Christine le Roux Omnibus 5. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux страница 3

Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux

Скачать книгу

style="font-size:15px;">      Sy het net haar skouers opgehaal en rondgesoek na plat klippies wat sy een vir een in die waterpoel laat plons het. “Ek is nie ondankbaar nie,” het sy voortgegaan. “Maar om baie mooi te wees, is dieselfde as om baie ryk te wees. Jy gaan nooit weet wie regtig van jou hou nie.”

      Ná hierdie gesprek het hy sy ma probeer gerusstel sonder om alles te herhaal wat Nicoline vertroulik aan hom gesê het. Of dit sy ma getroos het, weet hy nie. Wat sy ma wil hê, is ’n getroude dogter, ’n rustige skoonseun wat by die gesin sal inpas en ’n paar kleinkinders wie se foto’s sy vir haar vriendinne kan wys. Of Nicoline ooit in so ’n patroon gaan pas, betwyfel hy.

      “Sy’s ’n eksotiese voël,” het Rosa eenkeer vir hom gesê. “’n Paradysvoël en ek ’n vaal mossie, en weet jy wat die vreemdste is? In haar teenwoordigheid voel ek nie soos ’n vaal mossie nie, sy laat my eerder ook soos ’n paradysvoël voel.”

      Dit is waar, moes hy tot sy verbasing toegee. Nicoline het baie vriendinne en almal is baie lief vir haar. ’n Mens sou verwag dat ander meisies haar as ’n bedreiging vir hulle sou beskou. Maar dit is nie die geval nie.

      “Het ek ’n vuil kol op my voorkop?” onderbreek Nicoline sy gedagtes. “Jy staar na my asof ek ’n spook is. Het die haastige dokter my bloedneus geslaan?”

      “Nee, nee,” sê hy vinnig.

      “Is my hare te rooi?”

      Hy lag, maar hou dadelik op toe hy voel hoe die steke saamtrek. “Moenie my laat lag nie, dit voel of alles in my losskeur.”

      “Ek het net ’n vraag gevra.”

      “Ek hou van jou rooi hare,” sê Rosa kalm. “Ek het dit vir jou ma ook gesê. Dit pas jou uitstekend.”

      Nicoline swaai haar kop sodat haar hare heen en weer swiep. “Ek dink ook so. In my hart was ek nog altyd ’n rooikop.”

      “Dis waar,” stem Dennis saam. “Veral as ek dink hoe jy baklei het toe ons klein was.” Hy kyk na Rosa. “Ek dink nie ek het dit al vir jou vertel nie – seker omdat ek nog steeds skaam is daaroor. In elk geval, ek was in standerd twee of drie en die klasboelie het my sonder ophou getreiter. Altyd my potlode of uitveërs gesteel, my toebroodjie uit my hand geklap – daardie soort ding. Hy was groter as ek en ek was bang vir hom, maar ek het nie besef my groot sussie weet van sy manewales nie.” Hy glimlag. “Tot hy weer een pouse my kosblik op die grond uitgegooi en my suster onverwags soos ’n arend met uitgestrekte kloue op hom neergedaal het.” Hy skud sy kop. “Glo my vry: hy het nooit weer geboelie nie. Wat hy vir sy ouers gesê het, sal ek nie weet nie. Dit het in elk geval gelyk asof ’n tierkat uit die bosse hom bespring het.”

      “Jy was seker verlig,” sê Rosa besorg.

      “Vanselfsprekend ja, maar ook baie skaam. Watse seun hou daarvan dat sy suster namens hom baklei?”

      Nicoline lag, leun oor en soen hom. “Toe maar, op hoërskool het jy dieselfde vir my gedoen. Toe was jy die groot broer wat my opgepas het.” Sy soen vir Rosa ook. “Kuier lekker saam, ek sien julle weer môremiddag.” Sy knik in die rigting van die ander bed. “En as jou kamermaat wakker word, sê solank vir hom groete. As hy nog steeds geen besoekers het nie, sal ek sy besoeker word. Onthou jy hoe lekker het ek en jy altyd dokter en verpleegster gespeel? Jy wou al my poppe se lywe oopsny en ek het Ma se stryklaken om my kop gebind om soos ’n verpleegster te lyk. Gee my net kans.” Haar oë blink ondeund. “Ek dink ek sal nogal mooi lyk in ’n wit uniform. Wit kappie op my rooi hare. Hy sal sommer beter word.”

