Slagyster. Rudie van Rensburg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Slagyster - Rudie van Rensburg страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Slagyster - Rudie van Rensburg

Скачать книгу

      Sy bring vir elkeen ’n koppie tee. “Ek’t in my haas my selfoon by die huis gelos,” sê sy en Lea beduie na die telefoon in die hoek. Amelia kry Star Petro se nommer in die Johannesburgse telefoongids. Dit word as die streekhoofkantoor in Suidelike Afrika aangegee. Sy word onmiddellik deurgeskakel na die bestuurder: openbare aangeleenthede en hy stel homself bekend as Peter Graves.

      “Ons is in dié stadium ook in die duister,” sê hy. “Dit is die eerste Suid-Afrikaner wat ontvoer word en ons het nie al die antwoorde gereed nie. Ons is ’n Amerikaanse maatskappy en ons hoofkantoor in New York hanteer gewoonlik dié aangeleenthede.”

      “Is daar al voorheen werknemers van jul maatskappy ontvoer?” vra Amelia.

      “Ja, ek is bevrees dit is iets wat al hoe meer gebeur. Gister se drie bring die totaal vir die maand op nege te staan.”

      “En? Is iemand al vrygelaat?”

      “Nog nie. Ons wag nog om van die rebelle te hoor.”

      “Eis hulle gewoonlik geld?”

      “In die verlede het hulle. Soms stel hulle ander eise.”

      “Soos?”

      “Ek … e … kan in dié stadium nie daarop kommentaar lewer nie. Dit word deur ons hoofkantoor hanteer.”

      “Is iemand al vrygelaat sedert hulle die ander eise begin stel het?”

      “Ja … Nee, maar ek kan nie regtig daarop kommentaar lewer nie. Ek sal môre meer inligting aan u beskikbaar kan stel. Ek wag self nog op antwoorde … Ek is jammer. Dit is vir ons hier net so ’n skok.”

      “Meneer Graves, ek gaan u môre weer skakel. Dan soek ek antwoorde. Anders sal ek verplig wees om na die pers te gaan met die storie.”

      “Dit sou nie ’n goeie idee wees nie. Ons glo dit kan die gyselaars se lewens in gevaar stel as dit aan die groot klok gehang word.”

      Amelia voel hoe die bloed in haar nek en wange opstoot. “Nee, meneer Graves, my ondervinding is rebellegroepe wil graag publisiteit vir hul dade kry. Dit is gewoonlik maatskappye soos julle s’n wat nie in die spervuur wil kom nie. Hoe stiller so iets gehou word, hoe meer tyd is daar vir julle om met die rebelle te onderhandel vir ’n gunstiger ooreenkoms, ongeag die spanning en trauma waaraan die ontvoerdes se families blootgestel word.”

      Graves is vir ’n oomblik stil. “Is … is u van die media?”

      “Ja, ek skryf onder meer vir Time, Washington Post, The Guardian in Londen en Rapport hier. So, asseblief, meneer Graves, môre soek ek eerlike antwoorde.”

      Nadat sy afgelui het, sê sy vir Lea sy moet ontspan. Alles is onder beheer, hulle sal môre ’n volledige verslag van Star Petro kry en sy sal sorg dat hulle voortdurend van alle verwikkelinge op hoogte gehou word. Sy sal ook met buitelandse sake en die Suid-Afrikaanse ambassade in Nigerië in verbinding tree. En sy sal nie rus voor Ryan veilig tuis is nie.

      7

      Die voortdurende geblaf van AK47-geweervuur laat die gyselaars senuweeagtig na mekaar kyk.

      “Na wie of wat skiet hulle?” wil Ryan weet.

      “Hulle skiet teiken. Die klomp is nou so van die dagga gerook dat hulle mekaar nog gaan raakskiet,” antwoord Williams, ’n seningrige Wallieser wat nou die tweede keer ontvoer is in sy verblyf van minder as ’n jaar in Nigerië. Hy en ’n kollega is twee weke voor Ryan-hulle in die dorp Onne in ’n kroeg geneem, helder oordag.

