Agter die skerms. Christo Gerlach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Agter die skerms - Christo Gerlach страница 5

Agter die skerms - Christo Gerlach

Скачать книгу

was uiteindelik seker maar ’n vrywillige keuse, maar my dierbare ma het onteenseglik haar deel bygedra tot die Griekse tragedie van my lewe. Sy het die tipiese Freudiaanse moffiema gespeel en wetens en on­wetens ’n verhogie vir haar klein Oedipus geskep. Eers jare later sou ek besef dit was alles gekoppel aan haar eie vrese, seerkrye en kompleksi­teite. Haar eie gepantserde drome wat onvervuld gebly het.

      En dis hierdie minder mooi herinneringe aan haar wat soos ornamente in ’n glasvertoonkas stuk-stuk deur die jare uitgebreek het. Herinneringe soos ornamente uitgestal in ’n outydse vertoonkas met bal-en-klou-pote en ’n spieël agter. Die mooies word netjies voor gerangskik, gereeld uitgehaal en afgestof. Die minder mooies agter vergader stof en breek “per ongeluk” met die verloop van tyd. Daardie klein ou drogbeeldjies wat jy liewer nie wil onthou nie.

      Gedroggies met grynslaggies.

      KLEINTYD

      Ek het nie juis van kinderspeletjies gehou nie, veral nie as dit nie deur myself uitgedink en uitgespeel is nie. Maar ek was van jongs af bewus van onderlinge verhoudings en gevoelens tussen mense. Dit was seker ’n soort magsposisie, want ek het vroeg al besef as ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees. So was ek maar altyd bewus van die “verbode terreine” in families. Dis natuurlik daardie soort geheime wat “nooit gebeur” in goeie Afrikaanse families nie.

      En dit het my eindeloos gefrustreer dat ek heeltyd my woorde moes tel. Ek moes onthou ek is ’n kind en almal om my is grootmense. ’n Kind wat die grootmense se rympies uit sy kop ken. ’n Kind wat agter ’n grootmens se rug sy oë rol en voor die grootmens hom dom hou wanneer daar gepraat word oor “grootmensgoed”.

      Soos: “Jy loop nie en gaan krap in die doktersboeke nie! Dis grootmensgoed!”

      “Hoe kan ek, Ma?” wil ek vra, maar ek keer myself. Die boeke met die manlike en vroulike geslagsdele en hoofstukke oor voortplanting is weggepak tussen haar kraaknuwe spaarlinne in haar bal-en-klou-trousseaukis. Sy sluit dit toe met ’n groot geelkoperslot – “Weg van die nuuskierige agie se ogies!” – en ek weet régtig nie waar die sleutel weggesteek word nie.

      Ek kon nooit vir haar of enigiemand anders sê dat ’n familievriend wat vir die spoorweg gewerk het, my lankal gewys het hoe dit werk om babas te kry nie. Dit was mý verbode terrein, al was ek skaars sewe jaar oud. Dit was veral verbode terrein om vir enigiemand te sê dat Jan Bezuidenhoudt my selfs gewys het hoe om babas te máák.

      Ek moes gereeld hoor: “Jong, die kind is darem baie voor op die wa.”

      “Ouma se klein japsnoet!”

      Een ouma sou my so noem terwyl sy effens na my kant toe knip­oog met ’n skewe glimlaggie. Die ander ouma sou my dieselfde noem, maar háár toon was afkeurend. Dit was ’n toon wat sê: “Hierie kind is heeltemal te groot vir sy skoene. Julle gaan nog die vrugte pluk van sy voor-op-die-wa-geit.”

      Ek weet Ouma is slim. Ek weet sy hoor nie hoe ek haar namaak nie, maar sy weet ek koggel haar.

      Ek gaan nie sê watter ouma is watter ouma nie, want beide my oumas het baie vir my beteken as jong kind en ook later as tienerseun. Die een ouma het my warmte en sekuriteit gegee, die ander ouma het voor ek vyf was al voorspel: “En hier volg die nuus gelees deur Christo Gerlach.”

      My oupa aan moederskant, oupa Lou le Grange, was ’n groot figuur in my kinderjare – letterlik, wat hy was ’n lang, forse man. Godvresend. Ek was nog baie klein, toe het Oupa my al laat verstaan die Jode is “God se Uitverkore Volk”.

      “En daarom groet jy hulle só.”

