Sewende somer. Helen de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sewende somer - Helen de Kock страница 2

Sewende somer - Helen de Kock Helene de Kock-omnibus

Скачать книгу

toe geloop, haar tone stokstyf verkluim in die skoolskoene en haar vingers bevrore om die tas se handvatsel. En toe, ’n skielike warm greep om haar hand voordat die tas by haar geneem word en sy opkyk in laggende donker­bruin oë.

      “Gee my tas,” het sy dadelik gesê, meer uit reaksie as oortui­ging. Want dit was Zach, seun van Zacharias Dijzel, die plaaslike lid van die parlement en sy was bloot Essie Marais, alleenloper­kind van stil Hannah Marais wat in een van die huurhuise in die onderkloof woon …

      Maar hy het net gelag en gesê: “Nee, dis nou my tas. Sodra ek dit goeddink, kan jy dit weer terugkry.”

      Sy het stug langs hom bly loop. Sy het hom immers geken, want hulle was saam in die leerlingraad. Dis net dat sy goed ge­weet het wat hul klasmaats sou sê. Wat! Saam met Essie Marais? Jy speel! Dis nou sommer van watsegoedsegeid! Julle kén mos vir Zach … Sal hy nou in alle erns in die onderkloof loop kuier! Miskien moet mens maar ou Essie waarsku. Die blote gedagte het haar bitterlik ontstem.

      “Géé my tas!” het sy verwoed gesê, en so skielik vasgesteek dat haar skoene onder haar uitgeglip het op die bottergladde ys. Haar arms het wild uitgeskiet, en een hand het hom hard voor die bors geslaan sodat hulle al twee met uitgestrekte ledemate die bevrore grond getref het. Pyn het deur haar linkerbeen geskiet. Skuins agter haar het sy gehoor hoe Zach gedemp hel, hel hél! sê. Deur ’n waas het sy gesien hoe hy orent kom uit die sagte hoop sneeu waar hy geland het. Sy het haar oë geknip-knip en toe eers die skrik op sy gesig gewaar. Sy oë was groot in sy nat gesig en sy blonde hare was gepleister teen sy kop.

      Hy het tot by haar gekom, gehurk en versigtig met sy vingerpunte aan haar been geraak. Sy het hardop gekreun en warm trane voel kom.

      “Hemel tog,” het hy verslae gesê.

      “N-netnou h-het jy van die h-hel gepraat,” het sy geklappertand en gevoel hoe haar binneste begin ruk van die koue en die skok.

      ’n Klein glimlaggie het oor sy nat gesig gegly.

      “Ja, maar toe het ek van myself gepraat. Jy hoort darem nie daar nie, Esther.”

      “J-jy ook nie,” het sy uitgekry. “En o-ons hoort ook nie hier so b-bymekaar nie.”

      Hul oë het vas gesluit, en sy het gesien hoe protes in hom op­kom, maar sy het teruggesak teen die grond, pootuit van die pyn wat haar nou in alle erns gepak het.

      “Wag!” het hy verskrik gesê. “Bly tog nét hier! Ek gaan die ambulans bel. Moenie die been roer nie, hoor jy my, Esther?”

      So asof sy van plan was om ’n wegholrekord te breek, het sy wrang gedink, en hom agternagekyk soos wat hy straataf gedraf het om vanaf die naaste woonhuis te gaan skakel. Hy was baie gou weer terug, en die pyn was so verterend dat sy nie eens om­gegee het dat hy haar hand styf in syne vashou, en sy kleurbaadjie wat kol-kol nat was, oor haar gooi nie. Gou was daar ’n klompie om­standers, en natuurlik het heelwat van hulle vir Zach her­ken. Was hy dan nie die hoofseun van die grootste hoërskool op die dorp nie? Kort-kort in die streekkoerant weens al sy pres­tasies. Wenner van die redenaarskompetisie in die Oos-Vrystaat. Speel Oos-Vrystaat skolekrieket en het ’n swart gordel in karate …

      En toe, onvermydelik, was daar iemand wat laggend gesê het: “Darem lekker dat die meisies hul bene so oor jou breek, ou Zach!”

      In haar verleentheid het sy gewens die grond wil onder haar oopgaan sodat sy sommer dwarsdeur die aarde kan val die ruimte in.

      “Vergeet dit,” het Zach sag langs haar gesê en ’n slag bemoedigend met ’n voorvinger oor haar wang gevee.

