Pastoor. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Pastoor - Pat Stamatélos страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Pastoor - Pat Stamatélos

Скачать книгу

en bang vir Ma.

      ’n Geluid ontsnap uit my keel, ’n sagte, siniese laggie, en ek weet Wanda hoor dit, maar ek gee nie om nie, laat sy dink wat sy wil. ’n Stilte kom lê weer tussen ons, en ek kyk na haar krale. Ek het nog nooit iemand teëgekom wat so baie verskillende soorte krale op een slag dra nie.

      Wanda verbreek die stilte. “Jy het seker gewonder hoe die pop van die gordynkap tot by jou bed gekom het,” sê sy.

      Dink ’n klein kind so iets? Of skrik hulle net vir die onverklaar­bare? So groot dat dit hulle vir die res van hulle lewe bybly. Dit was net Ma se grappie.

      Siek grappie.

      Ma was siek. Ma is siek.

      Nee, ék is siek. Was siek.

      Gee die kind nog medisyne.

      Ag sies, kyk hoe braak sy.

      “Ek het nooit die langbeenpop sien afklim en loop nie, natúúrlik nie,” sê ek, “maar elke keer as ek van die badkamer af terugkom, staan die pop voor my bed.”

      Ek lag hardop, weet my senuwees vreet aan my. Die pop wat stil­staan as ek vir haar kyk, beweeg wanneer ek wegkyk. My bang kan ek nie vergeet nie.

      Poppe kry snags lewe, het Ma gesê.

      Ek is bang vir hulle, Ma, het ek gesê.

      As jy soet is, sal hulle jou niks aandoen nie, maar as jy stout is, weet hulle, want hulle sien alles. Toemaar, ek sal die pop terugsit. Daar’s hy. Slaap nou.

      Moenie die lig afsit nie, Ma.

      Kleintjie, jy’s vol strooi.

      Ma wag net tot ek slaap dan kom sit sy die lig af, ek het dit ge­weet.

      Ek het versies opgesê. Ek moenie aan die slaap raak nie. Nog ’n versie. Moenie slaap nie. Toe slaap ek, toe sit sy die lig af.

      “Saans kon ek net aan die slaap raak met my gesig onder die kombers, te bang om na my poppe te kyk ingeval hulle lewend word, bang om die lig af te skakel. As ek in die nag wakker word, was ek doodbang.” Ek ryg die woorde in ’n rekordtyd in, probeer ’n tikkie vrolikheid in my stem kry, sy moenie dink ek is pateties nie, maar ek voel my onderlip bewe, my hande bewe, my binneste bewe. My liewe shrink, hoe het ons by hierdie punt gekom, met watter vraag het dit alles begin?

      “Dus het jy dikwels in die nag wakker geword?” vra Wanda, salig onbewus van my wroegings, maar dis goed so, sy wil nie ’n drama queen voor haar hê nie.

      “Ja. Die kere dat ek alleen in my kamer geslaap het, was bitter min,” sê ek, probeer afgetrokke klink. Ek het ’n feit gestel en wil aan­beweeg.

      Los Ma uit, sy het kopseer.

      Gee haar ’n Grand-Pa, laat haar gaan lê.

      Laat haar vroetel onder die kombers.

      Kyk hoe salig slaap sy nou.

      Môre is sy weer nugter. Môre is nog ’n dag.

      “Ek het klavier op gehoor gespeel, weet jy,” sê ek.

      “Ja?” Wanda lyk beïndruk. Dit val my dan by dat ek haar dit met my eerste besoek vertel het.

      Sy maak ’n merkie in haar boek en kyk my betekenisvol aan. My tyd is om. Ons groet sonder dat sy my vra of sy nog ’n afspraak vir my moet maak. “Ek sien jou volgende week,” sê ek vir haar, en sy glimlag, vra nie watter dag of hoe laat nie.

      Met die uitloop draai ek om om nogmaals te groet en sien daar is ’n groen deur in die middel van ’n groen muur, aan die ander kant van die sessiekamer. Dit lyk geheimsinnig, wonder wat daar­agter skuil. Ek hou nie van raaisels nie.

