101 Bakgat maniere. R.R. Ryger

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
101 Bakgat maniere - R.R. Ryger

Скачать книгу

weg. Ek het al ’n keer of wat vermoed dat Duane ’n double adapter is, maar dis nie iets waarvan ek bevestiging wou gehad het of wou gesien het nie.

      Jevon draai sy kop effens sodat hy met ’n nare trek op sy gesig na my kyk. Hy maak sy mond oop en skuur sy gesig opwaarts teen Duane s’n, en die hele tyd is sy lang tong uitgesteek en lek hy oor sy spesiale seun se aantreklike gevreet.

      “Nee, Here,” sê ek gebelgd.

      “Wat is dit dan nou, Dirk?” vra Jevon bedaard, maar tog met ’n effense koggel in sy stem. “In die eerste plek gebruik jy die naam van ’n god waarin jy nie glo nie as ’n kragwoord, en in die tweede plek kom jou weersin vir my en jou broer se biseksualiteit sterk deur.”

      “Ek het nie tyd vir hierdie bullshit nie …”

      “Sit, asseblief, Dirk. Ontspan. Drink jou wyn. Vertel my wat is dit wat jou so ontstel.”

      Ek sou hom graag wou aanrand, maar het sy hulp sekerlik nog nodig. “Dis beter,” glimlag Jevon. “Nou, vertel my waarom jy sê ‘nee, Here’ as jy nie ’n Christen is nie.”

      Ek verwonder my aan die man se skynbare selfvertroue. Hy het waarskynlik ’n handwapen daar langs hom in die donker, of anders beskik hy oor bonatuurlike magte en kan hy my seker met sy oë brand as ek hom sou probeer gryp.

      Ek sal hierdie speletjie moet speel. “Dis seker uit gewoonte,” sê ek en my stem klink skor. “Want dis regtig nie iets wat ek doen om iemand te skok nie. Dis eintlik vir my half stupid dat mense aanstoot neem as ’n mens sê ‘God’, of ‘Jesus’, of ‘Here’, en jy bedoel dit as ’n kragwoord. Want as jy daaroor dink, dis net woorde. Maar ’n mens moet ook verstaan dat toegewyde Christene nie daarvan hou nie, so waarom sou jy sulke woorde dan in hulle geselskap gebruik?”

      “Ek het gesien ’n groep Christene het betoog teen dit wat hulle as godslastering beskou in rolprente.”

      “Soos ek sê, dit pla my nie veel nie, maar dit raak so half stupid. Dis vir my ’n teken van ’n lui skrywer wanneer die mense in die fliek of in ’n storie oor die TV elke tweede sin begin, of elke minuut uitroep: ‘Oh, my God!’”

      “En jou gevoel oor biseksualiteit?”

      “Dis julle saak,” lieg ek, want dit kook in my om Duane so te sien. “Wat my eintlik ontstel, is dat Duane vol drugs is. Ek weet hy gebruik die goed, maar ek wil nie hê hy moet ’n pateet word nie.”

      “Moenie jou oor Duane se dwelminname bekommer nie,” sê Jevon, en vroetel weer met sy hand deur Duane se kloskop. “Ek monitor hom noukeurig. Verstaan my mooi, Dirk, Duane is nie net my special boy nie, maar ook my slaaf. Ek sal nooit toelaat dat hy heeltemal pateties word nie.”

      “Wat bedoel jy, jou slaaf? En wat bedoel jy, nie heeltemal pateties nie. Kyk na hom!”

      “Daar gaan jy alweer. Raas-raas-raas. Jy moet dalk self so nou en dan ietsie neem, Dirk, dit sal jou stres verminder. Duane is my slaaf omdat hy daarvan hou om ’n slaaf te wees. Verstaan jy wat ek bedoel? Ek bind hom vas en piets hom en dwing hom om vir my goed te doen. Maar omdat ek ’n man van vele kante is, is dit nie al scene waarin hy feature nie. Ek hou byvoorbeeld ook daarvan as hy soms mooi lyk, soos vanaand, mooi soos ’n pragtige meisie.”

