Amper Einstein. Christien Neser

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amper Einstein - Christien Neser страница 3

Amper Einstein - Christien Neser

Скачать книгу

se dag begin vrot.

      Moggel met sy boggel staan elke oggend met ’n knyperbord by die hek en skryf jou naam op as jy ’n sekonde ná halfagt deur die hek wals. Maar as daar ’n hele bondel laatkommers is, het die onderwyser nie ’n kans nie. Dan stoot almal mekaar in ’n groot, raserige skrum deur die hek en ignoreer ou Moggel soos ’n stopstraat. Vanoggend het Moggel wragtag vir Leonard en Jarred uitgepluk en hulle name opgeskryf. Een split-flippen-sekonde laat.

      Gelukkig het Leonard geen klasse by Moggel nie. Hy is baie seker die onnie weet nie eens wie hy is nie: Leonard Stein­­man, anonieme sluiper, man onder die radar. En dis nes hy dit wil hê. Dis ook hoekom hy nie wil hê sy ma moet met Geelvis voor die skoolhek stilhou nie. G’n onderwyser hoef te weet dat hy in so ’n rammelkas skool toe kom nie. Jarred sê sy ouma se buurvrou het presies so ’n Renault in haar agterplaas: vir haar hoenders.

      Maar Geelvis is sy ma se enigste wiele. Sý enigste wiele. Daar’s nie ’n ander opsie nie. Dis seker maar jou lot as jy deel van ’n SIF-familie is. Siffies is single income families, soos dit op hulle skoolregister aangedui word. Leonard en Jarred is Siffies. Een ouer se inkomste maak net nie al die gate toe nie.

      Diffies soos Greeff het dit baie makliker; ’n dubbelin­komste-familie weet van gereelde vakansies en verdere studies. Die top van die voedselketting is natuurlik families soos Hanne­lore s’n, waar die pa se inkomste nooit bespreek word nie. Leonard weet Han beskou dit as plein kommin om oor geld te praat; sy bly altyd net ongemaklik stil as hy en Jarred oor hul Sif-status kla.

      Dit kon seker erger gewees het. Daar is ook kinders in die skool wat Ziffies is: zero-inkomste-families. Dis nou waar die ouers werkloos is en nie skoolgeld hoef te betaal nie. Zif kids trek aan uit die tweedehandse klerebank wat Hannelore se ma agter die snoepie bedryf.

      Maar die vreemde ding is: die Zifs is die grootste ondersteuners van die snoepie. Daai een kon Leonard nog nooit uitwerk nie. Sy ses snye bruinbrood moet hom deur die dag kry, want sy ma sê snoepiekos is ’n luukse, hy moet sy eie sakgeld daarvoor gebruik. En die snoepie is ’n rip-off! Hy weier om iemand anders ryk te maak, veral nie vir ou Padda nie, die dik Ekonomie-onnie wat die plek bestuur.

      Waar Leonard agter in die Wiskundeklas sit, voel hy skielik lus om kliphard te begin skree. Hy is gatvol kwadraat vir sy stuk junk van ’n lewe. Asof dit nie genoeg is om ’n Sif te wees nie, het hy boonop ’n verlamde pa en ’n vertraagde broer. Oukei, nou nie heeltemal vertraag nie, maar weird, van ’n ander planeet af. Miskien is Jarred reg. Micha is ’n junkhead: sy kop is vol gemors wat g’n mens verstaan nie.

      “Leonard! Kan jy vir ons probleem nommer vier op die bord kom doen?”

      Hy ruk van die skrik, kyk verward rond, blaai dan haastig na die bladsy wat Greeff vir hom in sy oop boek beduie. Hy loop bord toe, vat die kryt en doen die probleem. Die stappe volg moeiteloos op mekaar en hy los die x sonder ’n hik op.

      “Dankie, Leonard,” sê mevrou Smit. “As jou 5’s en jou 3’s net nie presies dieselfde gelyk het nie! Gelukkig dat jy nou ’n strepie deur jou 7’s trek, dit lyk darem nie meer soos die 1’s nie. Is dit nou ’n Europese gewoonte wat jy aangeleer het?”

      Sy vee die som uit en skakel haar witbord aan. ’n Hele bladsy soortgelyke probleme verskyn.

      “Val weg, klas. Mini-olimpiade! Julle het presies 77 minute om te kyk hoe ver julle kom. Die toptien kry elkeen ’n Bar-One.” Die klas kreun. Dieselfde ou klomp geeks gaan weer die eet­goed kry, is die algemene gebrom.

      “Hei, juffrou se ou witbrood! Doen vir my ’n paar, toe?” Hannelore gee vir Leonard haar spelerige glimlag; die sonlig skitter op haar draadjies. “Ek kan dood vir ’n sjokkie vanoggend.”

