Monument. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Monument - Maretha Maartens страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Monument - Maretha Maartens

Скачать книгу

’n blaar, onversteurbaar en sonder haas het hy Sondag na Sondag die artikels van die Heidelbergse kategismus met die belydenisklas deurgewerk. Hy het na die hiernamaals gehunker en dit in die woorde van Paulus aan die Filippense vir hulle gesê: “Ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.”

      Hy kon nie heengaan nie, want sy vrou was swart soos haar huiswerker van chroniese nierversaking. Hy moes haar nog eers deursien.

      Jare later, toe Margo ’n boek oor El Greco in die Gericke-biblioteek op Stellenbosch deurblaai, het sy oom Stander daarin aangetref, sy ouderlingsbaadjie verruil vir die geelbruin skouerkleed van Simon Petrus in St. Peter in Penitence, die sleutels van die Koninkryk by hom.

      “Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe, belydenisklas? Hoor wat sê die Heidelbergse kategismus: ‘My enigste troos is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.’ ”

      Ek voel geen troos nie, oom Stander.

      “Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.”

      Vir Ma Chris ook, oom Stander?

      “Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.”

      Die verwoesting wat Ma Chris en Lukas Lubbe aangerig het, tot my saligheid? Die verwoesting wat my pa aangerig het, tot ons almal se heil?

      “Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

      Ek is dood, oom Stander. En onoortuigbaar. Op sestien het ek oom só sit en kyk, so seker van alles, so ’n deurwinterde, God-deurligte mens. Nou is ek ook verwoes, derdegraadse brandwonde, ontploffing in my gesig, nog een.

      Ek wil landuit, maar nie saam met die swerms nie. Ek wil gaan dwaal waar niemand my ken nie.

      Hoofstuk 4

MONUMENT.%20Breekware%20leeg.JPG

      Die beeste op die brandveld roer nie; op ’n afstand sou hulle vir miershope aangesien kon word. Maar agter hulle, diep in die rook, beduie die bloekomtoppe dat sy lank genoeg vertoef het. Dat sy haar ry moet kry.

      Dit is verby, almal is weg. Oumbecca rus in die kerkhof, maar nie sag nie. Niemand rus sag in die harde skoot van die aarde nie. Hier waar die land so droog is, die winters so koud, hoogsomer hel en die atmosfeer so gelaai bo die plase met meer as agtduisend plaasmoorde, allermins.

      Wat het van die klas van 2003, Deo Gloria se eerste matriekklas, geword?

      Die Koei is voor 2003 weg. Sy was sestien toe sy in die vroeë oggendure saam met ’n nege en twintigjarige getroude man, die pa van twee kinders, in ’n motorfietsongeluk in Bloemfontein gesterf het. Haar ma se huilende gesig was in die koerant. Die Koei was haar lieflingskind, ’n engel met ’n hart van goud, dis dié dat hulle so bly was sy is van die dorpskool na ’n Christenskool gestuur, met die ouderling wat haar gesponsor het. Net oor sy een keer, toe dinge vir haar te veel geraak het, die byname en gespot en haar naam op die mure, met hom gaan praat het.

      “Oy vey!” kom die Jiddisje uitroep vanself. Toe Margo haar kamerasak uit die paneelkissie haal, is dit olierig nat en donker gevlek. Israeli’s swets, murmureer en beledig ander aansteeklik beter as Boere: Mishegass! Belaglik! Goyisher kop! Heidenbrein! Shtick dreck!Nuttelose gemors! Oy vey iz mir! Ag, wee my!

      ’n Buis handeroom uit haar studentejare het in die mossienes agtergebly. Terwyl sy landuit was, het die room rens geraak en teruggekeer na wat dit voor vermenging was, stof uit stof, goedkoop olie uit bekostigbare handeroom. Ná Ma Chris en Pa Boet se egskeiding was daar geld vir niks.

      In die mossienes is daar niks waarmee sy die kamerasak kan skoonmaak nie. Sy moet ’n waslap uit haar oornagtas op die agtersitplek haal.

