101 Bakgat maniere. R.R. Ryger

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
101 Bakgat maniere - R.R. Ryger

Скачать книгу

oë intens in myne. “Nou sê vir my waarom jy eintlik hier is, Dirk Steyn.”

      “Duane het jou mos gesê … ek soek na Maria Staal.”

      “Waarom na Maria, Dirk?”

      “Haar pa het my gevra om haar te vind. Hy betaal my.”

      “Gaan jy my betaal vir my hulp?”

      “Dit lyk nie of jy geld nodig het nie …”

      Dit laat hom weer glimlag. “Ek het altyd geld nodig, Dirk. Die lewe is duur. Maar jy is ’n skrywer … nogal oor die okkulte, so nou en dan. Kyk, ek moet eerlik met jou wees, ek dink nie jy skryf vir die kenner nie, maar daar is seker mense daar buite wat jou oppervlakkige inleidings interessant vind en ek dink ek en jy kan tog tot ’n ander ooreenkoms kom.”

      Jevon teug aan sy wyn en staar ’n oomblik in die vuur. “As ek jou sou help, moet ek tog ook iets daaruit kry … maar wat? Gaan jy ’n boek oor my skryf? Dis ’n idee. Wil ek regtig so iets hê?” Hy antwoord sy eie vraag. “Ja. Vir seker. Ek het ’n gesonde ego. Ek stry nie.” Dit alles asof hy net met homself praat.

      Nou draai hy weer sy gesig na my. “Ek sal help. Ek het nie op die oomblik direkte kontak met Maria nie, maar dit sal nie vir my moeilik wees om haar op te spoor nie. Op jou beurt sal jy dan weer vir my iets doen. Niks sinistêrs nie, dalk ’n boek of ’n artikel oor my. Ek is seker jy sal ook daarby baat kan vind. Daaroor kan ons later praat. Maar ontspan nou, ek gaan jou nie aan die groot boerbok van die berge offer nie. Drink jou wyn, kom ons leer mekaar bietjie beter ken.”

      Ek lag selfbewus en drink van die wyn, maar my skouers bly styf. Jevon staan op en gaan staan met sy rug na die vuur.

      “Jy gaan seker een van die dae iets oor satanisme skryf, Dirk. Maar wat weet jy van satanisme? Ken jy dit?”

      Ek haal my skouers op. “Nie veel nie.”

      “Dan ag ek dit as hoofpriester van hierdie grotto my plig om jou meer inligting te gee,” sê hy. Hy trek sy asem in en trek met ’n geleerde stem los: “Die Kerk van Satan is ’n wettig, erkende godsdiens, met sy wêreldhoofkwartiere in San Francisco, Kalifornië. Anton Szandor LaVey het die kerk op 30 April 1966 gestig. Satanisme het absoluut niks met die Christelike duiwel te doen nie. Satan kom van antieke Hebreeus en beteken teenstander. Ons staan teen die idees van die Joods-Christelike godsdiens.”

      Ek voel soos ’n student en soek amper na ’n pen om notas te neem, soos ek destyds gedoen het toe ek joernalistiek aan die Technikon van Pretoria geswot het. Dit was ’n opwindende tyd in my lewe, maar aangesien ek in die aande as kroegman gewerk het omdat ek vir my eie studies moes betaal, was dit ook ’n tyd van harde geswoeg.

      “Elke populêre, bose idee oor satanisme het sy ontstaan uit die Christendom. Eintlik is sataniste ateïste.”

      “Vra ateïste demone om hulle te help soos Christene dit met engele doen?” vra ek, ligweg geïrriteerd met die skielike lesing en my geprogrammeerde verlede.

      “Jy het seker al van satanistiese rituele gehoor?”

      “Natuurlik. Maar ek dink sataniste is nogal baie soos die Christendom in die opsig dat jy ook diverse groepe sataniste kry.”

      “Ja, ja,” sê Jevon. “Vat nou maar my grotto. Ek het my eie filosofieë en rituele bygesit by die lesse van Anton LaVey. Natuurlik kry jy spin-offs, kultusgroepe, veral by die jonger mense wat sekere idees en beelde net vir die skokeffek of vir die pret gebruik. Sex cults, daai soort van ding. Hulle weet nie wat hulle doen nie en gee satanisme ’n slegte naam. Dis hulle wat katte op grafte offer of jong kinders verkrag.”

      “Wat is die hoofdoel van satanisme, behalwe om die Christel­ike kerk teen te staan?”

