Christine le Roux Omnibus 5. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux страница 4

Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux

Скачать книгу

het sy verlief geraak. Régtig verlief. Die man was ’n senior. Wat sy nie besef het nie, was dat die ouer studente haar reeds raak gesien het: die mooi eerstejaartjie met die ongelooflike bene. Dit het sy eers later uitgevind. Te laat. Sy was jonk genoeg om nog onseker van haarself te wees ten spyte van wat die spieël haar vertel het. En sy was gevlei. Die man was op die studenteraad, het in die eerste rugbyspan gespeel, hy was een van die sterre op die kampus. Dit het haar nie lank geneem om hopeloos verlief te raak nie. So verlief dat sy kop verloor het. Hy het in sy eie woonstel gebly, nog iets wat hom meer volwasse, meer selfstandig laat voorkom het. Sy was aan sy sy met elke studentebyeenkoms, die ander meisies groen van jaloesie. En toe hy een aand voorstel dat sy uitteken vir die naweek en by hom in die woonstel kom bly, het sy dit gedoen.

      Nicoline reik na die handdoek oor die reling bokant haar en staan op. Bibberend van die skielike koue gryp sy na haar badjas en draai haar styf toe. Ná al die jare krap die herinnering steeds. Sy frons terwyl sy room aan haar gesig smeer. Op sigself was dit nie ’n traumatiese ervaring nie, daarvoor was sy te lief vir die man. Sy het gewillig naweke by hom gebly terwyl haar gedagtes die vasgestelde paadjies geloop het. Hy sal voor haar klaarmaak en begin werk. Intussen kan hulle solank verloof raak totdat sy ook afgestudeer is. Hulle sal trou en huis opsit en kinders kry. Sy was jonk. Totdat sy eendag voor hom by die woonstel aangekom het en ’n briefie op die deur gekry het. Gedagtig daaraan dat dit van hom was, het sy dit afgehaal en gelees. Dit was van sy beste vriend.

      Het jy hulle al gemeet? het daar gestaan. Onthou, jy het nie die weddenskap gewen tot jy hulle gemeet het nie.

      “Wat op aarde beteken dit?” het sy vir hom gevra toe hy by die woonstel aankom. “Wat moet jy meet? Watse weddenskap?”

      Hy het dit probeer wegpraat, gelag, die briefie opgeskeur. “Studente-onsin,” het hy gesê. Niks met haar te doen nie. Vergeet daarvan. Sy het probeer, dit wás op stuk van sake onsin. Studente was altyd betrokke by weddenskappe, alles was ’n grap. Totdat hulle eendag langs die swembad gelê het, skuldig omdat die eksamen nader kom en hulle nie lus was vir studeer nie. Sy was bruin gebrand, hy ook. Hy het regop gekom, haar lenige lyf bewonderend aangekyk.

      “Jy behoort in te skryf vir skoonheidskompetisies,” het hy gesê en speels met sy gespande hand langs haar bene af beweeg. “Jy het die langste bene was ek nog gesien het.”

      Sy het luiweg onder haar halfgeslote ooglede deur na hom gestaar. Hy het nie net aan haar bene geraak nie, hy was besig om dit te meet.

      Sy het regop gesit. “Wat maak jy? Waarom meet jy my bene?”

      “Sommer. Om te sien hoe lank hulle regtig is.”

      Dit was soos ’n klap in die gesig. Meteens het die briefie sin gemaak. Hy het dit natuurlik ontken, maar sy was buite haarself van woede en vernedering. Stukkie vir stukkie moes hy alles erken. Die ou manne, die seniors, het ’n weddenskap aangegaan: wie gaan die mooi langbeen verower?

      Nicoline kyk afgetrokke na haar gesig in die spieël sonder om regtig iets raak te sien. Nou, byna twaalf jaar later, is sy volwasse genoeg om alles in perspektief te sien. Die man was tog lief vir haar. Dit het miskien as ’n koelbloedige weddenskap begin, maar hy hét sy hart op haar verloor. Maande lank het hy by die koshuis aangekom, by haar gepleit, om vergiffenis gesmeek, verwese rondgeloop. Toe sy geweier het om met hom te praat, het hy briewe geskryf. Elke dag nog ’n dik een. Die eerstes het sy gelees, later het sy dit gewoon opgeskeur. Vir die res van die wêreld het sy haar kop hoog gehou, met ander mans uitgegaan, maar diep binne-in haar was ’n klipharde, yskoue kol. Niemand het weer aan haar geraak nie. Sy het nie weer haar hart verloor nie. En die res van haar universiteitsjare het sy langbroeke gedra. Dis eers die afgelope paar jaar dat sy nie meer omgee nie. Bene is funksionele ledemate, gemaak om mee te stap of te hardloop. Sy gee nie ’n duiwel om wat ander mense daarvan dink nie, sy sal aantrek wat sy wil en behoed die man wat aan haar vat.

