101 Bakgat maniere. R.R. Ryger

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
101 Bakgat maniere - R.R. Ryger

Скачать книгу

vriend.”

      “Wat van die bok se kop … die horings en rituele wat algemeen in die satanistiese praktyk is?”

      “Ek moet weer beklemtoon – jy kry verskillende kultusse in elke geloof. Ek kan net van my eie groep praat.”

      Ons stop by ’n hek. ’n Sekuriteitsman stap na Jevon se kant toe. Jevon gee vir hom ’n kaartjie. Die elektroniese hek gly oop en ons word ingelaat.

      “Lifestyles of the rich and famous …” koggel ek. “Wie se partytjie is dit?”

      “Die een of ander internet-tycoon s’n. Haai, jy kan hom van daardie kaartspel vertel!”

      “Baie snaaks …”

      Terwyl Jevon die kar parkeer, trek hy weer los: “Nog iets oor die duiwel, en ek belowe jou dit is my laaste woorde oor die onderwerp vanaand aan jou, is dat hy baie goed was vir die Christelike geloof. Dink daaroor. Sendelinge en Christen-dominees gebruik hom al vir eeue om mense mee bang te maak. En soos die tyd verbygegaan het, en die Christelike kerk gegroei het, is elke ander geloof op aarde al deur die Christelike kerk, wat bang was en steeds bang is dat hy sy mag sal verloor, as van die duiwel gebrandmerk. Ek hoef nie aan jou te vertel hoeveel mense deur die jare weens die Christene se gekheid gesterf het nie.”

      Ons gaan by die enorme huis – dit lyk meer soos ’n vakansieoord of hotel – in. Klassieke musiek. Dit volg my teen ’n trap op. Van bo af kyk ek op ’n binnehof neer en op ’n byna volle simfonie-orkes. ’n Bewerige oupa swaai die stokkie en ’n dik vrou sing “Die vlinder”, een van my gunsteling-stukke, geskryf deur Ernesto Köhler.

      Ja, daar is kunsbome met stringe gedraaide liggies om en ’n regte spuitfontein. ’n Lekker buzz. Baie mense. Party mooi, ander nie. Almal in duur klere.

      Nie ek nie. Ek het my kakie-langbroek, ’n groen poliësterhemp en my lang, verweerde bruin leerbaadjie aan. Ek het darem vir die eerste keer in weke my swart leerskoene gepolish.

      Omdat ek al jare ’n joernalis is, voel ek nie onwelkom nie. Ek meng met die mense, luister na die skinderstories en geniet die versnaperinge en die drank. Dit is mos gratis.

      Jevon, sien ek, is ietwat van ’n kuriositeit. ’n Klompie mense drom om hom saam en hang aan sy lippe. Maar hy het nie heeltemal dieselfde impak hier as die ander aand by die klub nie. Ons twee is nie ’n Siamese tweeling nie, dus los ek hom met ’n oogknip om sy satanistiese sales-pitch te doen.

      Ek bevind my op die boonste vloer waar ek my verlustig in stille observasie. Dan sien ek haar. Sy is besig om met die trap op te kom. Alleen. Sy is kleiner as wat ek gedink het sy is, dun in ’n swart minirokkie – dankie tog vir verwarmers! Sy lyk baie wit, maar nie broos nie. Sy kom aangestryk soos ’n model op ’n loopplank, en koppe draai. Ek voel my are klop en warm bloed laat my vel opgewonde kriewel. Ek sien haar donkerblou oë, maar sy sien my skynbaar nie. My bene is wyd geplant in ’n vertoning van arrogansie, maar dis nie hoe ek voel nie. Ek het al met leiers van lande, bekroonde akteurs en aktrises – en erger – gepraat. Ek weet hoe om koelkop te bly.

      Buitendien, ek is reg langs die kroeg, so ek het hulp. En dis die kroeg waarheen sy mik.

