Slagyster. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Slagyster - Rudie van Rensburg страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Slagyster - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

grensloos, veral as Ben hom soos ’n kind behandel.

      “Wel, ons het ’n paar ouens in hoë kringe op ons payroll. As húlle ons nie uit die moeilikheid kan kry nie, weet ek nie wie kan nie. Jy’s te nervous, Brink. Jy moet leer om my oordeel te vertrou.” Hy beduie rond in die kamer. “Sonder my sou jy nie hier gesit het nie, maar nog steeds in Monte Vista vir kinders aardrykskunde­lessies gegee het.”

      “Ja, ja, dis nou al ’n afgesaagde rympie.” Sulke neerhalende opmerkings oor sy vorige beroep boor altyd by Brink ’n gevoelige senuwee raak. Dit bly ’n job waarna hy nog dikwels verlang.

      “Hoeveel gaan ons kan maak uit dié deal?” wil Dolf by Ben weet. Brink merk op hoe sy oë glinster. Sy gierigheid het lankal sy oordeel opgeneuk en hy het net so ’n geldwolf soos Ben geraak.

      “Ons sal op die minste vir ons ’n private jet kan koop. Dink net hoe lekker dit gaan wees om dan na die Oekraïne te vlieg,” sê Ben en lig sy bier in Brink se rigting. “Tjorts.”

      5

      “Ons wil graag ’n storie oor jou olyfplaas skryf,” sê die verslaggewer van Landbouweekblad oor die foon.

      “Ek … ek dink nie my boerdery is al goed genoeg op dreef nie. Ek sou verkies dat julle nie nou al daaroor skryf nie. Trouens, ek is nog glad nie reg vir julle nie. Hier’s ander boere in die kontrei wat julle eerder kan kontak,” skerm Carl.

      “Is jy doodseker?”

      “Ek’s honderd persent seker.”

      Hy sit die foon neer en sug. Die grond bly vreemd vir hom, hy voel nog nie deel daarvan nie. Al het hy Carl Bester onderaan die transaksie van byna nege miljoen rand geteken. Hy skram weg van mense wat opgewonde raak oor sy boerdery. Hy bou voortdurend skanse om sy gewete te sus. Dis waarom hy die verslaggewer wegwys, hy soek nie publisiteit nie. Hy wil soos ’n polisiemol sy plaas in die geheim bedryf.

      Hy wil só graag glo hy geniet wat hy doen, maar sy gewete bly aan hom knaag. Hy slaap sleg en kry soms ’n beklemming asof ’n groot hand die lug uit sy borskas pers. Só erg dat hy buitetoe moet vlug. Die sterre in die Karoohemel, wat veronderstel is om rustigheid in sy gemoed te bring, skyn dan soos soekligte op hom.

      Die wete dat dwelmgeld waarop beslag gelê word vir die staatskas bestem is, het hy in daardie stoor uit sy gedagtes geweer. Nou het dit egter ’n refrein geraak.

      Aanvanklik het dit hom nie van stryk gebring nie. Hy het ’n deel van die sestien miljoen rand belê en die res was meer as voldoende om die duurste en grootste olyfplaas in die Klein-Karoo mee te koop. Gevestigde bome wat tafelolywe van die hoogste gehalte lewer, ’n aanleg wat olyfolie vir die uitvoermark voorsien. Met oestyd sal hy meer as drie honderd mense in diens moet neem. Dis dié spogplaas tussen Prins Albert en Oudtshoorn, volgens baie die mekka van die beste olywe in die land.

      Nou is hy baas van sy eie plaas … en steeds alleen.

      Hy was ook alleen toe hy die dwelmwêreld ondergrawe het. Toe wou hy wegkom van al daardie gedagtes oor sy egskeiding, van die onregte wat hy sy vrou in die proses aangedoen het, en die doodsheid van roetine. Dit het hom in ’n mate gepas, maar hy het tog daarna uitgesien om weer normaal te lewe. Die mens is van nature ’n groepsdier. Hy wil deel wees van vriende, ’n groep, ’n gemeenskap. Carl sou kon byvoeg dat hy liefde wil gee en ontvang, dat hy sy intieme lewe met iemand wil deel. Maar hy het nie ’n goeie rekord as dit by vroue kom nie.

      Hy het die meeste van sy edel drome eiehandig vernietig. Hy sal nooit weer normaal kan lewe nie. Nou is hy éérs alleen en ’n gevangene van sy gewete. Dit is erger as enige vorm van afsondering.

