Sewende somer. Helen de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Sewende somer - Helen de Kock страница 4

Sewende somer - Helen de Kock Helene de Kock-omnibus

Скачать книгу

sien hoe sy gesig eers botstil raak soos wat hy dink, en toe begin sy swartblink oë lewe kry soos altyd wanneer hy bly word.

      “Oe! Kan ons môre al gaan, Mamma? Kan ons?”

      “Volgende maand,” glimlag sy.

      “As die somer begin?” wil hy doelgerig weet, en sy lag.

      “As die somer begin, ja …”

      Dis eers toe hy al in die bed is, dat sy kans kry om weer te sit en ’n slag deur die koerant te blaai. ’n Opskrif laat haar frons: “Bekende Sakeman en Vrou Tuis Vermoor.” Sy lees dit gedrewe deur. Dis Fouries van Vereeniging. Sy ken die mense nie. Weet nie eens van hulle nie. Maar onderaan die berig is ’n sinnetjie wat haar yskoud laat word. “Hierdie moord maak weer bespiegelinge rondom die Dijzel-moord wakker. Daar is ooreenkomste wat be­swaarlik mis gekyk kan word. Fourie en sy vrou is ook in hul sitkamer geskiet deur iemand wat hulle klaarblyklik geken het, want daar was ook geen tekens van worsteling nie. Die motief is ook duister. Sou Fourie, nes Dijzel destyds, iets te wete gekom het wat vir sekere instansies of persone gevaar inhou …?”

      Sy sug diep. Daar was al heelwat sulke berigte die afgelope jare. Dis of elke tweede moord die polisie, of die media dan, laat onthou van die onopgeloste Dijzel-moord. Dan flikker daar oral belangstelling op en mense verwys vaagweg daarna. Maar dan vergeet hulle weer …

      Nee wat, dink sy, en vou die koerant toe. Ek en my kind gaan terug. Dat ek nou die moed vind om in die Dijzel-huis te gaan woon, behoort ’n bewys te wees dat ék klaar vergeet het.

      2

      Esther word nog soms met ’n vaart wakker wat haar laat orent veer in die bed, gereed om in die ou patroon van haar woonstel- en kantoorlewe te val. En elke keer is dit onvergelyklik salig om terug te sak tussen die sagte, appelgroen kussings en te luister na die mossies se onhebbelik vroeë gesnater in die populiere langs die huis. Later kom die onverwags soete gekweel van die Heug­linse lawaaimaker by om ook die tortels aan te steek wat in ’n koor begin koer.

      Dis wonderlik om te bly lê tot die lus vir die nuwe dag in haar oopvou en sy met geesdrif opstaan in haar nuwe kamer met die appelkoos en appelgroen muurpapier. Tant Olga het dié kamer van die geraamde afdrukke tot die kleinste laslappie so kunstig ingerig dat Esther self niks daarvan wou verander nie, al het die ouer vrou gesê sy moet die kamer maak soos sy dit wil hê. En sy het die heimlike genot in haar tante se oë begryp toe sy hartgrondiglik sê dat sy niks, maar niks daaraan sal verander nie, só mooi is dit vir haar. Want dis moontlik die eerste maal in haar lang alleenloperlewe dat Olga Hanekom kans kry om na hartelus nes te skop. Dit het Esther met ’n oogopslag gesien toe sy en Loekie ’n maand gelede hier aangekom het.

      Die Dijzel-huis se dak was nuut geverf. Die traliewerk aan die veranda het wit geskitter, en die werkery aan die boetiek in drie van die onderste groot vertrekke was goed onderweg. Werkmense het heen en weer geskarrel en die reuk van nat verf was oral. Op die boonste verdieping was alles egter al rustig. Opgewonde soos ’n kind het tant Olga hulle rondgewys. Hier is nou ons drietjies se woonkamer. ’n Sitkamer hét ons mos daar onder en daar kan ons sommer formeel mense ontvang ook. Esther moes laggend toegee dat dit asembenemend is. Die woonkamer het haar letterlik binnegenooi. Deur die vernuftige gebruik van die minimum kleur het tant Olga daarin geslaag om ’n warm, gesellige vertrek te skep. Eers toe sy in een van die diep gemakstoele wegsak, het Esther gemerk dat alles in skakerings van roomwit en beige was met hier en daar ’n kussing of ’n behangsel in herfsoranje. Tant Olga se hand was oral merkbaar. Ook in die uitbundige geel-en-groen kombuis en in Loekie se vrolike rooi-wit-en-blou kamer.

      “Ag jong, ek het só lank in skoolkoshuise gewoon dat ek nou skoon laf is oor dié plek! Ek wens eintlik daar was nóg ’n kamer iewers dat ek dit kan mooimaak!”

      “Dalk is daar!” het Esther gelag. “In ’n yslike plek soos dié is daar mos baie hoekies en gaatjies.”