      Hy het selfs saam met haar in die ambulans gery en toe vriendelik maar outoritêr aan die ongevallepersoneel beduie dat hulle baie, báie mooi na haar moes kyk. Sy was glo langer as ’n uur in die teater, want die been was sleg onder die knie gebreek, en die eerste wat sy gewaar het toe sy wakker word, was haar ma se bleek geskrikte gesig en die senuagtige manier wat sy had om haar skraal wit vingers voor haar bors inmekaar te strengel tot jy dink sy gaan hulle nooit weer ontknoop kry nie. Langs haar was Zach. Sy voorkop op ’n bekommerde plooi, maar toe hy merk dat sy bygekom het, het ’n breë, wit glimlag sy aantreklike gesig glad gevee.

      Maar sy het uit die staanspoor nie krag gehad vir sy besorgd­heid en belangstelling of wát ook al nie; en nog minder vir haar ma se ewige depressie wat immer aan die prut was onder ’n deksel van die uiterste gelatenheid. Soos wat sy daar langs die bed gestaan het, kon Esther duidelik sien dat Hannah Marais klaar handdoek ingegooi het. Die hele situasie het haar by voorbaat lamgeslaan. Haar sykant was na Zach gekeer. Nie haar rug nie. Dit sou te pertinent op afkeuring dui en daarvoor was sy weer te versigtig. Mens meng nie met Zach se soort nie, maar jy ignoreer hulle ook nie. Daarvoor het hulle te veel mag.

      “Ag Mammie,” het Esther gesug, kompleet of Hannah die woorde hardop geuiter het.

      “Wat is dit, kindjie?” het Hannah gou vooroor gebuig nog voordat Zach iets kon sê. “Is dit baie seer?”

      Esther het haar kop geknik en haar oë toegemaak in die hoop om sommer weer weg te raak sodat nie Zach óf haar ma haar kon bereik nie. Sy het gehoor hoe Zach heserig kug en vaagweg gewonder of hy dalk koue gevat het met die vallery in die sneeu.

      “Ek kom môre weer,” het sy hom hoor sê, en gevoel hoe hy haar liggies op die skouer tik. Haar ma het niks geantwoord nie, en toe Zach eers uit is, het Esther vraend na haar gekyk.

      “Hoe hét dit dan gebeur, Essie?” wou Hannah verwytend weet.

      “Ek weet nie,” het Esther wrang gesê, “maar dit was nie sy skuld nie, Ma.” Haar gesig het vertrek, want die been wás seer. Báie seer. En sy was nie lus om oor Zach Dijzel te praat nie. Sy wou nie eers aan haarself erken dat haar opinie van hom aan ’t verander was nie. Haar oog het op die twee ruikers langs die bed geval. Een fyn rangskikking van pienk rosies in ’n kristalvasie, en die ander ’n uitbundige bos geel en rooi tulpe in ’n heldergroen erdekruik.

      “Dit moet ’n fortuin gekos het,” het Hannah bot gesê. “Maar wat, die Dijzels hét dit mos.”

      Sy wou met een magtige woord haar ma se hopelose minderwaardigheid wegvee, maar sy was skielik te moeg, en die pyn se vlammende geweld het toegeneem. Buitendien, sy had ware deernis vir haar ma. Hannah Marais het haar jonk-jonk mishuwelik en Sarel se vroeë dood het haar enersyds bevry en andersyds bang en bitter gemaak. Esther was oud genoeg om dit te begryp. Daar was baie lang nagte in die jare vooraf waarin sy dit stuk-stuk lê en uitpluis het. Een ding het sy genadiglik geweet: vir Hannah wou sy nie een oomblik se leed aandoen nie. Nooit nie. Dit was genoeg dat haar ma verwronge uit haar huwelik gekom het en haar dae agter die poskantoortoonbank moes omstaan. Daarom het sy net ’n paaiende hand na haar toe uitgesteek, gevoel hoe vou haar ma dit tussen haar eie droë palms toe.

      Zach het keer op keer gekom. Sommer smiddae direk ná skool en nog in sy skooluniform en ook weer saans met besoektyd. Maar dan was hy uitgevat soos net die Dijzels hulle kon uitvat. Hy het sy ma se goeie smaak geërf en Esther kon haar verkyk aan die gemaklike elegansie waarmee hy sy klere gedra het. Sy het skielik presies geweet waarom al die hoërskoolmeisies gedink het Zach Dijzel het charisma. Die afgelope maande is daar in die lewens­oriënteringklas heelwat gepraat oor ’n mens se beeld na buite, en wél, Zach s’n was ’n volmaakte samesmelting van treffende voor­koms en dinamiese persoonlikheid. Daarby, het sy nou uitgevind, oorweldig hy mens nooit. Hy kon langs haar bed bly sit en peinsend by die venster uitstaar sonder dat die swye wat insluip haar hinder. Dan het sy hom bekyk. Van sy dik blonde kuif en reguit neus met die welgevormde mond en hoekige ken tot sy breë skouers en sterk bene. Zach Dijzel is ’n trofee, het sy toe mos al geweet; en ook presies

Скачать книгу