Amper Einstein. Christien Neser

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amper Einstein - Christien Neser страница 2

Amper Einstein - Christien Neser

Скачать книгу

oorheers het.

      Micha was ’n skreeuende, sieklike baba. Soos ouma Anne, wat daardie tyd by hulle kom bly het, dit gestel het: Bedags huil hy en snags ween hy. Een nag moes hulle pa weer apteek toe ry om vir die skreeubek medisyne te gaan koop. Dit het gereën, dit was donker en sy motorfiets het op ’n draai gegly. Dis nie net hulle pa wat seergekry het nie. Die hele Stein­man-gesin is van toe af gebreklik.

      “Ja, Mich, ongeluk is ’n slegte woord. Bly nou stil dat Mamma mooi kan bestuur.”

      “Ek wil ’n iPod hê, soos joune,” begin Micha in sy teemstemmetjie. “Maar ek wil nie na jou musiek luister nie, Pappa se musiek is baie beter. Dit maak mooi patrone in my kop.” Hy begin ’n fuga van Bach neurie: nootvas en ritmies korrek.

      Leonard verstom hom steeds elke dag aan die kind. Die een oomblik sal jy glo dat hy verstandelik vertraag is, en die volgende oomblik onthou hy telefoonnommers en motor­fabrikate asof hy ’n rekenaar is. En hier sing hy Bach!

      “As jy soet is by jou nuwe skool, sal ek my iPod vir jou gee. Maar eers aan die einde van die jaar.”

      Leonard weet hy vat ’n hengse kans. As jy vir Micha iets belowe, sal hy jou in ’n koma in kerm om sy sin te kry. Maar hy weet sy pa gaan vir hom vir Kersfees ’n nuwe foon met ’n mp3-funksie gee, so dan kan Micha maar hierdie een erf.

      “Ek wil ook sulke hare hê,” kerm Micha voort.

      “Watse hare?”

      “Sulke hare op my bene soos jy. En so ’n ding in my keel. Soos jy.”

      Leonard bars uit van die lag. Wat kook vanoggend weer in die outjie se brein?

      “Jy hoef net so tien jaar te wag, dan gaan jou bene nes myne lyk. En dan kry jy ook een van hierdie.” Hy vat liggies aan sy keel. “Mens noem dit ’n adamsappel.”

      Micha se gesig verhelder. “Ek wil hom eet. Mamma het vir my ’n adamsappel ingepak. Ek gaan hom in my keel kry!”

      “Jy kan dit nie eet nie, Micha. Jy het net ’n gewone appel in jou kosblik. Hierdie een groei self in jou keel, maar jy moet nog lank wag. Tien jaar.” Leonard probeer oogkontak maak, maar sy boetie kyk by hom verby.

      “Hoeveel slapies?”

      “Dis tien maal 365 dae. Maak die som.”

      “Dis drieduisend seshonderd en vyftig,” sê Micha ná ’n oomblik.

      “Reg so, genius. Los my nou, ek luister musiek.”

      Toe Leonard sy oorfoon terugsit, begin Micha weer die sit­plek voor hom skop.

      Leonard vou sy arms en maak sy oë toe. Jammer, hy het nou sy deel gedoen. Sy ma moet self die volgende tien minute hanteer. Hy loer vinnig na sy horlosie. Dit beter net tien minute wees! Hy is gatvol vir laatkom en verskonings maak.

      “Lamborghini, Lancia, Lexus!” gil Micha.

      “Stop dit!” skree sy ma. “Bly tog net vir vyf minute stil, Micha! Ons is amper by Lennie se skool.”

      Leonard sug. Hy haal weer sy oorfone uit. Die kind gaan nou begin motorname opnoem. Alfabeties. Net soos dit agter­in die Car-tydskrif gelys is. Vir ander mense is dit ’n skreeu­snaakse en verbysterende partytjietriek, maar vir Micha se huis­mense is dit die teken dat hy naby aan ’n uitbarsting is. Hy ryg gewoonlik die motorname uit tot hier by R of S en dan ontplof hy. Hy sal in sirkels hardloop, sy kop teen die muur stamp of soos ’n vark begin skree.

