Monument. Maretha Maartens

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Monument - Maretha Maartens страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Monument - Maretha Maartens

Скачать книгу

bo die koffietafel, sy oë klinies gefokus soos dié van ’n mikrobioloog by ’n petribakkie.

      Geneig om op sy eie planeet te wees, het Oumbecca haar kop geskud. Was dit nie vir kindersielkunde wat tussen toe en nou in die prentjie gekom het nie, het sy boude al ’n paar keer onder hierdie dak gebrand. Jou ma het kleintyd geweet waar die streep getrek is. En waar die streep nog nie getrek was nie, het sy ’n vermoede gehad hy is daar iewers. Soos wanneer ek haar met die klein albumpie betrap het.

      Die klein albumpie, kosbaarder as die Qumran-perkamentrolle, vingerafdruk van die familieheilige. Foto’s en gedagtes van Angelina Edwards-Fourie Wessels, Oumbecca se ma.

      Oumbecca het gereeld vertel hoe vol sy haar hande met Ma Chris gehad het.

      “Nuuskierig verby, altyd waar sy nie moes wees nie. As dit so stil word in die huis, het ek geweet sy blaai in die klein albumpie. Of sy staan in haar pa se helm en kamaste voor die lang spieël in die blou kamer. As ek haar nie voor die spieël gekry het nie, moes ek maar net agter die dubbelbed gaan kyk.”

      “Wat het Mamma daar gedoen, Oumbecca?”

      “Die patrone uit haar pa se patroonband soos soldate op parade op die vloer uitgepak. En haar asem opgehou sodat ek nie moes hoor nie. Hulle was almal lewendig, die patrone. Sy kon haar hande nie van daardie patrone afhou nie, dit was asof sy met die pa wat sy nooit geken het nie se nagedagtenis speel.”

      “Toe was Ouma nog nie met Uncle Bill getroud nie, nè?”

      “Ons is in 1950 getroud.”

      Saaklik, want Bill Hallman was die fout van Oumbecca se lewe. Ma Chris het die rusies gehoor, eenkeer vir iemand oor die telefoon daarvan vertel. Hoe haar ma kop onderstebo voor die familie se konsentrasiekamp-ouma gesit het: “ ’n Engelsman wat jou pa kon gewees het, Rebecca, ’n Éngelsman, terwyl jy die weduwee is van een van die byna twaalfduisend soldate wat vir die Commonwealth gesneuwel het, so nodeloos.”

      Asof 1901, David Edwards die Engelse soldaat, die Winburgse konsentrasiekamp, die kosproeër op die vullishope en die nag toe konsentrasiekamp-ouma Jacomina Fourie haar kind in ’n sinkbad gedoop het, ’n droom was, alles net ’n droom.

      Die hele tyd wat Margo onder Adriaan se dak was, was Diederick se bene nie ’n oomblik lank stil nie. Die bril het ’n groot verskil aan sy voorkoms gemaak. Dit het haar opgeval dat hy Cheri se oogkleur en Adriaan se swaar oogbanke het.

      “Hoekom het Adriaan sulke oë, Oumbecca?” Sy was vyf of ses, Adriaan twaalf of dertien.

      “Watse oë?”

      “Hy’t nie oogklappe soos ek nie.”

      “Jy bedoel ooglede?”

      “Ja, ooglede. Hoekom het ek ooglede en hy nie?”

      “Hy trek op die Van Rooyens.”

      “Wie is die Van Rooyens, Oumbecca?”

      “Julle pa se voorouers aan moederskant. Sy ma was ’n nooi Van Rooyen, broerskind of niggie van Ignatius van Rooyen wat vir George Mousley van agter af op die Bethlehem-pad doodgeskiet en buite Ficksburg in ’n vlak graf begrawe het.”

      “Wie was George Mousley? En hoekom …”

      Dan sou Oumbecca begin vertel.

      Onder haar dak is daar soms onverwags aan die spinnerakdrade van die nimmereindigende oorloë van die land getrek: die grote, die Anglo-Boereoorlog. Eerste Wêreldoorlog en die oorlog in die kleine daarteen, die Rebellie. Die Tweede Wêreldoorlog. Oupa Johannes Strydom, die liefde van Oumbecca se lewe, in 6 SA Pantserdivisie, vrywilliger ter wille van die geld. Hy wou grond koop, hy was nie gemaak vir die stad of vir die herstel van lugremme en warm as-busse in die Spoorweë se werkswinkels nie.

