Slagyster. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Slagyster - Rudie van Rensburg страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Slagyster - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

oor sy ongeskeerde wang en die bulte waar die muskiete hom bygekom het. Hy is heeltyd bewus van die stank van hul toilet, ’n gat in die grond in een hoek waar brommers en vlieë in ’n donker wolk saamkoek. Sy lyf ruik ook suur. Wat sal hy nie nou gee vir ’n koekie seep en ’n warm stort nie!

      Hy dink aan Lea en die kinders. Hoe hanteer sy vrou sy ontvoering? Hy is darem seker Amelia en hul bure sal haar goed ondersteun. Lea is ’n fynbesnaarde mens. Sy gaan sukkel. As hy net ’n boodskap by haar en die tweeling kon uitkry.

      Sy oë begin traan toe hy aan sy dogters dink. Hulle raak nou groot, tieners het ’n pa nodig. Hy sal sy prioriteite weer in oënskou moet neem. Tot nog toe het dit vir hom net oor geld, ’n luukse huis en blink karre gegaan. Dit was die groot rede hoekom hy die pos in Nigerië aanvaar het. Of dit die moeite werd was … Wel, hier sit hy. Geld gaan nie die angs verlig waaraan hy sy gesin blootgestel het nie.

      Sy gedagtes word onderbreek deur ’n sleutel wat in die verroeste sinkdeur draai. Vier rebelle kom kletsend in. Een dra ’n emmer water, een knyp twee brode onder sy arm vas en ’n derde een sit ’n skottel met vleis op die grond neer, wat Ryan dadelik aan die reuk eien as die bokafval waarna Williams vroeër verwys het. Die klank daarvan verswelg dié van hul toilet vir ’n wyle. Selfs die vlieë swerm soontoe.

      Die vierde rebel is gewapen met ’n AK47. Die kolf van ’n rewolwer steek by een van sy broeksakke uit. Hy kyk met kraalogies na hulle en spoeg op die grond.

      “Wanneer kry ons vir ’n verandering iets anders om te eet?” spreek Williams die gewapende rebel met ’n glimlag aan. “Steak en chips sal nou goed afgaan.”

      Die man kyk met ’n frons na hom. Sy oë is bloedbelope. “Met wie dink jy praat jy?” vra hy strydlustig in geradbraakte Engels.

      Williams se blik verstar. Hy beduie met sy hand. “Jammer, dit was net ’n grappie.”

      Die man mompel iets in sy eie taal, gee sy AK47 vir een van sy handlangers en haal die rewolwer stadig uit sy sak. Hy stap met ’n strak gesig na Williams, draai die wapen se trommel ’n paar keer met sy vingers, lig die rewolwer op en druk die loop hard teen sy voorkop.

      Die Wallieser se oë is angsbevange en groot geskrik, hy steek sy hande in die lug. “Jammer, jammer, ek vra om verskoning!”

      Ryan sien hoe die rebel se vinger om die sneller krul. Nie een van die gyselaars waag dit om iets te sê nie en hulle hou met afgryse die man se snellervinger dop.

      Toe hy die sneller trek, ruk Williams sy kop wild weg, sy oë toegeklem. Die rewolwer maak net ’n klikgeluid, daar is nie ’n patroon in die kamer nie. Die man klap die trommel van die rewolwer met ’n geoefende hand oop, wys smalend vir die verskrikte Williams en die ander gyselaars daar is patrone in drie van die kamers.

      Hy grynslag. “Dit was jou gelukkige dag. Moenie weer met my grappies maak nie. Ek is mal oor Russiese roulette.” Hy knipoog vir Williams voor hy die rewolwer in sy broeksak terugdruk.

      Met die uitstap skop hy die emmer water om.

      Toe die rebelle laggend by die sinkdeur uit verdwyn, gooi Donald op oor een van die matrasse.

      Williams huil saggies, sy hande voor sy gesig geklem. “Liewe Jesus,” is al wat hy oor en oor prewel.

      8

      Die ander twee se voertuie staan al op hul plekke. Brink van Dyk parkeer sy silwer Mercedes-Benz 500SL voor die gryssteen-kantore van Haarhoff, Malan en Van Dyk Transport in Paardeneiland tussen Ben se Pajero en Dolf se BMW. Hy knyp die koerant onder sy arm vas en stap vasbeslote en vinnig die gebou in. Felicity lig hom in sy kollegas is al in die raadskamer.

