101 Bakgat maniere. R.R. Ryger

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 101 Bakgat maniere - R.R. Ryger страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
101 Bakgat maniere - R.R. Ryger

Скачать книгу

Donker oë. Ek voel half lus en sê: “Ag, jy is nie ernstig nie, wat ’n cliché …” Maar die man se intensiteit is van so ’n aard dat ek die gedagte onmiddellik uit my kop dwing. Hy sit diep in die leerstoel, met ’n donkerkopvrou op elke leuning. Op die tafel voor hom is ’n asbak waarin sy seroet smeul. In sy een hand is ’n glas met iets wat soos whisky lyk. Sy ander hand kielie die een vrou se rug.

      “Dirk, laat ek jou voorstel aan Warren. Warren, dis my broer Dirk, van wie ek jou nou-nou vertel het,” sê Duane en staan weer terug.

      Jevon sit sy glas neer en steek sy hand uit. Ek buk effens en neem dit in myne. Dis koud. Hy bly sit. Sy donker oë kyk belangstellend na my. Hy kyk my in die oë. Dan glimlag hy.

      “Dirk,” sê hy en ek is intens bewus dat hy nog steeds my hand vashou, “Duane sê my jy soek na iemand.”

      “Dis reg,” sê ek en onttrek my hand. Hy laat sy hand ’n rukkie in die lug hang en laat sak dit dan stadig.

      “Ek het vir Duane gesê julle twee moet môreaand daar na my plek toe kom. Dan kan ons gesels.”

      “Dankie.”

      “Gaaf. Dan sien ons mekaar weer.”

      Duane vat my aan die arm. Ek kyk na hom. Hy knik met sy kop deur se kant toe.

      “Okay. Bye,” sê ek en stap saam met Duane weer die warboel van die dansende vryers in. Duane is duidelik klaar gekuier in die klub. Hy gaan by al die deure uit en af teen die metaaltrap. Ons is weer in die koue.

      Grotto

      Ysige naalde uit die hemel. Buite seisoen. Aardig, die reën. Dis donker. Die maan is agter wolke. Voor ons is Jevon se grotto. Die huis is op ’n kleinhoewe aan die westekant van Pretoria, naby die Hartbeespoortdam. In my kar se ligte lyk die huis breed en laag. ’n Dowwe lig skyn in een van die voorkamers.

      Twee honde storm van die stoep af. Dobermans.

      “O, donner. Hulle lyk kwaai.”

      “Hulle ís kwaai.”

      “Ken jy hulle? Of liewer, ken hulle jou?”

      “Hulle sal my seker nie onthou nie.”

      “Klim uit, dan kyk ons.”

      “No way!”

      Die honde hardloop blaffend om die kar en grom by die vensters. Skielik stop hulle, oortjies na bo. Hulle hardloop terug stoep toe. Daar, in die deur, staan ’n kort figuur.

      “Wie’s dit?”

      “Weet nie.”

      “Nou kom, ons moet seker uitklim.”

      Ek sit die kar se ligte af. Ons hardloop, versigtig om nie in die nattigheid te gly nie, stoep toe.

      “Lê,” sê die persoon by die deur en die twee dobermans gaan lê gehoorsaam op ’n kombers. Dis ’n dwerg wat gepraat het. Hy het ’n kleed met ’n kappie aan. Ek kan nie sy gesig sien nie. “Kom in.” Dit klink of sy stembande met skuur­papier bygekom is. Ons volg hom. Hy draai effens om en loer oor sy skouer toe ons binne is.

      Ek sien ’n gedeelte van sy gesig. Dit lyk of iemand miljoene gaatjies met ’n spykertjie in die dun vel geslaan het. “Maak toe die deur.” Sy tande … haaitandjies …

      Daar is ’n groot skildery van ’n spierman se abdomen in die ingangsportaal.

      “Draai die prent om en jy sien die gesig van ’n demoon,” fluister Duane.

      Die dwerg grinnik in die kerslig.

      “Kom,” sê hy.

      Ons bly op sy hakke. Hy stap rukkerig, asof sy nek styf is aan die een kant. Sy een beentjie is skynbaar korter as die ander een, want hy hel oor na die linkerkant.

      Ons bevind ons in ’n gang. Hier en daar is daar ’n kers wat lig maak teen die mure. Die dwerg gaan staan voor ’n oop deur waaruit ’n dowwe ligbank kom. “Gaan maar in.”

      Dis ’n badkamer. ’n Lantern se lig veg deur die digte stoom-massa wat uit die outydse tipe bad op pootjies kom. Kaal en regop staan Warren Jevon in die bad, sy lang, dun penis slap tussen sy bene. Sy liggaam laat my dink aan foto’s van ’n jong Iggy Pop. Lenig met are en spiere wat verrassend goed vertoon. Letsels op die bors. Het hy, soos die malkop sanger Iggy, homself op ’n tyd met glasstukke gekerf?

      Twee donkerkop-skoonhede is besig om hom met groot blikbekers af te spoel. Dis dieselfde twee vroue wat saam met hom in die klub was. Hulle is ook kaal. Ek voel hoe my hart nog vinniger klop en sukkel om hulle nie aan te staar nie.

      “Goeienaand, menere. Ek sal nou klaar wees. Dames, julle kan my maar droog maak.”

      Ons kyk hoe die vroue hom saggies met wit handdoeke pitter-pat. ’n Vulgêre geluid ontsnap uit die dwerg se mond. ’n Bietjie kwyl loop uit sy skeefgetrekte mond. Jevon glimlag selfvoldaan en hou sy arms uit sodat die vroue vir hom ’n wit japon kan aantrek. Hy skuif sy voete in ligblou pantoffels in.

      “Daar’s hy. Dirk, volg my, asseblief. Duane, sal jy saam met Arnold wag?”

      Sy oë val weer op my. “Dirk, rooiwyn?”

      “Dit sal lekker wees, dankie.”

      “Arnold, bring vir ons rooiwyn voorkamer toe, asseblief.”

      Die dwerg en Duane verlaat die kamer. Ek sien hoe die twee vroue in die bad klim.

      “Kom, Dirk,” sê Jevon en vat my aan die arm. Ons gaan na ’n klein vertrek waar daar ’n vuur in die kaggel woed.

      “Lekker,” sê ek selfbewus en vryf my hande.

      Ook hier is daar net ’n paar kerse wat lig maak. Die mure is kaal. Ons staan op ’n dik maroen mat. Twee gemakstoele met ’n tafeltjie tussen hulle is strategies voor die kaggel geplaas.

      “Sit, asseblief.”

      Ek maak so. Verwonder my aan die fassinerende gesig van Warren Jevon. Ek erken dit nie graag nie, maar hy lyk na iets anders as ’n mens. Hy sal slaag as ’n wese vanuit die buitenste ruim in ’n rolprent. Amper of die uiterlike iets anders wegsteek. Dis asof die vel enige oomblik kan skeur en hy sy ware gesig gaan wys – ’n akkedis-tipe monster soos in die televisiereeks wat ek ’n klompie jare gelede gesien het.

      “Is jy teleurgesteld?” glimlag hy.

      “Waarmee?”

      “Jy het seker iets anders verwag? ’n Vreemde ritueel of iets?”

      “Ek het nie regtig iets verwag nie.”

      Hy lag saggies. “Miskien ’n volgende keer.”

      Dan is Arnold daar met die wyn. Groot, stewige kristalglase en sterk cabernet sauvignon. Hy skink en los ons weer alleen. Ek vat ’n sluk en kyk na die plafon.

      “Ons het nie elektrisiteit nie,” sê Jevon, asof hy my gedagtes kan

Скачать книгу