      Ek verskuif amper ’n werwel. En nou wil ek nie verder hoor nie.

      “Ek kyk jou uit, Warren, jy speel die groot kultusleier, maar ek waarsku jou, amper elke kultusleier in die geskiedenis het sy gat gesien. Vat maar vir Jeffrey Lundgren, vat vir Jim Jones, vat David Koresh. Hulle almal het hul gatte gesien. Lundgren is lewenslank tronk toe gestuur en Koresh en Jones het selfmoord gepleeg. Jy moenie dink jy is so spesiaal nie.”

      “Ai, ai, ai, Dirk, ontspan. Ek sê weer: ontspan. Drink jou wyn. Jy ken my nie en jy ken nie jou eie boetie nie. Ek wonder of jy jouself ken. Komaan, Dirk, vertel my waarom is jy vanaand hier. Waarom is jy regtig hier?”

      “Ek is hier omdat ek Maria soek en omdat ek wou kom kyk wat gaan aan met Duane.”

      “Is dit so, Dirk? En jy verwag ek moet my vingers klap en dan is Maria weer by jou. En jy dink jy kan jou voorkop op ’n plooi trek en dan sê ek toemaar, hier’s Duane, vat hom saam met jou. Ek het vir jou gesê ek soek iets in ruil vir Maria, onthou? Wel, ek het besluit ek sal vir Duane vat.”

      Ek kyk in Duane se dowwe oë en skielik wil ek net uit. Hy lyk nie na iemand wat meer wil lewe nie. Ek besef weer ek ken hom nie baie goed nie. Daar is duidelik baie dinge waaroor ons nooit eerlik gesels het nie. Ek voel skuldig oor my broer. Hy het gesê ek moes hom nie laat kom het nie. Maar dis nou te laat. Ek sien myself nie as ’n superheld wat gaan opspring en Jevon stukkend slaan, Duane gryp en voor die kwaai dobermans vlug nie. Ek haat myself, maar wat kan ek nou juis doen?

      “Wat van Maria?”

      “Sy sal terug wees.”

      “Terug? Waar?”

      “By jou plek. Sy sal daar wees vir ’n tweede skeppie, want sy dink jy is beroemd.”

      Cultösaurus Erectus

      Maria is in die sitkamer van my woonstel, besig om musiek te luister en te rook. Ek hoor sy het my Blue Oyster Cult-CD ontdek. Cultösaurus Erectus.

      “Dis een van die beste CD’s ooit,” sê ek as ’n groet, “elke lied is ’n juweel.”

      Sy druk haar sigaret dood. Blaas die rook uit. Staan op en glimlag. Ons stap in mekaar se arms in.

      Dis heelwat later toe ons onder ’n kombers sit en musiek luister. Kaalbas.

      Ek verwonder my aan die rigting waarin my lewe skielik foeter. ’n Paar jaar gelede was ek nog ’n gesinsman. Nou sit ek en sagpraat met ’n naakmodel. In my sitkamer. Met Cultösaurus Erectus op die CD-speler.

      “Jy het weird musiek,” fluister Maria.

      “Joune klink weer vir mý weird.”

      “Ek identifiseer met die meisie in die een song.”

      “Watter een?”

      “ ‘Unknown Tongue’.”

      “Die een oor die meisie wat haarself sny?”

      “Ja.”

      “Doen jy dit?”

      “Nee. Dis die gevoel waarvan ek praat. Die eensame atmosfeer. Die meisie sny haarself, dan gaan sy weer skool toe die volgende dag. Niemand weet daarvan nie. Net sy. Sy is in haar eie wêreld. Sy is in die Anderwêreld.”

      “Die Anderwêreld?”

      “Dis die naam van my digbundel.”

      “Ek het nie geweet jy het al gepubliseer nie.”

      “Ek het nie. Dis net vir my.”

      “Kan ek dit lees?”

      “Nee. Ek sal dit vir jou voordra.”

      Die musiek eindig. Dis stil in die woonstel. Net ’n lampie in die een hoek wat lig maak.

Скачать книгу