Wenkbrou. Deborah Steinmair
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair страница 5
“Hy is aan natuurlike oorsake heen, ’n hartaanval. Die skok van jou koms het gewis iets daarmee te doen gehad. Lykskouing is in ieder geval teen ons geloof. Dit gaan gewis weer ’n lollery afgee met die polisie. As die wêreld ons maar in vrede wou laat, soos ons vir hulle. Julle is welkom om te vertoef, maar julle sal hand aan die ploeg moet slaan, skouer aan die wiel moet sit. Julle sal teen vieruur gewek word. Onthou jy nog hoe om te melk, Keneuoe?”
“Met een hand? Liewe land. Ons sal inval, maar mag ons eerder in die groentetuin diens doen? Wanneer die son al op is, Suster Rut.”
— Wat buig jy jou neer, o my siel —
Aga skrik wakker. Sy ruik Jesse se wonderbaarlike reuk – rosynebrood en anys. Daar is ’n klop aan die deur.
Dis Suster Rut. Sy lyk vriendeliker vanoggend. Haar gelaat, die kleur van gepoleerde hout, het die sweem van ’n glimlag.
Aga waag ’n vraag: “Suster Rut. Die koerantberig het gesê die seun wat dood is se ma, Fumane – Jesse sê sy is Moeder Motle se aangenome dogter – is ook ’n lid van die … Volgelinge. Sy wou glo nie kommentaar lewer nie. Is Fumane dan ’n Ongeskonde Suster? Is sy hier? Of waar is sy?”
“Agathe. As die koerante ons maar met rus wou laat. En hul feite juis hou. Hulle is leuenagtig en agtelosig. Fumane is wêrelds, geen Volgeling of Suster nie. ’n Goue ring in ’n vark se snuit, so is ’n vrou wat mooi is maar sonder beleid.”
Die vervlietende sweem van ’n glimlag is nou weg. “En sy kon onmoontlik geweier het om kommentaar te lewer; sy is reeds maande lank vermis. Hulle het sekerlik verwys na Moeder Motle wat haar nie sou verwerdig om met die pers te praat nie. Ons het hulle ieder geval nie naby haar toegelaat nie. Aanstons is hulle weer op ons drumpel om soos verhongerde roofdiere rond te snuffel oor die jongste sterfte.”
Jesse kom regop en sit haar hand op Suster Rut se skouer, sekuur. “Hoe gaan dit vandag met Moeder Motle? Sal sy bereid wees om met my te praat, Suster Rut?”
“Inderdaad. Ons Moeder het ontwaak. Haar gees is helder vandag. Volg my.” Sy draai haar rug op hulle. Dit lyk asof die oudiënsie teen haar sin en beterwete gaan geskied. Hulle glip blitsig hul swart gewade aan.
Moederowerste se kamer is groter, maar ook ontdaan van versiering. Dit ruik na gras, kamfer en bloekom. In die middel van ’n reusebed lê ’n groot lyf onder ’n wit deken. Net haar rustige gesig en pofferhande steek uit. Sy haal stadig asem. Sy moet baie oud wees, maar sy lyk heelwat jonger as Oumie. Sy is lieflik, met ’n vel soos fyn perkament, gepoleerde ivoor; haar gelaatstrekke Oosters. Sy is bleek soos ’n koninginby. Haar teenwoordigheid boesem ontsag in. Aga wens sy het geweet hoe om ’n kniebuiginkie te maak. Motle beteken “mooi”, het Jesse haar vertel.
Suster Rut sit Jesse se hand op die deken neer, langs Motle s’n. Sy praat sag: “Onse Moeder is nou blind, soos jy, Keneuoe. En die gehoor ook algeheel verswak. Moeg en in der dagen sat. Spreek duidelik.”
Jesse se een wenkbrou, die superbeweegbare een, is amper vertikaal. Haar onderlip bewe. Sy skuif haar hand tot teenaan die ou vrou s’n. “DIS EK, MOEDER MOTLE. RESPEK EN VREDE.”
