Amper Einstein. Christien Neser

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amper Einstein - Christien Neser страница 4

Amper Einstein - Christien Neser

Скачать книгу

nog nie oorweeg het nie. Of hy kan net aanhou stap, uit by die hek, oor die straat, tot by die busstop.

      Maar om te wat? Huis toe te gaan? Assebliéf. Sy pelle skryf nog almal, so hulle huise is uit.

      Dan word die besluit namens hom gemaak.

      “Hoort jy nie iewers in ’n klas nie, mannetjie?”

      Dis meneer Papenfus, die adjunkhoof. Ou Paap is ’n stil be­kruiper.

      “Ek is klaar met die Wiskunde-olimpiade, meneer.”

      “Naam?”

      “Steinman, meneer. Leonard Steinman, 10B.”

      “A! Steinman, Steinman … O ja, mevrou Smit het gister met my oor jou gepraat. Jy stel belang in die Esselen-beurs, nie waar nie?” Hy wag nie vir ’n antwoord nie. “Kom saam kantoor toe om die vorm te kry. Jy sal dit baie goed moet motiveer. Die beurs gaan gewoonlik net aan ’n matriekleerder.”

      Dan is dit asof hy hom bedink, en hy maak die opmerking wat Leonard se dag tot ’n nuwe laagtepunt afdruk. “Maar jou pa is mos verlam, nie waar nie? Dit sal in jou guns tel.”

      Leonard slof agter die Paap aan. Hy voel soos ’n welsyngeval. En soos ’n agterbakse pateet. Hy gaan nou bakhand staan vir ’n merietebeurs wat veronderstel is om ’n matriek se lewe makliker te maak. Sou die geld kontant uitbetaal word? Solank dit nie in sy ouers se rekening moet gaan nie, want dan koop dit kos en petrol.

      Hy vat die vorm en gaan sit in die kantoor se ontvangsarea om dit in te vul.

      Armgatte van die wêreld, unite! Armgatte is vorminvullers en hierdie een is seker die eerste van ’n dik stapel wat vo­rentoe vir hom lê en wag. Sy eie Everest van bedelbriewe.

      Terwyl hy sy hele lewe op die stuk papier blootlê, dink hy aan sy pa. Hoeveel keer het sy pa nie al gaan vorms invul nie. Hoeveel keer was dit nie onsuksesvol nie. Sy ouers vergeet soms dat mure ore het. Hy weet van die spul lenings waarvoor sy pa aansoek gedoen het – meestal sonder sukses. Hy weet van die petisies en vorms wat sy pa gedurig invul om geboue toeganklik te maak vir gestremdes. Hy weet van die dik pakke papierwerk wat sy pa ewe hoopvol by die plaaslike regering gaan indien. Net om maande later nog steeds geen reaksie te kry nie. Volkome stilte en apatie van die owerhede se kant.

      Terwyl hy die motivering uit sy duim sit en suig, roep iemand in die gang na die adjunkhoof. Toe die Paap uitstap, bly ’n dik walm van sy goedkoop naskeermiddel agter. Die reuk laat Leonard se neus jeuk en irriteer hom opnuut. Hy kyk rond. ’n Kromsteelpyp steek by die lessenaar se boonste laai uit.

      “Ek moet darem iets score uit hierdie bleddie vernederende proses,” mompel hy.

      Met ’n paar vinnige treë is hy by die lessenaar. Hy lig die pyp vies met twee vingers uit die laai en prop dit in sy broeksak. Super gross. Om te dink sy duim en voorvinger het gevat aan die stuk wat heeldag in die Paap se mond is! Hy beter gou by ’n badkamer kom.

      Toe hy klaar geskryf het, loop hy in die gang uit. “My vorm, meneer. Dis ingevul.”

      “Dankie, Steinman. Ek sal dit na die beheerraad verwys. Net seker maak: jy het die blokkie gemerk wat gestremdheid aandui …” Sy poffervinger soek die plek. “Ja, reg so.”

      Hy pluk sy mouboordjie met die goue mansjetknoop op en loer skreefoog na sy glimmende horlosie wat tussen digte swart armhare nestel. “Sorg dat jy in ’n toesigklas kom,” sê hy skielik streng, asof hy die vrou met wie hy staan en klets met sy gesag wil beïndruk. “Daar is nog ’n volle periode oor voor die skool uitkom. Toe, toe, laat jy beweeg!”