      Dit is een van die redes waarom sy vir meneer York begin werk het. In haar finale jaar het sy vir heelwat onderhoude gegaan, maar wanneer die mans op ’n sekere manier na haar gekyk het, het sy nie meer in die betrekking belanggestel nie. Vir meneer York het sy ontmoet by ’n ete waarheen sy haar destydse mansvriend vergesel het. Sy het dadelik van hom gehou. ’n Effens verstrooide middeljarige man, skerp en intelligent ten spyte van sy voorkoms. Tydens die ete het hy gesit en kla oor sy sekretaresses wat so hopeloos is – hoofsaaklik omdat hulle trou sodra hy hulle opgelei het.

      “Ek gaan nie trou nie,” het sy vir hom gesê. “Maar ongelukkig weet ek nie ’n snars van ’n rekenaar of tikmasjien af nie en het ek geen benul hoe ’n liasseerstelsel werk nie.”

      “Loop ’n kursus,” het hy gesê. “Ek sal jou aanstel nes jy klaar is.”

      Hy het sy woord gehou en sy was nog nooit spyt nie. Die man beskou haar as sy dogter, sy twyfel of hy ooit raak sien hoe sy lyk, wat sy dra of watter kleur haar hare is. Die man is skatryk, maar Nicoline en mevrou York moet saamwerk om te sorg dat hy nie elke dag dieselfde pak dra nie, dat die das met die vetkolle by die droogskoonmaker kom, dat hy onthou om sy hare te laat sny. Sy kinders het voor haar grootgeword, sy is deel van die gesin.

      “Jy gaan ook trou,” het hy eendag bedruk vir haar gesê.

      “Nee,” het sy hom verseker. “Nie sommer nie. Glo my.”

      Sy en sy gesin se ondersteuning was van enorme hulp in daardie eerste dae na Dennis se ongeluk. Haar ouers het gekom, en hulle drie was omtrent heeltyd by die hospitaal. Noudat Dennis so goed vorder, is haar ouers terug plaas toe en sy weer op kantoor, maar sy sal nooit die Yorks se vriendelikheid en liefde vergeet nie.

      Die volgende middag ry sy, soos sy nou al gewoond is, om vir Dennis te gaan kuier. Die eerste ding wat sy opmerk toe sy die kamer inloop, is dat die gordyn om die ander pasiënt se bed oopgetrek is.

      “Hallo,” sê sy en soen haar broer. “Hoe gaan dit?”

      “Goed. Slegte nag gehad, maar ek het heeldag geslaap en voel nou beter. Ek gaan heeltemal verroes,” kla hy. “Jy moes my vandag gesien het met my daaglikse oefenlopie die gang af. Nes ’n ou man. Pa loop regopper as ek.”

      “Moenie so ongeduldig wees nie,” maan sy. “Jy kon dood gewees het.”

      Sy gesig verhelder. “Die dokter reken ek sal volgende week huis toe kan gaan.”

      “Dis wonderlik. Een van die dae draf jy weer saam met my.”

      Hy glimlag suur. “Een van die weke, sou ek sê. Máánde.”

      Sy knik in die rigting van sy kamermaat. “Ek sien die gordyn is nou oop. Het hy al bygekom?”

      “Nee.”

      Sy staan op, stap nader aan die ander bed en kyk af na die man wat daar lê. Hy is nie onaantreklik nie, moet sy toegee. Hy het dieselfde donkerblonde hare as sy dokter, maar daar hou die ooreenkoms op, hoofsaaklik omdat sy gesig so leweloos is.

      “Hy haal self asem,” merk sy op.

      “Ja, hy is hierheen gebring eers ná hy van die respirator afgehaal is.”

      “En iemand het hom geskeer.” Sy bekyk die man krities. “Nie baie goed nie, maar tog.” Sy loop na die onderpunt van die bed toe en kyk na sy pasiëntekaart. “Kurt Ollsen,” lees sy hardop. “Nie ’n tipiese Suid-Afrikaanse naam nie. Het hy al besoekers gehad ?”

      “Nee. Hy is ’n toeris,” sê Dennis. “’n Noorweër as ek die verpleegster reg verstaan het. Nie deel van ’n toergroep nie, blykbaar op sy eie. Sy sê

Скачать книгу