Agter die skerms. Christo Gerlach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Agter die skerms - Christo Gerlach страница 7

Agter die skerms - Christo Gerlach

Скачать книгу

hy het na langspeelplate geluister op sy nuwe platespeler wat met batterye gewerk het. Jim Reeves. En hy was versot op Engelse sagteband-cowboyboeke.

      Hy het graag denim-stovepipes gedra en hemde met rooi-en-wit blokkiespatrone. Dit was wanneer hy nie aan diens was in die stasie­kantoor met sy swart voormanuniform aan nie.

      Soms het hy saam met ons die trek gevat Durban toe, waar baie Oos-Vrystaters die Julievakansie deurgebring het. Daar het hy rondgeloop in ’n wit hemp en ’n wit kortbroek. Sy blonde beenhare was lank en krullerig. Ek was jaloers as hy partykeer saans nie teruggekom het nie. My ma het my bot belet om uit te vra. Grootmensgoed.

      Jare later sou ek my soms afvra of my ma nie dalk heimlik effens ver­lief was op die man wat so deel van die gesin was nie. Maar dan moet ek byvoeg dat my ma deur haar hele lewe afvlerkvoëltjies gekoester het. Bezuidenhoudt was nie juis wat ’n mens ’n gekweste dier sou noem nie, maar dat hy hom ten minste vyf jaar lank behoorlik in ons lewens ingewurm het, is ’n feit. Nadat hy my ouers ontmoet het, het hy ons gesin gevolg en hom kom vestig op ’n buurdorp naby ons. Hy het om­trent elke naweek by ons kom uitspan en daar is net aanvaar dat hy ingesluit was by al die gesin se aktiwiteite en selfs familiebyeenkomste. ’n Wildvreemde man.

      “Dis maar omdat hy so sonder kind of kraai is. Ons het almal mense na aan ons nodig . . . ” was my ma se verduideliking. Hy was ’n kudde­­dier, maar self het hy nooit oor sy familie gepraat nie en niemand het eintlik geweet waar hy vandaan gekom het nie. En dis seker een van daardie vraagtekens wat my tot aan die einde van my lewe sal bybly. As dit belangrik genoeg is.

      Baie dekades later het ek begin wonder of hy nog leef. Maar ek het myself altyd belet om te wonder of hy ’n vrou en kinders het. Omdat die blote gedagte my weer soos ’n kind van sewe of agt sou laat voel wat in die stofpad agter sy ma se kar aanhardloop terwyl sy wegry. Ek moes die trein vat na Slabberts, want ek moes by Oupa en Ouma op Gansfontein gaan bly om die skooljaar op Gumtree klaar te maak.

      Ek dwing myself skielik om na Slabberts se spoorlyn te kyk. Dit weer­kaats nie meer die laatsonglig nie. Dis nou rooi en feitlik deur­geroes. Die treine ry lankal nie meer hier verby van Bloemfontein na Bethlehem of van Bethlehem na Bloemfontein nie. Jan Bezuidenhoudt het miskien lankal vergeet van die mooi seuntjie wat hy daai dag die eerste keer op die platform op Slabberts se stasie sien staan het. Jan Bezuidenhoudt is miskien lankal dood.

      En hoekom laat dit my verlate voel?

      GUMTREE

      Dieselfde gevoel van leë verlatenheid kry my onder toe ek ná my pa se begrafnis deur Gumtree ry. Ek ry saam met Daniel en ek wys hom die meule. Ek wys hom ons ou huis. Ek wys hom die ou stasiegebou, die ou poskantoor. Al die ou Oos-Vrystaatse sandsteengeboue het die jare se verweer deurstaan, maar jy kan sien hulle mis die liefde en bewondering waaraan hulle gewoond was.

      Ek laat Daniel tot by die skool ry. Toe ek daar skoolgegaan het, die Primêre Skool Gumtree. Ek was hoofseun in standerd vyf. My ouers het taamlik gou teruggetrek van Slabberts af en my laerskooljare op Gumtree is toe nooit onderbreek nie. Die paar maande wat hulle op Slabberts gewoon het, sou seker ’n blote tussenpose in ons gesins­lewe ge­wees het as ons – en veral my – pad nie daar met Jan Bezuiden­houdt s’n gekruis het nie. Hy het mos my ouers gevolg en hom ’n rukkie later op die buurdorp kom vestig.

      Ek wys Daniel die ou klipgebou wat my laerskool was. Die skool het deesdae swart leerlinge – ver verwyder van die dae toe die skoolraad turksvybosse as heinings laat aanplant het “om die swartes uit te hou”.

      Dit bly vir my die beginpunt van die plek waar ek drome begin droom het. Maar pragtig soos Gumtree en die Oos-Vrystaat is, was my geboortewêreld nie groot genoeg om die vistas van my verbeel­ding te vul nie.

