Kies die lewe. Solly Ozrovech

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Kies die lewe - Solly Ozrovech

Скачать книгу

      16 Februarie

      Nehemia 6:1–14

      Christelike besluitneming

      Ek het gesê: Sal ’n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie! – Neh 6:11

      ~

      Wanneer jy moeilike besluite moet neem, neig jy om dit uit te stel of te vermy solank jy kan. Hierdie gesindheid bring egter net onsekerheid en selfverwyt. Om ’n lewe van vrede en gemoedsrus te ken, moet jy biddend opsien na die Leidsman en die Voleinder van jou geloof en jou beslissings maak. Hoe langer ’n mens dit uitstel, hoe swaarder lê dit op jou gemoed. Dan word die lewe vir jou ’n las en word jy maklik die prooi van terneergedruktheid of depressie.

      Wanneer jy ’n belangrike beslissing moet neem, moet jy nie daarvan wegdraai of dit probeer vermy nie. Dit sal nie maar net verdwyn nie. Neem God in jou vertroue en stel dit biddend en gelowig aan Hom. Stel jou gemoed oop vir die werking van die Heilige Gees. Hy sal jou lei om God se wil te ken. Hy sal jou ook krag gee om met Christelike waagmoed die regte besluit te neem en uit te voer.

      Daar is ’n tyd om besluite te neem. As dit verspeel word deur twyfel of uitstel, is dit vir altyd verby en die nadelige gevolge kan onuitwisbaar wees. Om na die wil van God in gehoorsaamheid te besluit en te handel, bring vrede in jou gemoed.

      Vader, ek kom bespreek met U die deurslaggewende besluite in my lewe en dank U opreg vir die leiding van u Heilige Gees.

      17 Februarie

      Klaagliedere 3:21–30

      In die leerskool van geduld

      […] dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here. – Klaagl 3:26

      ~

      Dit gebeur soms dat mense met God ongeduldig word. Hoe verskriklik sou dit nie wees as dit andersom was nie! Dikwels voel mense, al sou hulle dit nie sê nie, dat hul geduld met God opraak. As hulle bid en hul gebede word nie binne ’n vasgestelde tyd beantwoord nie, betwyfel hulle God se gewilligheid en vermoë om hul pleitredes te beantwoord. Soms raak hulle so ongeduldig dat hulle God selfs tot verantwoording wil roep.

      Om jou eie planne te beraam en dan God se seën daarop af te bid, is om God soos ’n rubberstempel te gebruik om jou planne te wettig. As jy God se seën wil hê, moet jy sy voorwaardes aanvaar.

      As jy ongeduldig word oor die pas waarteen God werk, is dit ’n aanduiding dat jy dinge op jou manier wil doen. As God jou laat wag op ’n antwoord, is dit moontlik dat Hy besig is om jou ’n les te leer – ’n les wat vir jou geestelike groei noodsaaklik is.

      Wanneer jy eers geleer het om jou aan die wil van God te onderwerp, bring dit mee dat jou persoonlikheid vervul en jou geestelike karakter verryk word. As Hy jou soms laat wag op ’n antwoord op jou gebede, wees dankbaar en leer die les wat God besig is om aan jou deur te gee.

      Vader van genade, skenk my geduld terwyl U besig is om u wil aan my te openbaar.

      18 Februarie

      Psalm 103:1–22

      Loof die Here!

      Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. – Ps 103:1

      ~

      Dit is goed om die Here te loof. Lofsang hóórt in aanbidding, byeenkomste, gebeds- en Bybelstudiegroepe. Dit hóórt in die literatuur wat op groot skaal geproduseer word, maar ook in die gesprekke en liedere wat ons hoor. Dit hóórt inderdaad so, want dit is die doel van die skepping. God is die hoogste lof waardig. Dit is die Christen se plig en voorreg om sy Naam te verheerlik!

      Die Skrif is vol van oproepe tot lofbetuiging. By die toegewyde Christen is daar dan ook ’n diepe hunkering om aan die Here lof en dank toe te bring en om Hom te besing as die Almagtige, die Skepper en Herskepper!

      Die Christen moet besef waarom hy God prys, anders word sy woorde betekenisloos en oppervlakkig. Jou omstandighede mag vir jou verwarrend en onbegryplik wees, maar juis dan het lofprysings ’n besondere betekenis. Jy loof God omdat Hy met jou is, omdat Hy beheer het oor jou lewe, omdat Hy alles ten goede vir jou laat meewerk. Dan smelt jou lofsang saam met dié van al sy skepsels in die hemel en op die aarde in ’n nimmereindigende loflied tot sy eer:

      “Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere!

      Lofsing die Koning, die Skepper, die Vader, die Here!

      Loof almal saam; groot is sy heilige Naam!

      Loof Hom die Heer van die here!” (Ges 63:1)

      Ek wil U loof, o Here! Solank as wat ek lewe wil ek U loof!

      19 Februarie

      1 Johannes 2:28–3:10

      Eie kinders of weeskinders?

      Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. – 1 Joh 3:1

      ~

      Baie mense wat op Sondae “Ons Vader” bid, leef gedurende die week asof hulle weeskinders is.

      Die Vaderskap van God is ’n aangrypende Christelike waarheid. Dit wis alle verskille uit en verhef die mens bo ’n blote sondaar of nommer op ’n komper – hy word ’n individu wat na die beeld van God geskep is.

      Ongelukkig is baie mense onbewus van hul Goddelike erflating en leef hulle voort sonder om te besef wat hulle in God se krag kan vermag. Hul lewe word beheers deur die vrees dat hulle hulself sal verloën as hulle alles aan God gee. Daarom is hulle gefrustreerd en lewe hulle sonder inspirasie vir die hede of hoop vir die toekoms.

      Dit is tragies om na die beeld van God geskep te wees, die reg te hê om Hom “Vader” te noem, en tog alleen voort te worstel asof Hy nie bestaan nie. Al wat nodig is om jou kindskap op te eis, is om Hom onvoorwaardelik aan te neem en in Hom te glo.

      Jou lewe sal soveel makliker en meer bevredigend verloop as jy ophou om ’n “weeskind” te wees en Hom aanneem as jou hemelse Vader. Sy liefdevolle arms is na jou uitgestrek om jou in liefde te omhels en jou sy eie te maak.

      Hemelse Vader, laat my jubel in die seker wete dat ek deur Jesus Christus vir ewig u kind is.

      20 Februarie

      2 Korintiërs 5:11–21

      Van groewe en grafte

      Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God. – 2 Kor 5:17–18

      ~

      Daar is net ’n diepteverskil tussen ’n graf en ’n groef. Daarom is dit so gevaarlik om toe te laat dat ’n siellose eentonigheid oor jou le­we neerdaal.

      ’n

Скачать книгу