eer. Ek het hom nie geëer nie.

      My eerste herinnering aan my pa is die kombuisdeur wat hy flenters geskop het. Dit was op my vierde verjaarsdag. Die rede vir sy woede was omdat my ma mense genooi het vir die “onthulling” van my ge­skenk in ons sitkamer: ’n groot houtsleutel met die syfer 4 in geelkoper daarop. Daarmee saam ’n groot geraamde foto van my, geneem deur ene Jan Hoekstra.

      Ek onthou ook hoe my pa doodluiters die deur weer aanmekaar ge­sit het. Met gom en klein spykertjies tik-tik hy saggies en reëlmatig asof niks gebeur het nie. Hy sit die hamer neer net voor die eerste gaste by ons huis aankom. Die hekkie in die middel van die sipreslaning is oop­gelaat, en hulle loop reguit op met die sementpaadjie wat weerskante versier is met smal beddings pers blomme. Hulle klop aan die glas van die voordeur. Ek kyk na my ma se grimering. Sy lyk nie soos ’n ma wat pas deur ’n hele herrie is nie. My pa is maar afsydig, soos altyd. Praat net as iemand met hom praat. Ek kan die pa wat ek uit my kleuterjare onthou, in grootmensterme beskryf as “menssku”,

Скачать книгу