      “Mazda, Mercedes, Mini, Mitsubishi!”

      “Micha! Asseblief!”

      Ma, jy dinges teen die donderweer, wil Leonard vir haar sê. Maar hy swyg. Want niks gaan nou vir Micha stop nie.

      “Saab, Subaru, Suzuki …”

      Geelvis swaai wild en hop tot op die sypaadjie. Leonard kap sy kop teen die ruit; Micha val halflyf uit sy stoeltjie. Sy ma beur tussen die voorste sitplekke deur en kry hom aan die skouers beet. Sy pluk hom nader aan haar en toe sy lostrek, kan Leonard sien hoe fyn spoegdruppels in Micha se gesig spat.

      “Micha. Luister nou mooi vir my. Vandag is ons heel laaste kans. Jy MOET na juffrou Gerda se klas toe gaan en jy MOET vir haar luister. Anders kan jy nie volgende jaar groot skool toe gaan nie. Verstaan jy my? Jy MOET met die ander maatjies speel! Jy …”

      Leonard sien hoe sy ma al weer in dieselfde slagyster trap: sy skree op Micha. En sy wéét dat hy afskakel as jy op hom skree. Dan hoor hy net ’n gezoem in sy ore.

      Micha draai sy kop weg. “Mamma se asem stink.” Hy staar uitdrukkingloos na die sitplek voor hom. “Tata, Toyota …”

      Whap! weerklink dit toe sy ma se plathand Micha se wang tref.

      Leonard kry seer vir haar onthalwe. Hy weet hoe sy voel. En hy weet dis absoluut teen haar beginsels om te slaan. Hy kan nie ’n enkele pak slae onthou nie, nie vir hom nie, nie vir Micha nie. Maar vanoggend het sy gevou.

      “Ekskuus, Michie, ekskuus, Michie,” prewel sy oor en oor, haar oë vol trane.

      Leonard wil uit sy klere klim. Sy ma het ’n duisend keer seerder gekry as Micha. En al haar verskonings is verlore op die klein wetter. Hy is al klaar weer in lala-land, met sy hand wat langs sy oor begin flapper.

      “Kan ons verdomp nou ry!” bulder Leonard. “Die skool be­gin oor presies vyf minute!” Magtag, as almal in hierdie kar hulle humeur kan verloor, is dit nou sý beurt.

      “Kan ons verdomp nou ry!” sê Micha agterna.

      Sy ma draai terug en skakel die kar aan. “Sien jy nou, Leonard,” snuif sy kwaad. “Ek vra jou mooi om nie voor Micha te vloek nie!”

      Dankie, Ma, dis perfek. Vreet my uit: ek leer Micha vloek. Solank Ma net van die klap kan vergeet. Maar hy sê niks. Arme Ma.

      Gewoonlik laai sy hom ’n blok van die skool se hek af sodat hy die laaste ent stap. Maar vanoggend is hulle heeltemal te laat. Hy maak sy sitplekgordel los en die deur oop nog voor Geelvis stil staan. Hoe vinniger hy hier uitkom, hoe beter.

      “Len! Hoezit?”

      Dis Jarred. Hy kom aangeslenter asof daar nog tonne tyd is voor die skool begin.

      “Môre, tannie! Lekker koud, nè?”

      Leonard kan ’n aar pop toe Jarred eers ewe rustig by sy ma se venster gaan buk. Hulle is laat! Dan leun Jarred by die agtervenster in en vryf Micha se hare deurmekaar.

      Leonard voel siek. As iemand aan Micha se kop vat, verloor hy dit.

      “Hoezit, Junkhead? Ek hoor jy gaan skool toe?” Jarred haal ’n fizzer uit sy baadjiesak en gee dit vir Micha. “Dis vir lunchtyd, hoor!”

      Leonard wag op Micha se gille: die waansinnige geskree wat altyd losbars as iemand aan sy hare raak. Maar niks.

      “Ek vat sommer vanmiddag die bus, Ma!” roep Leonard oor sy skouer. “Ons werk aan die brug. Kom, Jarra, Moggel wag!”

      “Mooi ry, julle!” Jarred klap Geelvis op die

Скачать книгу