      “Hannelore, doen jou eie werk,” sê Smittie kamma kwaai. “Of probeer jy Leonard se aandag aflei?”

      “As if …” sê iemand met ’n neerhalende snork.

      “Daai twee maak mos beurte om volpunte te kry,” smaal Jarred, “hulle besluit net wie se beurt dit vandag is. Lekker, my bra!” Hy gee vir Leonard ’n kamma speelse lammie op sy boarm. “Dié enetjie is net sodat jy nie te vinnig klaarmaak nie. Ons ordinary people soek ook ’n chocolate.”

      Leonard se oë traan. Die lammie was geniepsig en sy hand voel lam. As jou vriende jou só behandel, het jy wraggies nie vyande nodig nie.

      Snaaks, Jarred was nog nooit ooglopend jaloers nie. En hy is slim genoeg – hy is nie verniet deel van die klas se geek-­klub nie. Dis in elk geval hoe die ander na Leonard se brugbouspan verwys: hy, Jarred, Hannelore en Greeff. Hoogste punte in wiskunde impliseer jy moet inskryf vir ekspo’s en olimpiades. Dit beteken jy sit pouses eenkant van die cool crowd. Dit beteken jy word nie na partytjies genooi nie. By hulle skool word ’n geek as ’n sosiale melaatse beskou; jy kry ’n bynaam soos Einsteinman.

      Leonard voel zilch, zero, nada. Solank nerd-wees vir hom ’n plek in ’n goeie varsity gaan kry, kan die designer jeans-­spulletjie maar hulle partytjies in hulle dingese opdruk. Sy pa het hom hoeka al getroos met die storie dat vandag se spotters eendag vir die nerds gaan werk. Die akademiese wrak­ke teken op die ou end die main manne se salaristjeks.

      “Dankie, dis heeltemal genoeg!” Smittie se speelse bui is oor. “Nou bly julle stil en julle werk. Nog ’n woord en ek trek 5% van jou vraestel af.”

      Smittie is oukei, dink Leonard terwyl hy vinnig die probleme oplos. Sy karring aan hom oor sy handskrif, maar sy gee hom kudos vir sy wiskunde. As alle vakke net só was: ordelik, logies, vanselfsprekend. As die lewe net so was. As jy die onbekende net so maklik in jou eie huis kon oplos!

      Maar in sy huis het die probleem drie onbekendes; die vergelyking is onmoontlik om op te los. Huilerige ma (x) + morbiede pa (y) + psycho-broer (z). Waar pas hy in? Hy voel soos die enigste normale mens in ’n familie van sirkus-freaks.

      Hy bly gelukkig te ver van die skool af dat daar gedurig pelle kan kom kuier. Daarenteen is hý byna elke weeksmiddag by Hannelore of Jarred of Greeff se huis. Hulle kan sommer van die skool af soontoe stap en daar is altyd ’n normale ma of ’n vriendelike huishulp wat hulle kosgee. Niemand hoef katvoet te loop om ’n ma met ’n bewende onderlip of ’n maniese klein telg wat kort-kort ’n vloermoer gooi nie.

      Nog net twee jaar en ses maande, sug hy vir die soveelste keer. ’n Bietjie meer as twee jaar se vasbyt en hy is weg varsity toe. Uit die huis uit, weg, vir altyd. Hy moet net sorg vir ’n paar beurse. Hy is seker Smittie sal hom help om iewers ’n Wiskundebeurs uit te krap; sy het al so half en half belowe. Dan moet hy net vanjaar die Brugbou-kompetisie looi en ’n goeie inskrywing gereed kry vir die Wetenskap-ekspo.

      Die dag toe die ingenieursinstituut by die skool was om die brugbou-storie bekend te stel, het daai ou gesê ’n goue medalje vir brugbou is soos ’n groenkaart in Amerika: jy kan maar instap by die varsity van jou keuse. En dan gee die sponsors jou boonop ’n kleinhuisie vol bokke! Leonard ril van lekkerkry. Geld gaan vir hom vryheid koop!

      Hy maak die laaste som klaar en stap vorentoe. Onder ’n koor van protes hou hy sy vraestel na Smittie uit. Sy kyk dit vlugtig deur, krap ’n paar regmerke en gee hom sy Bar-One.

      “Alles reg.” Sy sug en kyk op haar horlosie.

      Leonard weet wat sy dink: die eerste periode is nog nie eens verby nie, hy gaan amper ’n uur iewers moet omkry.

      “Gaan hou jou stil besig in die mediasentrum,” fluister sy vir hom. “Daar is artikels oor brugbou wat ek vir julle laat uit­hou het.”

      Hy

Скачать книгу