      “Om te leef volgens ’n mens se natuurlike instinkte. Om rasionele selfbelang eerste te stel. Anton LaVey het gesê satanisme verteenwoordig bevrediging, in plaas van weerhouding. Satan verteenwoordig daadwerklike bestaan, in plaas van spirituele opiumdrome. Satan verteenwoordig onbesoedelde wysheid, in plaas van selfmisleiding. Satan verteenwoordig goedhartigheid teenoor diegene wat dit verdien, in plaas van liefde wat vermors word op ondankbare idiote. Satan verteenwoordig wraak, in plaas van draai-die-ander-wangetjie. Satan verteenwoordig die mens as net nog ’n dier – partykeer beter, meestal slegter as daardie diere wat op vier bene loop – die mens wat as gevolg van sy intellektuele vermoëns die mees gemene dier van almal is. Satan verteenwoordig al hierdie sogenaamde sondes, want dit lei tot fisieke, geestelike en emosionele bevrediging.”

      Ek begin die gesprek geniet. “Verteenwoordig Satan dus boosheid?” toets ek hom.

      “Wat liasseer jy onder die opskrif ‘boos’? Dink jy die dinge wat deur die jare in die naam van Jesus Christus gedoen is, was nie boos nie? Jy het oor heksery geskryf … dan weet jy van die baie onskuldige mense wat deur die Christene vermoor is.”

      “Dit was toe. Ek praat van nou. Ek staan nie op vir die Christelike godsdiens nie, ek dink nie ek kan, of wil, myself ’n Christen noem nie. Maar alles omtrent daardie godsdiens is beslis nie sleg nie. Ek is seker ek sal iets goeds uit satanisme ook kry, as ek gaan soek, ek weet nie. Dit is nie my plek om te veroordeel nie.”

      “Solank jy maar net deur die lewe kan vleg, is jy gelukkig?”

      “So iets.”

      “Jy is nie eerlik nie, Dirk. Jy soek ook na antwoorde. Dit is tog seker waarom jy ’n joernalis is. Dit is tog seker waarom jy oor die sogenaamde okkulte skryf. Ek dink jy weet baie meer as wat jy my wil wysmaak. Jy weet seker dat die Kerk van Satan essensieel ’n beweging is wat menslike potensiaal wil bevorder. Ek dink ook dat jy dink dat dit verkeerd is om net een van ’n miljoen te wees. Jy wil ook daardie een in ’n miljoen wees …”

      “Nietzsche se Übermensch?”

      “Ja, ek kan sien dat jy baie dinge vir my wegsteek. Maar dis jou keuse, ek aanvaar dit so.”

      “Dis nie dat ek regtig soveel weet nie,” keer ek (maar ek is nie so seker of hy dit regtig aanvaar nie). “Ek is net so deurmekaar soos die meeste mense. Ek dink net dit is onmoontlik om te sê wit is wit en swart is swart.”

      Jevon glimlag kunsmatig. “Dalk is jy reeds ’n satanis, jy besef dit nog net nie. Het jy al van Satan se elf reëls vir die Aarde gehoor?”

      “Nee.”

      “Een; moenie jou opinie of raad gee alvorens jy daarvoor gevra word nie. Twee; moenie jou probleme met iemand deel alvorens jy seker is hulle wil dit hoor nie. Drie; wanneer jy in iemand se plek is, betoon respek of moet anders nie daarheen gaan nie. Vier; as ’n gas jou irriteer, behandel hom wreed en sonder genade.”

      My rug word styf en ek hoop van ganse harte dat ek my gasheer nie irriteer nie.

      “Vyf; moenie seksuele stappe neem voor jy die parings­teken kry nie. Ses; moenie iets vat wat nie aan jou behoort nie, behalwe as dit ’n las is vir die ander persoon en hy van daardie las verlig moet word. Sewe; erken die krag van toorkuns wanneer jy dit gebruik het om jou begeertes suksesvol te vervul. As jy die krag van toorkuns afmaak na jy met sukses daarvan gebruik gemaak het, sal jy alles wat jy gekry het, verloor. Agt; moenie oor enige iets kla waaroor jy nie nodig het om aan aandag te gee nie. Nege; moenie kinders seermaak nie. Tien; moenie diere doodmaak nie, behalwe as jy aangeval word, of vir kos. Elf; wanneer jy in ’n oop gebied stap, moenie iemand pla nie. As iemand jou pla, vra hom om op te hou. As hy aanhou, vernietig

Скачать книгу