Agter die skerms. Christo Gerlach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Agter die skerms - Christo Gerlach страница 10
![Agter die skerms - Christo Gerlach Agter die skerms - Christo Gerlach](/cover_pre706644.jpg)
“Dis Christo hier.”
“Ja, baas.”
Ek het dit probeer omseil. “Sê vir my ma ek het gebel.”
“Ja, baas.”
“Sê vir haar Christo het gebel.”
“Ja, baas. Ek sal vir die mies sê die kleinbaas het gebel.”
Wat ook al die dinamika, ek is vertroetel deur al die ander ma’s wat ek gehad het. As ek op ’n Vrydag by die huis gekom het ná ’n week in die koshuis, is my gunstelinggeregte voorgesit. Krakerige diep-in-olie-gebakte-plaasaartappels. Groenboontjies met stukkies weggesteekte lamsvleis. Aspersies in botter gebraai.
Angelina het wel soms spinasie probeer verdoesel as marôgo, ’n gunstelingbossiegroente van my wat soms net te veel moeite was om buite in die veld te gaan pluk! Sy het die spinasie op haar manier gemaak met aartappels en uie, maar dit was net nooit marôgo nie.
Ander kere sou sy my verras met ’n soetsuur hoenderkerriegereg à la Angelina. Sy kon nie lees of skryf nie, maar sy kon kook. Terwyl sy die koolstoof stook, kon sy enige gereg baasraak deur net één keer vir die “miesies” te kyk.
Ek het later geleer iemand wat kook, is ’n kunstenaar, ’n mens met ’n vry hand in ’n kombuis; en iemand wat bak is ’n wetenskaplike. Angelina was albei. Ons het eenkeer ’n insetsel vir TV gemaak oor die kok van die groot wynplaas Meerlust, en ai, terwyl ons besig was, kon ek net vir Angelina voor my sien. Voorskoot aan, met ’n vatlap en vadoek oor elke skouer, lepel in die hand.
Angelina sou vir my instaan wanneer ek my konyne, wat ek teen die bitter Vrystaatse winterkoue wou beskerm, in my slaapkamer ingesmokkel het. Ons het saam ’n laken gespan van die boonste na die onderste katelrak. Dit was haar plig om na hulle om te sien terwyl ek in die koshuis was.
Ongelukkig het alle hel op haar – en nie op my nie – losgebars toe my ma uiteindelik die stank in die huis teruggesnuif het na my kamer toe. Sy het die deur oopgestoot, en die wit konyne het haar onskuldig met hulle rooi ogies aangestaar terwyl hulle heerlik aan vars slaaiblare geknibbel het (met komplimente van Angelina, via my ma se groentetuinier). Geen mens of dier kan so elegant peusel soos konyntjies nie, maar my ma het dit op daardie oomblik nie waardeer nie.
Angelina het jare later die hoofrol gespeel in ’n kortfilm wat ek geskryf het, Mapulani se nooi. Big deal. Sy is alleen aan kanker dood in ’n Bloemfonteinse hospitaal en my ma moes haar lyk gaan haal en agterop ’n bakkie terugry plaas toe. My ma het my vertel hoe sy kort-kort moes stop. Sy het nie ruitveërs vir haar trane gehad nie.
Met my pa se begrafnis het ek Angelina se seun ná al die jare weer ontmoet. Hy was besig om my ma se graf oop te grawe om dit gereed te maak vir my pa se kis. Ek was ’n oomblik lank geskok, want ons is geleer om nooit op ’n graf te sit of te staan nie.
Angelina se seun het die spittery gestop en my gegroet asof hy my net gister gesien het.
“Ken die kleinbaas my dan nie meer nie?”
Deur my trane het ek flou verskoning gemaak omdat ek hom nie herken het nie. En dit met ’n grap probeer wegpraat: “Jy weet my ma het gesê ’n mens staan nooit op ’n graf nie! Nou staan jy op haar kis!”
“Die Oumies het my geken. Sy was mý Oumies. Sy sal mos verstaan!”
Op daardie oomblik was ek en hy saam net weer kinders. Angelina se kinders. En terwyl ek nou hier skryf, wonder ek of hy ooit aan my gedink het as ’n soort broer. Sekerlik nie, ek kon dan nie eens sy naam onthou nie. Al het ons dieselfde ma gedeel. En dieselfde Oumies.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.