      Soms dink hy hard hoe hy uit hierdie situasie kan ontsnap. Dan gaan sy gedagtes om en om soos ’n hings wat in ’n klein kampie vasgekeer is. Hy kan sy diefstal gaan aanmeld, homself oorgee, tronkstraf uitdien. Of hy kan die plaas verkoop, sy geld aan ’n welsynsorganisasie skenk en weer druipstert by die polisie aansluit.

      Hy kan ook probeer om sy besluit te regverdig om die geld te hou. Hy kan honderd goeie redes kry as hy regtig diep delf. Dit is die lafhartige opsie, maar die een waaraan hy vasklou in die hoop dat sy gewete eendag daarmee sal vrede maak.

      Hy tuur van sy huis se stoep oor die rotsrante van die Klein-Karoo en sien hoe gooi die oggendson hoekige skadu’s oor die landskap. Die bossies staan regop na gister se onverwagte reën, dankbaar vir die genadedruppels, maar die helderblou lug wys dié lafenis is iets van die verlede.

      Die plaas is vanoggend stiller en vreedsamer as gewoonlik. Hy het die werkers afgegee om hul Saterdag-inkopies op die dorp te gaan doen. Hy geniet dit, hy het die stilte nodig. Hy sal oor middagete vir hom ’n bottel wyn oopmaak, dan slaap. Hy kan doen daarmee. Hy het ’n week van harde fisieke werk agter die blad en sy spiere skree vir rus.

      Carl sien hoe een van sy plaaswerkers en sy vrou teen die heuwel uitstap in die rigting van hul huis. Isak se arm is liefdevol om Dora se lyf, haar kop rus op sy skouer. Hulle moet in hul vyftigs wees, maar is nog smoorverlief. Hy wonder of hy ooit só ’n verhouding sal kan hê.

      Sy blik verlaat hulle toe hy ’n motor na die plaas hoor indraai. Dis ’n wit Mercedes met ’n CA-registrasienommer. Dit lyk nie soos ’n boer van die omgewing nie; hulle ry in bakkies en vierwiele. Hopelik is dit net iemand wat die pad kom vra, hy het nie krag vir ongenooide besoekers nie.

      Eers toe die bestuurder uitklim, herken Carl vir direkteur Piet Wessels, informeel geklee in ’n kortmouhemp, kakiebroek en tekkies. Sy maag trek saam. Hoekom hy? Hulle was nie huisvriende nie. Wessels het nooit eers in hul polisiedae by hom gaan kuier nie.

      Wessels glimlag wanneer hy hom op die stoep gewaar. Maar dit is ’n geforseerde glimlag en Carl ken hom goed genoeg om te weet iets skeel. Toe hulle bladskud, is die direkteur se greep ferm, maar sy blik is donker ondanks die lagplooie om sy oë.

      “Dit is ’n verrassing,” merk Carl op.

      “Ja.” Wessels haal sy skouers op. “Baie dinge het my die afgelope tyd verras. Ek het nie geweet jy wil boer nie.”

      “Dit,” sê Carl effe van stryk, “was maar altyd in my agterkop.” Hy wys na die voordeur. “Kom ons gaan sit. Koffie?”

      “Dit sal lekker wees.”

      Hulle stap die koel voorhuis binne. Hy beduie na die sitkamerdeur en Wessels gaan sit op die stinkhout-riempiestoel. Hy vee met die rugkant van sy hand oor sy wang, kyk rond in die vertrek, na die beesleer-rusbank, die Claerhout teen die muur.

      Carl maak die koffie in die kombuis. Vermoed die man iets? Hy dink nie so nie. Wessels moes tog die gerugte gehoor het van sy Lotto-geluk? Hy het geweet hy sal op sy hoede moet wees vir die lokvalle van geregtigheid en het lank gepeins oor hoe hy sy skielike rykdom gaan verduidelik. Sy eerste stap was om die polisie so onopvallend moontlik te verlaat en vaag te bly oor sy toekomsplanne. Toe hy die plaas koop, was hy seker Henk Goosen se skinderbek sou die storie van sy Lotto-wenslag wyd versprei het.

      In die sitkamer drink hulle hul koffie in stilte. Dan vra Wessels uit oor die weer, die olywe. Maar dit is vir Carl duidelik hy is nie hier om oor die boerdery te gesels nie; hy het nie toevallig hier verby gery en besluit om ’n draai te kom maak nie. Hy is hier met ’n doel.

      Toe Wessels sy beker neersit, grawe hy in sy broek se agtersak. Hy bring ’n rolletjie note te voorskyn, gooi dit na Carl. “Ek het eintlik net jou geld gebring. Jy moes dit in Worcester onder die krans uit een van die sakke laat val het.

Скачать книгу