      Ek onthou meteens die groot vernedering toe ek op my eerste skool­dag nie my trane kon terughou nie. Die nuwe skoolsak, nuwe grys broek en nuwe wit hemp was nie genoeg troos toe ek sonder my ma tussen ’n klomp vreemde kinders moes agterbly nie. My ma het hartlik saam met my aan’t huil geraak en dit het juffrou Martie Botha, die skoolhoof, omtrent mooipraat gekos om die snotstorie te beredder.

      Juffrou Martie was lank die enigste leerkrag en eers toe ek in stan­derd twee was, is nog ’n onderwyseres aangestel. Vier jaar of so was al die standerds in een klas by juffrou Martie. As jy oplettend was, het jy gou-gou al die standerds se werk geken. Ek was slim genoeg om selfs ’n standerd te spring en was nooit in standerd 2 nie.

      Ek vertel vir Daniel hoe een van Oupa se plaaswerkers my elke og­gend met ’n perdekar skool toe gevat het. By die skool aangekom, het hy die perd uitgespan. Die perd het dan gewei tot voor huistoegaantyd, en dan is hy weer ingespan en het ons die drie myl terug plaas toe aangedurf.

      As dit wil klink na die outyd van my grootouers se voor­geslagte en te outyds vir iemand van my geslag, moet ’n mens nie ver­geet dat tyd en ontwikkeling gedurende my grootwordjare dood­een­voudig die knie moes buig voor die kultuurerfenis en die nalatenskap van die Afrikaner nie.

      Die oggendritte was lekkerder as die middae. Vars en uitbundig. Die oggendlug was skoner en daar was nie so baie stof soos smiddae nie. Selfs die winteroggende het ek geniet, want ’n huishulp het my bene netjies toegevou met ’n warm kombers met fraiings en gesorg dat ek nie my wolhandskoene vergeet nie. Sy moes partykeer agterna hardloop met my skoolpet wat sy wild in haar hande rondgeswaai het. Ons het soms met die Hibberts van die plaas langsaan resies gejaag, maar omdat daar vier van hulle was, het hulle nie juis ’n kans gestaan nie.

      Elke middag het ’n lekker bord kos in die louoond onder ’n omgekeerde sopbord gewag. Skoolklere is uitgetrek, daar was tyd vir ’n bietjie speel en dan is huiswerk gedoen.

      Saans is daar vroegaand geëet, dan nuus en godsdiens oor die radio geluister voor slapenstyd. So nou en dan is ek toegelaat om die groot­mense “se tande te tel”. En die bederf van perskerolle of biltong saam met hulle te geniet.

      Dit was gewoonlik nadat Oupa gevra het: “Ouvrou, het jy nie iets lekkers om te eet nie?”

      Dan sê Ouma: “Ai, dié ou man darem . . .”

      My ouma was “Aida le Grange: Boervrou Duisend”. Dis wat sy ge­noem is in die artikel in Die Vaderland, met ’n foto van haar en haar reuseroostuin op die agtergrond.

      Sy het die plaas met ’n ysterhand en op die maat van die groot staan­horlosie in die gang bestuur. Sy het haar eie duur polshorlosie net op Sondae en met spesiale geleenthede gedra. ’n Matriarg in die ware sin van die woord. ’n Afrikaanse een.

      Haar uitgestrekte blomtuin was ’n lushof van kleur. Vrydagoggende is emmers water oral in die tuin neergesit en het sy elke blom en stuk­kie loof met sorg gekies en afgesny. Die emmers vol blomme is stoep toe gedra, waar al haar blompotte met water in reggestaan het. Dan het sy gesorg dat elke kamer in die huis sy spesiale rangskikking kry.

      Ek kan nie onthou hoeveel slaapkamers daar was nie, maar daar was baie. Al is die binnekante van die kamers soms weke lank net deur die skoonmakers gesien. Ouma se rangskikkings was nie die driehoeklynige ontwerpe wat destyds in die mode was nie, maar los en informele skeppings wat ek eers weer in die nuwe eeu sou sien, by Gavin Rajah se modevertoning in The One & Only Hotel in 2009. Dahlias en slap ou Engelse rose.

      Die opstal se gange was baie breed, en die stel houttrappe het sommer twee landings gehad. Die Vaderland se joernalis het gepraat van die vloere wat so blink gepoleer was dat dit as spieëls gebruik kon word. Maar dit was eintlik my ouma se tuin wat haar trots was.

      Gansfontein was my grootouers se trots, want dit het nie alles net so in hul skote geval nie. Hulle is deur die moeilike swaarkryjare van die depressie toe ouma meelsakkies

Скачать книгу