      “Is jy reg?” vra ek myself. “Hierdie is dalk jou enigste kans. Moenie dit verbrou nie.”

      Ek kyk in haar gesig terwyl sy by my verbystap. Sy ignoreer my.

      “Vodka met lime en lemonade,” bestel sy by die kroegman.

      Ek draai my kop asof ek haar vir die eerste keer sien. Sy kyk nou na my. Ons oë vind mekaar. Sy kyk weer weg, na die kroegman wat haar drankie meng. Ek hou aan om na haar te kyk en praat eers toe sy haar drankie vat.

      “Jy was saam met ’n vriendin van my op skool.”

      Sy kyk na my, verbaas.

      “Regtig? Wie is jou vriendin, en wat maak dit so spesiaal?”

      Ek merk ’n fyn glimlag en belangstelling in haar oë.

      “Ansie de Bruyn. Haar van is nou Welgemoed. Ek weet nie of dit vir jou spesiaal is nie, maar ek is so verbaas om jou in lewende lywe te sien, dat ek gedink het ek sal jou vertel.”

      Sy glimlag. Skud haar kop effens.

      “Ansie de Bruyn? Wanneer het jy met haar gepraat? En waarom oor my?”

      “Ek het haar ’n paar dae gelede gesien. Ek was met haar suster getroud. Ons het oor jou gepraat, want ek het daardie fantastiese foto’s van jou in daardie tydskrif, waarvan ek liewer nie die naam sal noem nie, gesien.”

      “Jy kan maar die naam sê,” giggel sy.

      “Puik foto’s,” mymer ek. “En smaakvol gedoen.”

      “Watter een was vir jou die smaakvolste? Die een waar ek wydsbeen op die stoel sit, of die een waar ek ’n wawiel maak?”

      Ek lag saam met haar. Sy vat terterig ’n sluk van haar drankie en vee ’n paar hare uit haar oë. Nou eers merk ek haar gebreklike hand op. Die een sonder die glas. Die arm is dieselfde lengte as die ander een, dis net die hand … in plek van ’n hand is daar ’n stuk vleis so groot en gevorm soos ’n groterige gholfbal, en op dit, vyf balletjies – soos ’n baba se toontjies. Daar is ’n tatoe op die bokant van haar vreemde hand.

      “Nice tatoe,” sê ek en neem haar gebreklike hand in my heel normale hand. Die tatoe is ’n drakie. Soos die een op die Walliese vlag.

      Sy laat my toe om na die tatoe te kyk. Dan trek sy haar, uh, hand stadig uit myne. Ons oë ontmoet weer.

      “Wat het Ansie van die foto’s gesê?”

      “Sy was natuurlik jaloers op jou mooi lyf, wat anders?”

      “Ek sal haar graag weer wil sien. Het jy haar nommer?”

      “Ja, maar nie hier nie. Ek sal dit later vir jou gee.”

      “Goed. Later.”

      Ons kyk veelseggend vir mekaar. Dan kyk sy rond, skynbaar verveeld. “Saam met wie is jy hier?” vra sy.

      “Ek het saam met ’n ou met die naam Warren Jevon gekom. En jy?”

      Sy ignoreer my vraag. Lyk bietjie verbaas.

      “Warren? Ken jy hom?”

      “Nie eintlik nie. Ek het hom maar onlangs ontmoet. Hy gaan my dalk help met ’n boek waaraan ek werk.”

      “O? Is jy dan ’n skrywer?”

      “Eintlik ’n joernalis. Maar ek het darem al een boek geskryf.”

      “O? Wat?”

       “Occult Phenomena in South Africa. Part One.”

      “Het jý dit geskryf? Wow! Dan is jy mos Dirk Steyn!”

      Nou is dit my beurt om verbaas te wees. “Moenie vir my sê jy het dit gelees nie …?”

      “Ek het. Wow. Great. Cheers.”

      Ons

Скачать книгу