Wenkbrou. Deborah Steinmair
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair страница 4
“Nog trappies, Jess. Sewentien. Na die voordeur. Die enigste deur, lyk dit my,” verduidelik Aga.
Hulle staan in ’n ingangsportaal. Dis skemerig. Daar is nie vensters om uit te kyk oor die veld nie, net klein venstertjies vlak onder die balke van die grasdak, hoog. Op ooghoogte, ver van die gras en hout, is holtes vir kerse uit uitstaande sandstene gekalwe, reg rondom die vertrek. Die dik geel kerse lyk handgemaak. Die plankvloer is hoog gepoleer. Dis strak en sober. Daar is geen versierings, geen blombakke, vase, muurbehangsels of matte nie.
Hulle stap deur ’n lang, nou gang. Die vloer is van klip. Dit moet ysig wees in die winter. Daar is deure aan weerskante van die gang; swaar houtdeure. Elke deur is toe. Aga verbeel haar spartaanse nonneselle agter die deure. Suster Rut kyk oor haar skouer.
“Keneuoe. Oornag julle tesame, of apart?”
“Saam, asseblief, Suster.”
Sy sluit ’n deur oop, haal dan die sleutel uit en steek dit in die binnekant van die deur. Aga maak haar reg vir ’n klein kamertjie met twee enkelbeddens. Die kamer, halfdonker, is ruim. Suster Rut trek die swaar gordyne oop. Daar is ’n dubbelbed, groot, van donker hout. Daar is ’n dubbelhangkas en voor die venster wat uitkyk op die vlakte doer onder, ’n groot lessenaar met twee stoele. In die hoek is ’n kleiner vertrekkie: toilet, stort en wasbak. En suite!
“Dis luuks, Jesse. Sonder fieterjasie of versiering, maar ruim en vol lig.”
Suster Rut maak die hangkas oop en beduie na handgestikte onderklere in die rak en twee lang swart gewade wat aan outydse skouertjies hang. “Skoon klere vir die reisigers. Ons nuttig oor ’n halfuur die noenmaal. Suster Sippora sal ’n klokkie laat klingel in die eetsaal aan die einde van die gang.” Haar stem is gewoond aan instruksies en bevele gee.
— Die tafel voor my aangesig —
Aga en Jess is skoongeskrop en van kop tot toon in swart geklee. En rasend honger. Daar is geen spieëls nie, dus is Aga die gesig gespaar van haarself; ’n mal kroeskop-professor in ’n toga. Die gewade is hopeloos te wyd vir hulle, maar kort in die lyf, sodat daar ’n spleet spierwit been tussen soom en swart sokke uitsteek. Jesse slaag nogtans daarin om grasieus te lyk met haar sagte goudbruin krulle en nadenkende voorkop bo die statige gewaad.
Hulle suiker die gang af in gebreide sokkies. Hul stewels moet eers buite die kombuisdeur ontmodder word.
In die eetkamer, ’n spieëlbeeld van die ingangsportaal, maar aan die verste punt van die huis, is net ’n lang houttafel met bankies weerskante en een majestueuse stoel aan die punt. Die stoel is leeg. Die Susters sit reeds, ’n houtbord voor elk. Hulle staan op toe Aga en Jesse instap en Suster Rut stel die nonne op die ry af aan hulle voor.
Toe hulle gaan sit, begin Suster Rut inskep en aanstuur, inskep en aanstuur. Elkeen kry dieselfde ruim porsie: pap en ’n soort spinasie. “Ons is ’n vegetariese orde,” verduidelik Suster Rut. “Vermy die verlokkinge van die vlees. Dis ’n manneding, die ewige dors na bloed. Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby.”
“Die Herder …” begin Aga, en in die halfdonker eetkamer plons haar woorde soos ’n vet seun in ’n stil swembad, met ’n allemintige, skokkende plas. Elf pare verskrikte oë rus op haar. Jesse lê ’n hand op haar gewrig: “Hulle spreek nie die naam van oorledenes uit nie, nie in die eerste paar dae nie, Aga.”