      “As jy my vra, rook hulle NNG … Nigerian Naturally Grown. Dis ’n ander bliksem as gewone dagga,” sê Donald, Ryan se Engelse makker.

      Williams snork. “Dis nog niks. Bid dat hulle nie op Monkey Tail gewire raak nie. Dan gaan die kak spat.”

      “Monkey Tail?” wil Ryan weet.

      Williams lag. “Dis hardcore goed. Hulle laat ’n kop dagga vir ’n week of wat in etanol lê, dan voeg hulle ’n klein bietjie water by en drink die mengsel direk uit die bottel. Dit maak jou mal, hoor ek.”

      “Dit sal my min skeel as hulle mekaar begin uitmoor. Solank hulle net nie op ons losbrand nie,” sê Kiernan.

      “Toe maar, lewendig is ons vir hulle baie meer werd. ADC moes ’n hoop geld opdok om my die eerste keer los te kry,” sê Williams.

      Williams werk vir die Axo Drilling Company, ’n Britse maatskappy wat baie werknemers op die Nigeriese olievelde in diens het. Volgens hom is daar die afgelope jaar al agt van dié maatskappy se werknemers ontvoer. Almal is later ongedeerd vrygelaat.

      “Hoe lank is jy die eerste keer aangehou?” vra Ryan.

      “Drie dae.” Williams haal sy skouers op en beduie na sy kollega, Davison, ’n Amerikaner wat saam met hom in die kroeg in Onne oorval is. “Nugter alleen weet hoekom ons nou al twee weke hier sit.”

      “Vier van my kollegas is ’n tyd terug in die Bonga-olieveld op die oop see ontvoer. Hulle is ook nog nie vrygelaat nie,” sê Ryan met ’n frons.

      “Dis Mend se jagveld daai. Hulle val met bote aan.”

      “Ja, ’n gevaarlike spul.”

      “Hulle is die magtigste milisiegroep. Noem hulleself die Beweging vir die Bevryding van die Niger-rivierdelta. Hulle het my die eerste keer ontvoer.” Williams skud sy kop. “Maar wie die spul is wat ons nou aanhou, weet ek nie. Ek twyfel of hulle van Mend is.”

      “Ashwell Lewis, ’n kennis van my, is dood nadat Mend hom ontvoer het,” sê Donald. Hy lyk bleek en afgerem.

      “Lewis … Ja, ek onthou daai voorval. Dit was toe Nigeriese troepe die gyselaars wou red. Hy is in kruisvuur doodgeskiet. Maar sover ek weet, is dit die enigste gyselaar wat dood is tot op datum.”

      “Dis maar ’n donnerse yl troos,” prewel Donald, ’n kettingroker wat elke nou en dan in sy hempsak voel vir sigarette en dan onthou hy het lankal sy pakkie uitgeput. Toe hy weer vat-vat aan sy sak, bied Ryan vir hom sy laaste Camel Light aan.

      “Kry maar vir jou. Ek het my vrou belowe ek gaan ophou rook.”

      Donald steek die sigaret met bewende vingers aan en suig gulsig daaraan, sy wange hol soos hy rook intrek.

      “Kry ons net een maaltyd op ’n dag?” vra Kiernan en vryf oor sy ronde maag. “Ek kan nou ’n bees verslind.” Hulle moes vanmiddag ’n halwe wit brood in vyf verdeel. Vanoggend het hulle net water gekry. Die vorige dag het Ryan-hulle etlike kilometers sonder kos deur die moeras afgelê en eers gisteraand laat by die kamp aangekom.

      “Nee, in die aande word jy getrakteer op bokafval en ou brood,” sê Williams. “Met brak rivierwater om dit mee af te sluk. Aan die begin kon ek en Davo die afval nie in ons lywe kry nie, maar die afgelope week wurg ons dit maar af. Dit word nooit goed gewas voor dit gekook word nie. Jy moet maar net jou neus toedruk en sluk. Dat ons nog nie siek geword het nie, is ’n bleddie wonderwerk.”

      Ryan gaan sit kruisbeen op een van die vuil matrasse op die grys turf, sy rug teen die bamboesheining van die kamp waarin hulle aangehou

Скачать книгу