      “Moenie my laat lag nie,” waarsku Dennis met ’n gepynigde grimas. “My steke . . . ”

      Nicoline waai met haar hand en stap uit. Besoekers begin drupsgewyse uit die ander kamers en sale beweeg, want besoektyd is byna verby. By die glashokkie waar die suster altyd sit, bly sy staan om net gou te groet, want in die twee weke wat Dennis in die hospitaal is, het sy omtrent al die personeel leer ken. Die suster kyk egter nie op nie, sy is besig om iets te bespreek met die streng dokter wat vroeër agter die gordyn was. Op daardie oomblik kraak die interkom. “Dokter Peter Hofmeyr na Neurosjirurgie, dokter Peter Hofmeyr na . . . ” en teen dieselfde spoed as vroeër skiet die wit figuur by haar verby.

      “Storm hy ’n mens altyd onderstebo?” vra Nicoline vir suster Verwey.

      Die suster glimlag. “Was jy by jou broer?”

      “H’m. Julle kyk mooi na hom, hy kan al amper lag.” Sy leun vooroor op die toonbank. “Hy het nou ’n kamermaat.”

      Die suster se gesig verstrak. “Tragiese geval,” sug sy.

      “Die wit gevaarte was nou-nou daar,” sê Nicoline. “Saam met ’n ander suster. My broer sê die man is in ’n koma.”

      “Ja. Dis eintlik ’n . . . ” Voordat sy verder kan vertel, sien sy dat ’n rooi liggie voor haar begin flits. “Later,” sê sy en draf haastig met die gang af.

      Nicoline stap na haar motor toe en klim in. Terwyl sy stadig in die middagverkeer aankruie, wonder sy: die pers baadjie met die pers-en-swart romp of die swart fluweellangbroek en wit bloes . . .

      Hoofstuk 2

      Neil Jooste blyk ’n aangename verrassing te wees. By die werk het hy vir Nicoline ernstig en vernaam gelyk, maar in werklikheid is hy spontaan en net so uitgesproke soos sy.

      “My neef het my gewaarsku teen rooikoppe,” sê hy voordat hulle die hoofgereg bestel. “Hy sê hulle is onbetroubaar en opvlieënd.”

      “En wie’s jou neef om sulke veralgemenings kwyt te raak?”

      “Ons is goeie vriende, hy dra maar net my belange op die hart.”

      “Is dit so?” vra sy. “Hoe weet hy van my? Stuur jy nuusbulletins uit voor jy ’n meisie uitneem?”

      “Ons het mekaar toevallig gister gesien. Ons ouma het verjaar.”

      “Wel,” sê sy terwyl sy haar broodjie smeer, “dis ’n teorie wat ongegrond is. My hare is van nature bruin. My persoonlikheid kan nie juis verander na gelang van die spoelmiddel wat ek op my hare gebruik nie.”

      Hy lag. “Jy stel my teleur. Ek was oortuig jy is ’n natuurlike rooikop.” Hy kyk haar nietemin so bewonderend aan dat sy vasgekeer voel. Maar toe hy haar later voor haar woonstel aflaai, sê hy bloot dankie vir die plesierige aand en probeer nie inkom of haar soen nie. Dit tel in sy guns, sy voel weer meer optimisties toe sy haar deur toesluit en gereed maak om te gaan slaap.

      Sy weet wat haar familie van haar dink en waarom. Hulle probeer ook nie hulle gevoelens wegsteek nie, hulle konfronteer haar kort-kort oor haar alleenloperbestaan. Wat hulle nie besef nie, dink sy toe sy in die bad lê en skuimbolle tussen haar hande blaas, is dat sy daarvan hou. Sy kan haar nie in haar wildste drome voorstel hoe dit moet wees om ’n huis met ’n man te deel nie. Iemand soos Rosa kan dit doen omdat sy ingestel is op ander mense se welsyn; sy wat Nicoline is, is te selfsugtig. Dis wat haar ma sê en dis waar. Sy verdien ’n groot salaris, sy word hoog aangeskryf by die werk. Sy besit haar eie woonstel en haar eie motor. Sy hoef niemand se toestemming te vra as sy geld op iets wil spandeer nie; hoeveel sy in haar spaarrekening het, is haar eie saak. Wanneer sy soggens vroeg haar hardloopskoene aantrek en gaan draf, hoef sy nie te wonder of sy iemand steur nie; sy hoef nie betyds terug te kom om ontbyt vir iemand anders te maak nie. Sy is haar eie baas en sy

Скачать книгу