      Die binneruim van haar motor is erger bemors as wat sy gedink het. Noudat sy oor die rugleuning van die bestuurdersitplek moet hang om haar tas te kan ooprits, kry sy die reuk van onbekende mense en sigaret-as. Daar is koeldrankstrooitjies en papiersnippers, opgeskeurde koeverte in die oop asbak. Daar is ook kinderspore: roomysvlekke op die agtersitplek se bekleedsel, ’n pap rooi ballon, ’n ballonstok van plastiek. Die vloermatte is vuil getrap.

      Sy kry pinsette en ongebruikte bruin koeverte in die sak agter die bestuurdersitplek. Dis soos Pandora se kis. Drie pinsette. Vier pinsette. Ses pinsette, groot en stewig. Nog twee pinsette heel onder in die sak.

      Waarvoor het Adriaan-hulle pinsette saamgery terwyl sy weg was? Bontpootbosluise?

      Die veldbrand is aan weerskante van die waterpyp en die suiptrog verby, deur die doringdraadheining, onder die telefoon- en kragdrade deur, deur die droë rooigras en rommel in die sloot onderkant die padskouer, oor Augustusmaand se botterblomme teen die wal. Die gladde linkerbande van haar studentemotor staan op brand-as.

      Sy hurk teen die wal en neem ’n foto van die beeste in die draaiende rook in.

      “Gee foto’s jou ook ’n greep op die werklikheid, Bubbeleh?” het Yachin eenkeer gevra.

      “Wel …wanneer ek nie vinnig genoeg kan skryf nie, beskou ek foto’s as snelskrif.”

      “As ek sonder ’n kamera moes klaarkom, sou ek seker maar die opsigter van ’n Shul geword het.”

      Sy kon haar dit nie voorstel nie: opsigter van ’n sinagoge.

      Hy het uit die skerm weggekliek en foto’s begin oopmaak: Tel Aviv se Rollers op rolskaatse in die nagstrate, die straatlampe soos vlammende balle. Sy het hom ook op sy rolskaatse afgeneem, wilde krulhare, spiere snaarstyf, want ’n atleet is hy nie. “Dis fantasties!” het hy na haar geroep. “Ons moes lankal gekom het!”

      Hy lag die foto vol.

      Tel Aviv se kunsmuseum, lig en ruimte, passie. Iets het vry geword in haar toe Yachin haar daarheen geneem het. In daardie ruimtes wou sy vlieg en dans. Dit was asof sy die donkerte finaal agtergelaat het. Vir ’n oomblik het sy geweet dat sy weer sou begin studeer. Dat sy sou klaarmaak wat sy begin het, ononderhandelbaar. Dat ruimte en lig gebou en geskep kan word soos in die sale van dié museum.

      Yachin se foto’s, óf so skoon en direk dat alles honderdvoudig meer intens is, óf laag op laag, juigend of skrikwekkend. Baie van die foto’s wat hy daardie dag in Tel Aviv geneem het, was van die tweede soort: ’n jongleur met ses bottels in die lug, ’n paar soldate wat op die agtergrond roomys eet; die ingang na ’n bomskuiling agter die soldate, skoolkinders wat blomme op die skuiling verf.

      Yachin Nahum het musiek vir haar oopgekliek: ’n tromspeler, ’n pianis wat op die houtdek van die nuwe hawe sit en klavierspeel, ’n kind wat hande agter die rug toekyk; ’n ou vrou met ’n fluit, die Israelse Filharmoniese Orkes. Nee, nie die onbepaalde lidwoord nie, want hulle het saam na hulle almal geluister. Die jongleur. Die tromspeler. Die ou vrou met die fluit. Die klavier, die kunstenaar, die kind.

      Laat dit vir ewig aanhou, het sy gewens.

      Maar hy het teruggekliek, koerant toe, werk toe. Dalk het hy die musiek nie vir haar oopgekliek nie. Dalk was dit net foto’s, vir homself.

      “Jy

Скачать книгу