Die nonne kyk weer af en begin eet, netjies, met die hand. Daar is geen seën of tafelgebed uitgespreek nie. Daar is geen geklets aan tafel nie. Net ’n uniforme afbuig van bedekte hoofde, hande wat van bord na mond beweeg, soos een non se weerkaatsing in ’n kamer vol spieëls.
Toe die laaste bord leeg is, kom Suster Rut regop, draai na hulle en sê: “Keneuoe. Ek wis jy wil Moeder Motle spreek; dit is waarom julle meegekom het. Sy is helaas verswak vandag. Moontlik môre.”
En net daar, in die halfdonker eetkamer, sien Aga hoe Jesse haarself bymekaarmaak en besluit om die bul by die horings te pak. Die bom te laat bars. Sy lig haar hand soos iemand wat ’n spreekbeurt verlang en sê helder en duidelik: “Dis te verstane dat Moeder Motle nie wel is nie, Suster Rut. Vandag is die dag waarop hulle haar seun graf toe gedra het.”
Daar is drie tellings doodse stilte, dan begin die Susters in Sesotho babbel, hoog en histeries. Suster Rut kry vir Jesse aan die arm beet. “Keneuoe. En Agathe. Kom spreek my onmiddellik in my kantoor. Sonder verwyl.”
Haar stem ysig soos die winterwind oor die Vrystaatse vlak.
— Ons het almal verdor soos blare —
Waaraan is die Herder dood en hoe vind ’n mens uit as jy nie sy naam of titel mag uitspreek nie?
Aga se kop is aan die gons, ’n miernes vol boodskappers en werkers wat aflosstokkies aangee, oor bruggies spring, paadjies bou. Sy is gek oor raaisels en logika-legkaarte. Trek ’n rooster op, maak kruisies, elimineer moontlikhede tot die enigste skuldige oorbly. Sy weet nou Jesse se oom was nie Jesse se ouma se kind nie, maar die buite-egtelike seun van Motle die moederowerste en Jesse se oupa, die eerste Herder. Dus was hy Jesse se ma se halfbroer. Was dit ’n oop geheim? Hy is deur Oumie grootgemaak soos haar eie, het Jesse gesê. Aga dink terug aan hul enigste ontmoeting twee aande gelede, in die maanlig. Hy het eerder vaagweg Oosters as half-Basotho gelyk; die blas, beplooide Herder. Motle het mos ’n aangenome kind, Fumane, ma van die vermoorde Kotsi. Waar is Fumane? Volgens die koerantberiggie behoort sy aan die sekte. Sy was nie een van die elf Susters wat voor die ete aan hulle voorgestel is nie. As sy ’n kind het, kan sy seker nie ’n non wees nie? Sy reken Jesse se oom was diep in die sewentig. Hoe oud is sy ma, Moeder Motle dan? En Oumie?
Hulle sit in Suster Rut se kantoor, ’n klein vertrek met een hoë, ronde venster, een lessenaar, vier stoele. Sy is kalm-briesend. “Jy is bekend met ons kultuur, Keneuoe. Ek verwys nie na die Sesotho-kultuur nie, maar dié van die Ongeskonde Susters.”
So. Uiteindelik weet Aga wat hulle hulself noem, die sogenaamde Sêsis. Die Ongeskonde Susters klink soos die naam van ’n alternatiewe Afrikaanse girl band.
“Ons orde is gebou op dissipline en diskresie. Ons blaker nie somaarso inligting uit nie. Jy het in kwader trou gespreek, vurige kole op die hoof gewerp.”
“Ek is jammer, Suster Rut. Ek beroep my op vergifnis. Ek wou reaksie uitlok, ’n sweer oopsteek. Hoe is iets ’n geheim as almal dit weet? Is dit ’n geheim omdat niemand daaroor praat nie?”
“Die helfte is jou nimmer vertel, Keneuoe. Jy sien deur ’n spieël in ’n raaisel. Soms is ’n geheim bloot ’n halwe waarheid. Onder die water lê ’n hele stad versteek. Daar is dinge wat ons nie aanraak of bevraagteken nie.”
“Dis heel digterlik, maar ek is moeg van spreekwoorde en kodes, Suster Rut. Ek het grootgeword op ’n dieet van gelykenisse en fabels, van kindsbeen