      “Hm … Ek wonder juis waarom die huis so ’n hoë nok het. Daar is mos ’n venster ook in die solder. Maar ek het nog geen manier gevind om daar in te kom nie. Dalk is dit net daar om ’n illusie van ’n derde verdieping te skep. Hoe dink jy?”

      Esther was ’n oomblik botstil.

      “Seker, ja,” het sy huiwerig gesê. “Ek het wyle meneer Dijzel ook eendag daarna uitgevra toe … toe ek saam met Zach hier was. Maar hy het net gelag. Gesê sy pa het wel ’n klomp ou goed daar gestoor, maar toe hy met sy troue die huis betrek het, het hy goed skoongemaak daar en dit toegemaak. Dit lok glo net muise as dit oopstaan.

      “As jy my vra, lok dit buitendien muise. Ek het die eerste aand toe ek hier ingetrek het al ’n geskarrel op die plafon gehoor.”

      “Nou toe nou,” was Esther se enigste reaksie, want sy was skielik traag om verder oor die Dijzels te praat. Dit was tóg swaar om nou ná al die jare weer die plek binne te stap. Al het alles nou anders gelyk, kon sy in ’n oogknip haar dit voorstel soos dit des­tyds was. Die vertrekke vol swaar, antieke meubels, die effense geur van byewas waarmee die plankvloere blinkgevryf is, en mevrou Dijzel se sagte glimlag wat haar oral begroet. Zacharias Dijzel se joviale lag. Sy was altyd ’n bietjie verlig as hy ’n vertrek verlaat. Hy was so ’n dominante persoonlikheid dat selfs Zach stillerig was in sy teenwoordigheid. Tog het pa en seun mekaar baie goed begryp, dit kon sy sien. Hulle kon mekaar se oog vang tydens ’n gesprek en woordeloos gedagtes wissel wat net húlle begryp het … Miskien is dit juis daarom dat Zach sy pa se dood nie kon verwerk nie. Sy sagte, liewe ma s’n ook nie. Altans, dis wat die mense nou nog sê.

      Esther sug diep en draai op haar sy, tuur na die venster se kant toe waar die roosgrou van die oggend al deurskemer. Vanmôre het sy lus om ’n bietjie langer te lê. Sy wil al haar ou gedagtes op hok kry voor die opening van die Hoogland Boetiek vanmiddag. Dit gaan ’n hele okkasie wees, want tant Olga het volgehou dat die opening van hulle boetiek die geleentheid van die jaar moet wees. Enersyds sien sy baie daarna uit om van haar ou vriende weer te sien, want baie van hulle het ná hul afgestudeer het, teruggekom na dié dorp aan die voet van die berge. Maar sy is tog vol hui­wering om hulle te ontmoet. Baie sal nog vrae vra oor haar en Zach. Al het die stof na sewe jaar al gaan lê, sal die geringste briesie dit weer laat dwarrel, dit weet sy tog. Die kys tussen Zach en Esther het die dorp maande lank laat praat, en die nuus van haar skielike troue met Johannes het soos ’n lopende vuurtjie versprei. Tant Olga het later aan haar gesê dat sy nog nooit ’n storie so vinnig deur ’n dorp hoor trek het nie.

      En noudat sy terug is, sal die rokies weer begin trek. Sy sal maar net moet sorg dat die vuur nie begin vlam nie. Zach is weg uit haar lewe. En Johannes is dood. Dis net sy en Loekie wat oorbly en sy smag na doodgewone aanvaarding van die mense om haar. Dis net die dood van die Dijzels wat nog ou dinge sal op­rakel, want dis ’n ou tragedie wat steeds skimmig roer in hierdie wêreld. Die paar maal dat sy bekendes op straat raakgeloop het, het hulle eers na haar welstand verneem, en toe byna dadelik verwys na die feit dat die Dijzel-moord maar nog steeds onopgelos is. Vreemd, nè? Dat die polisie net nie hul vinger op die ding kan lê nie. En dis nou al sewe jaar lank wat die ding sloer. Mens word koud as jy dink die moordenaar loop nog los rond … Of dalk het hy nes Zach die pad gevat. Arme Zach, mens kan hom ook nie kwalik neem dat hy net sommer die wêreld in verdwyn het nie, nè.

      Dit was goed dat ek hierheen gekom het, dink Esther, maar dit was ’n fout om te dink dat ek Zach kan afskud. Mense maak ’n punt daarvan om my aan hom te herinner in hul pogings om hul eie nuuskierigheid te bevredig. En min weet hulle dat ek niks weet nie. Heeltemal niks. En ek beter ook nou weer ophou wonder. Want dit is om op graniet te kou. Ek word niks wys nie. Niemand wéét wat van Zach geword het nie. En ek durf nie te diep delf nie, want dis nié my saak nie. Lankal nie meer nie. Ek is Esther Kolbe, wyle Johannes se vrou. Dit moet ek nou onthou.

Скачать книгу