      Ma Chris is verwek gedurende ’n naweekpas van Zonder­water, waar hy opleiding ondergaan het.

      Margo kon sien hoe die web in Oumbecca se oë roer. Raak jy aan een sydraad in die geskiedenis van hierdie land, raak jy aan ’n web wat oor tyd, families, kontinente, lewens en nooit gesêde dinge span.

      Toe Margo se plaasbesoek verby was en sy wou vertrek, was Attie soek. Hulle het hom buite op die werf gekry. Wap-wap! Wapwapwapwap het die kind alles wat voorkom met ’n dik stok loop en slaan. Hoenders het krysend uit sy pad gevlug, stukke boombas het deur die lug getrek, blare het gewaai, leë verfblikke het gekletter en gerol. Blomstingels was geknak, want hy het ook die enkele magrietjiebos bygekom.

      Hy het geweier om te kom groet.

      Sy suster het in die droë wind gegaap. “Hy’s iets vreesliks.” Haar mond het lank oop gebly; haar oë het getraan.

      Hulle het saam met Margo motor toe gestap: vier van hulle plus die hond – ’n kruising wat nie moes gewees het nie en wat haar enkels bly beruik het.

      Cheri het afgebuk, ’n kous van die grond af opgetel en dit weer aan die wasgoeddraad gaan vasknip. “Ons los hom maar,” het sy in die kind se rigting beduie. “Anders is hy snags tot halftwaalf, twaalfuur wakker. Diederick was ook so gewees. Attie, gaan speel weg van die wasgoed af.”

      Attie het die kledingstukke aan die wasgoeddraad op die ry af geslaan, die grand finale. By die verste wasgoedpaal het hy begin klippe optel.

      Adriaan het gewaarsku: “Jy gooi nie diékant toe nie, hoor jy vir my?”

      Dalk het Cheri gevoel dat sy ’n verklaring aan Margo verskuldig was: “Só word hulle in hierdie land.”

      “Ons het ’n plaasaanval gehad,” het Adriaan bygevoeg. “ ’n Kilometer hiervandaan, soos die kraai vlieg.”

      Hy het Margo die nuwe-Suid-Afrika-kyk gegee: dinge het verander terwyl jy weg was. En sê nét iets.

      “Daardie kind is skerp,” het Cheri voortgegaan. “Hy mag net vyf jaar oud wees …”

      Adriaan het haar doodgepraat, die haat in sy oë soos ’n kruipende vlam wat die lont verteer. “Die ou vrou is eers verkrag, toe drie keer geskiet. Sy het die Sondagskool op Bokpos begin, sewe en tagtig jaar oud.”

      “As die future klaar hier was, het dit nie met haar gebeur nie.” Diederick, dons op die bolip en pupille te groot in die middaglig, het van die kant af ingeval asof hy ’n deur oopskop. Hy het met háár gepraat, familie.

      Cheri het met die hand gekeer, asof iemand wat met iets op loop raak, gekeer kan word: “Jy en jou science fiction.”

      Hoe neerdrukkend was die werf met sy verroeste metaalskroot en weggooigoed: veevoersakke, buitebande, kartonbokse en sinkplate, stukke doring- en staaldraad, koeldrank- en bierbottels, ’n kastrol met ’n swartgebrande boom, ’n toiletdeksel, son- en waterbeskadigde skooloefeningboeke. Die Wes-Vrystaatse landskap – molshope, dwarrelwinde oor die rooi ploeglande, lae rantjies, botterblomme geler as botter en gesmelte soetmelkkaas – was in ’n skulp van lig en lug, ’n resonansieholte vir die hoorbare en onhoorbare krete van hadidas en mense. Snags, het Margo opeens onthou, is dié stuk aarde skurf en klein soos ’n appelkoospit in die sonnestelsel op die rand van die Melkwegspiraal. Snags het sterre, swartgatkolke, asteroïedegordels, newelwolke en planete soos vuurwerk in die heelal om Oumbecca se huis ontplof.

      Op laerskool het Oumbecca baie weeksoggende – want naweke

Скачать книгу