      Die Jode was dokter Schulenberg op Clocolan, oom Max Feinberg van die meubelwinkel in Ficksburg en die Russies-Ortodokse Kurr-gesin wat op Gumtree gebly het. Ek is geleer om hulle met ekstra respek te behandel, op dieselfde manier wat ’n kind vir Dominee aangespreek het. Of waarop ’n vraag vir Juffrou gevra word: “Juffrou, sal Juffrou my asseblief toelaat om asseblief kamer te verlaat, asseblief, Juffrou?”

      Ek het ook baie vroeg geleer om dieselfde soort “heiligheid” te betoon teenoor die swaeltjies wat elke winter van ver oor die see teruggevlieg het na Oupa se plaas, Gansfontein. Die swaeltjies was, soos die Jode, uit die Bybel en van God. Hieroor was Oupa net so uitdruklik.

      Oupa was nooit amptelik ’n bloed-Sap nie, maar hy was seker die enigste Afrikaner in die omgewing wat nooit ’n vergadering van sir De Villiers Graaff misgeloop het nie. Ek het baiekeer saam met hom gegaan, en ek het probeer sin maak van die groot ou man wat altyd agterlangs, kiertsregop, hande agter die rug en met ’n effense glimlag, aandagtig na die sir geluister het.

      My oupa het soms vreemde idees gehad vir ’n man van sy jare en sy herkoms.

      So, anders as met die meeste jong seuns saam met wie ek grootgeword het, het Oupa nie ’n windbuks op sy grond geduld nie. “Dis nie ’n speelding vir kinders nie. Netnou skiet julle die swaeltjies raak!”

      Ek het nooit enige sin in gewere en ’n skietery gehad nie, maar my neefs sou altyd onderlangs brom: “Dink Oupa rêrig ons weet nie hoe lyk ’n blêrrie swaeltjie nie?”

      Maar tot die vinke wat die vrugte verniel het, was veilig op Gansfontein. En in seisoentyd het komieklike voëlverskrikkers (wat na deesdae se fopdossers gelyk het) die mossies laat bloos en giggel onder mekaar.

      Ook anders as al die plaaskinders in die distrik is Gansfontein se kleinkinders nooit toegelaat om hase te jag nie. Ook nie jakkalse nie. Al kon hulle ’n pes wees onder die skape.

      Daar is net een keer ’n jaar op die plaas geskiet. Een skoot. Vroegwinter, amper klokslag dieselfde tyd elke jaar, tot op dag en datum.

      Op dié dag staan Oupa vroeër as gewoonlik op en gaan sit stil by die kombuistafel. Ouma kyk anderpad terwyl sy vir hom koffie skink. Hy vat langer as gewoonlik om sy koffie klaar te drink. Dan staan hy op om sy haelgeweer te gaan haal. Hy loop met die geweer oor sy skouer by die sifdeur uit, laat dit ongeskik klap.

      Hy loop oor die werf, verby die melkstalle, tot by een van die beeskampe waar ’n spekvet os al heeloggend onrustig snork.

      “‘Die dier, hy weet mos wanneer dit by sy tyd kom,” sê die werksmense jaar na jaar.

      Dis melktyd soos enige ander oggend. Maar op hierdie vroeë winter­oggend is die hele plaas stiller as gewoonlik. Die koeie is stil. Die melk­manne praat nie met mekaar soos op ander oggende wanneer hulle algaande wakker word en die stemme al hoe harder opklink nie. Die emmers word gedemp neergesit op die stal se koue sementvloer.

      Die sekondes net voor die skoot klap, vries alles doodstil.

      Net een skoot.

      Dit trek oor die hele plaas. Dan hou dit skielik op soos ’n sweep wat klap. Die werfhonde begin blaf.

      Oupa het lankal omgedraai en teruggestap huis toe. Sonder om skuins, op of af te kyk.

      Ons kinders is nooit toegelaat om dié bloederige ritueel van die win­ter­slag te aanskou nie. Ook nie later as die vark en twee skape deur Tolbooi, die voorman, keelaf gesny word nie. Maar nes daardie geweer­skoot word niemand die vark se laaste skel krete gespaar nie. ’n Saaglem deur murg en been.

      Eers toe ek veel ouer was, nadat baie dinge deur my kinder- en tiener­jare in ons huis gebeur het, het ek my eie teorieë oor ons familie ontwikkel. Dié teorieë is aangevul deur my eie droombeelde, sowel as inligting wat ek op ’n slinkse manier uit my ma se suster kon trek.

Скачать книгу