      Notas

      Ek was al by sielsontleder-cum-dermuitrygers, ek is nie heeltemal stupid nie. Ek kan myself diagnoseer as ek wil, die internet vertel ’n mens alles. Hulle hoë woorde ten spyt het die slim mense nog nie ’n kuur vir depres­sie gevind nie. Die swart hond bly op my hakke, soms grommend, soms bytend.

      In die kombuis: Gooi goed bymekaar vir aandete. Praat met Fred oor my terapiesessie. Ag, hy het met halwe oor geluister.

      Sê vir Fred Wanda is beïndruk dat ek op gehoor kan speel. Verwyt weer vir Ma en Pa: Daar was nooit geld vir ’n klavier nie, maar genoeg vir Bols brandy elke naweek, soms elke dag, Grand-Pa’s om die hangover te dokter, petrol vir plaas toe ry. Maar nie vir ’n klavier nie!

      Fred sê hy spaar, ek weet mos, en as hy so met die plat hand oor sy kaal kop vee, weet ek hy voel uitgevang of verleë. Ek het al gevra hy moet op rekening koop, maar nee, hy wil kontant koop. Ek gaan nie smeek nie.

      My kinderdae is sinoniem met smeek vir ’n klavier, maar in die plek daarvan het ek Ma se dooie oë, haar ongekamde hare en slepende voete gekry. Dan kla sy van hoofpyn, soek na haar Grand-Pa-poeiertjies en sê my aan om self iets te maak vir middagete, sy gaan lê. Ek moet haar vieruur kom roep, voor Pa huis toe kom.

      Die volgende dag niks skaamte nie – geselserig, vriendelik, behulpsaam, asof sy wou vergoed. Seker gereken een dronk dag op ’n slag. Lekker warm kos wat my ná skool inwag. Die vorige dag uitgewis, ten minste in haar kop.

      Ek het vir Wanda gevra of sy klavier speel, en sy’s glo net so lief vir die klavier en kan darem chopsticks oortuigend speel. Ek het gelag. Sy’s da­rem eerlik, nè, dit het ek ook vir Fred gesê.

      Sal aanhou bid vir my eie klavier.

      Ná weke het my vingers steeds lomp en onhandig gevoel, maar ek wou so graag rég speel, vir jou Pastoor, en so graag my eie klavier hê waarop ek kan oefen. “Jy is te ongeduldig, Kleintjie, maar jy moe­nie dat die vlammetjie van hoop ooit in hierdie hartjie geblus word nie,” het jy gesê en my kinderborsie geskulp en saggies ge­druk.

      Om darem sulke gedagtes te dink terwyl Fred my staan en aankyk!

      Ná my eerste besoek aan Wanda het ek Fred vertel van Wanda se ontvangs met al daardie feetjies. Net so lyk haar boheemse sessiekamer het ek hom in die kombuis vertel, onortodoks, onkonvensioneel, vol feetjies.

      Fred het kwaai gesê ek moet vir my ’n ander sielkundige kry en ek moet die donnerse feetjies los, want my depressie en buie raak hulle almal. (Wanda sterk my glo in my kwaad.) Bid jou aan! Wat weet hy?

      Wanda se spreekkamers – nie wat ek verwag het nie – en toe ek haar ont­moet, was ek nog meer verbyster. Sy het so professioneel en welvarend voorgekom, haar meubels en dekor so smaakvol.

      Die gebou wat haar kamers huisves is ’n outydse, karamelkleurige dubbelverdieping-classic met allerhande tierlantyntjies buite teen die muur, die fasade klein, glad nie imposant nie. Verf dop plek-plek af, sodat dit eenvoudig saamsmelt met sy omgewing. Ingedruk tussen die Spaza Shop aan die een kant, Govender’s Fine Clothing aan die ander kant, albei tipies van onderdorpse verwaarlosing.

      Swaar dubbeldeur van hout, wat sekerlik deur ’n kranksinnige groen geverf is en nou besig is om ernstig af te skilfer, swaai maklik heen en weer op groot, piepende skaniere. Bo die deur is ’n naamplaatjie in verweerde sierskrif; lyk asof daar Trella-huis staan. Langs die houtdeur ’n kleinerige venster met gekleurde glas. Mens kan jou verbeel

Скачать книгу