      “Ja, meneer.”

      Seker iewers in sy lyf ’n goeie hart, dink Leonard met die wegloop, maar hel, die man is so kommin soos gras. Daai verskriklike aftershave! Die wit sokkies! Die blink pakke! Die goue horlosie! Dis weer ’n nuwe een, en net so fake soos al die voriges. Die Paap hou seker eiehandig die plaaslike swart mark aan die lewe.

      Hy voel sommer bly dat hy die simpel pyp gescore het. Net aaptwak iewers kry, dan bou hy en Jarred en Greeff ’n brug uit die bose! Jarred sal sekerlik sy konneksies kan gebruik om vir hulle zoltwak in die hande te kry. Sy broer was al met gangsters deurmekaar, het volgens Jarred die tronk met die dikte van ’n polonieskil gemis.

      Solank Jarred se ma net nie uitvind nie, want vir haar is hulle almal bang. Tannie May sal hulle eers met haar tong in repe skeur en dan wat van hulle oor is in die hoof se kantoor kom gooi.

      Skielik draai sy maag van honger. As hy aan Jarred se ma dink, dink hy aan vetkoek: ’n groot, sponsige, sagte vetkoek met maalvleis in. Nee, dalk moet hy nie sy vetkoekverskaffer die dinges in maak nie.

      Hy sal wel ’n ander plan maak. Van Gogh het glo sy beste werk gedoen met ’n zol in die kies. Dis dalk net die X-faktor wat hulle bruggie kort. Al wat hy moet doen, is om vir Jarred te oortuig.

      4

      Leonard ken al sy ma se lyftaal.

      Hy’t pas by die huis ingestap en niemand het nog ’n woord gesê nie, maar hy voel dit aan: groot drieletterwoord. Sy ma is amper te vrolik en sy maak kos met ’n soort histeriese passie. Kap die uie wild en wakker, vee die rak met driftige hale af, ruk potte op die stoof rond.

      Ô-ô. Die snot is weer in die fan. Micha?

      “Pa al terug?” vra hy om die temperatuur te toets.

      “Nee, hy werk aan ’n voorlegging. Die nuwe Inkomste-kan­toor. Hy dink hy’t ’n goeie kans. Met regeringstenders kan hy altyd swaarder op die gestremde-kaart steun. Nie dat sy ontwerpe nie goed is nie. Inteendeel.”

      Dan is dit jy-weet-wie.

      “So wat het Micha vandag aangevang? Het die skool hom oorleef? Is sy juffrou al op Rescue Remedy?”

      Sy ma trek die pan van die stoof af, vee haar hande aan ’n vadoek af en bars in trane uit. Leonard sug. Dan was dit erg.

      Hy loop tot by haar en trek haar teen hom aan. Haar kop pas nou al onder sy sleutelbeen in. Hy troos al sy ma vandat hy met sy twee arms om haar heupe kon vashou. Dis nou seker al die beste deel van ses jaar.

      “Het die skool hom klaar uitgeskop? Way to go, boetie! Dis ’n nuwe rekord.” Hy weet hy klink gevoelloos, maar Micha maak hom óp.

      Sy ma skud haar kop teen sy skouer. “Nee, maar hulle gaan hom nie terugvat voordat ons ’n neuroloog gesien het nie.”

      Hy stoot sy ma van hom af weg, vat haar aan die skouers en kyk af na haar.

      “Dankie tog vir iemand met gesonde verstand! Wat sê ek en Pa nie al die laaste twee jaar vir Ma nie? Die kind makeer iets! Dis bleddie hoog tyd dat hy ’n brein-scan kry. Mens kan nie so aankarring nie!”

      “Daar is niks fout met sy brein nie! Hy is begaafd! Julle weet dit self! Dis net …” Sy vee met die vadoek oor haar oë. “Ek wil nie dat die dokters met sy kop lol nie. Sê nou hulle wil hom wegstuur na ’n inrigting toe? Of hom op medikasie sit wat van hom ’n zombie maak? Ek sal dit nie toelaat nie!”

      Leonard het hierdie argumente al soveel keer gehoor, hy sou ’n motorfiets kon koop as hy tien rand gekry het vir elke tirade. Hy bekyk sy ma: die arme mens. Wanneer gaan sy begin sien wat aangaan?

Скачать книгу