      Hy is ontsteld en pleinweg die moer in. Hy dra te swaar aan sy skuldlas. Dit trek letterlik sy skouers krom, gee hom slapelose nagte. Dit is nie hoe hy wil lewe nie. Dit is nie hoe hy grootgemaak is nie. Hy het in die Boland in ’n kerkhuis grootgeword en goeie waardes by sy ouers geleer. Respek vir jou medemens. Jy doen nie aan ander wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Moet mense nie veroordeel nie. Gee mildelik aan die armes en jy sal mildelik ontvang. Sy pa was vir hom ’n inspirasie. Hy was bestuurder van ’n kettingwinkel waar sy bruin werkers hom aanbid het. In ’n tyd van afskuwelike rassisme het hy hulle soos gelykes behandel.

      Sy ouer broer het predikant geword. Brink se visioen in sy hoërskooljare was om sendeling te word. Hy het groot drome gehad. Hy sou Afrika invaar en die Woord van God uitdra tot in al die uithoeke van die donker kontinent. In die vakansie voor hy universiteit toe sou gaan om in die teologie te studeer, het hy Louise ontmoet. Hy was smoorverlief. Sy’t nie kans gesien vir sy Afrika-avontuur nie. Hy het gaan onderwys studeer.

      Hy snork. ’n Sendeling in Afrika! Nou verskaf hy wapens aan Afrika-skurke wat hul mede-Afrikane daarmee uitmoor. Hy het homself nog probeer wysmaak die rebelle sou hul skietgoed in elk geval elders kry en hy kon niks daaraan verander nie. Vanoggend se koerantberig het hom egter finaal laat besef hy kan nie die feit langer ignoreer dat hy medeverantwoordelik is vir wat gebeur nie. Sy hande is net so diep soos die rebelle s’n in bloed gedoop.

      Soms kan Brink nie glo hy het hom so maklik in die storie begewe nie. Hy’t sy siel verkoop vir geld.

      Hy groet nie, gooi net die koerant voor sy kollegas op die lessenaar neer. “Hel, manne, nou is daar ’n Suid-Afrikaner ook betrokke! Ek hou nie hiervan nie!”

      “Kalm bly, Brink,” sê Ben sonder om na die koerant te kyk. “Ek weet nie waarvan jy praat nie.”

      Dolf trek sy skouers op. “Ek ook nie.”

      Brink druk met sy voorvinger op die voorbladopskrif Suid-Afrikaner in Nigerië ontvoer, 23 doodgeskiet. Toe hy praat, weerklink sy stem in die ruimte. “ ’n Suid-Afrikaner wat vir ’n oliemaatskappy werk, is drie dae gelede ontvoer en drie en twintig mense is dood. As gevolg van die wapens wat ons vir die bliksems voorsien.”

      Ben vee die koerant van die lessenaar af. Sy wange is rooi. “So bloody what! Omdat daar nou ’n Suid-Afrikaner betrokke is, gee ons media vir die eerste keer aandag daaraan. Wat dink jy doen die rebelle met die wapens wat ons vir hulle voorsien? Hulle skiet mense en hulle ontvoer mense. Daar was die afgelope nege jaar dwarsoor Afrika soortgelyke voorvalle. Ons lees net selde daarvan. Hoekom pla dit jou nou skielik!”

      Brink skud sy kop. “Boys, julle het net so gewetenloos soos die rebelle geword. Die man het ’n vrou en twee dogters en … ”

      Dolf onderbreek hom. “Brink, ons ooreenkoms was van die begin af dat ons nie in die politiek gaan betrokke raak nie. Ons voorsien die wapens en hulle doen daarmee wat hulle wil. Moet in hemelsnaam nie op een van jou fokken etiese trips gaan nie.”

      Brink wil daarop reageer, bedink hom en besluit op ’n ander invalshoek. Hy beduie na die koerant op die vloer. “Dit gaan die kollig van voor af op onwettige wapenhandel plaas. Die Suid-Afrikaanse owerhede gaan nou betrokke raak. Ons kan só ons gatte sien.”

      Ben lag. “Jy bly maar ’n ou pessimis. Die ontvoerde Suid-Afrikaner werk sekerlik vir ’n Amerikaanse of Britse maatskappy. Ons owerhede gaan terugsit tot die maatskappy ’n eis van die ontvoerders ontvang, wat in elk geval onmiddellik betaal sal word. Buitelanders word jaarliks in hul honderdtalle in Nigerië ontvoer, almal kom ongedeerd daarvan af. Die oliemaatskappye kan nie bekostig om nie te betaal nie.”

      “Daar is drie en twintig Nigeriërs doodgeskiet, boys.”

      Ben kom uit sy stoel orent en leun vooroor. “Brink, daar

Скачать книгу