Moeder Motle se stem is nog ferm: “Keneuoe. Kind van my hart. Engelstem. Ek wis altyd die seisoen sou aanbreek dat jy terugkeer. O blye dag. Jy is gestuur. Jy is die Gesant, die enigste Opvolger. Profeet wat Raaisels deurgrond. Bewaarder van Geheimenisse, Lelietje-der-dalen. Herderin, die gekose een.”
— Woorde van die wyse manne —
Dis die volgende oggend. Aga en Jess sit op die rantjie agter die kliphuis. Die reën het opgehou, maar die lug is nog swaar bewolk. Aga verlekker haar tot in haar tone in die reuk van nat grond en gekneusde gras. Die geur is soos ’n aanraking, ’n omhelsing. Dit streel oor haar nekhare. In hierdie selfde provinsie het sy grootgeword, in ’n sandsteendorpie by ’n ongenaakbare vrou. Tog was daar in die onherbergsame landskap van haar kinderjare ’n handvol oomblikke wat haar nou nog sterk maak: hier en daar ’n bewolkte oggend in die agtertuin wanneer ’n ligstraal deur die wolke breek en ’n onaardse groen stralekans om die struike laat opslaan.
Hulle sit skouer teen skouer. Jesse se gemoed is onstuimig soos die weer.
“Hemel, Aga. Soos my ma, die afvallige dogter van die eerste Herder, by uiterste provokasie sou sê: ‘My goeie liewe hemel en verblerriedomp.’ My lewe lank probeer ek onder die skadu van die Volgelinge uitkom en hier loop ek my vas in my twyfelagtige erfenis. Ek voel soos Henderson the Rain King, soos Kurtz in Heart of Darkness, soos ontdekkingsreisigers in ou stories – gewone, sondige mense wat deur die inheemse bevolking as gode omhels word. Klink dit rassisties? Ek voel soos ’n tydreisiger. Ek voel gatvol. Dink jy ou Moeder se kop het haar gelos? Hierdie mense maak nie grappies nie, Aga. Alles is dodelike erns. Ek’s lus en los die hele byenes net so en fokkof terug beskawing toe, soos Claude sou sê. Terug een en twintigste eeu toe.”
“En tog, Jesse. Ek kan sien; die milieu, die gebruike, die manier van praat, die ingesteldheid lui by jou ’n klokkie. Iets ouds en edels. Dit resoneer, dis bekend, dis amper geneties ingeprogrammeer. Al het jy nie in die sekte grootgeword nie.”
“H’mmm. Ek dink die Herder – die eerste een, my oupa – het my ma eers afgeskryf toe ek al vier of so was, nie met my ouers se troue reeds nie. Iets moes later gebeur het. Ek het vae herinneringe, van Oumie, maar veral van Moeder Motle. Die gevoel van ’n sterk band. Veral die nonne, die Sêsis soos my ma hulle genoem het – met groot respek moet ek jou sê – hulle sang roer iets baie diep en primitief aan. Dit laat my voel soos ’n rot onder die geklank van die fluitspeler van Hamelin se note. Musiek was nog altyd my moedertaal.”
“Soos reuke vir my. In ’n millisekonde los die mis op en val tonele oop wat ek nie met my bewuste geheue kan bykom nie, Jess. Mense is so programmeerbaar, so fyn gedraad. Wat gaan jy vir Moeder Motle sê, wanneer sy weer helder is?”
“Ek gaan sê ek is nie gereed nie, Aga. Maar ek wil nie Moeder Motle se oor verloor nie. Sy ken elke misterie rondom die Volgelinge, van die heel begin af. Weet jy, sy en my oupa, die eerste Herder, het saam grootgeword, op Katdoornvlei. Oumie op die buurplaas. Die visioene het hom oorval op agtien. Dit was die begin van die Volgelinge. Die Herder wat nou oorlede is, was die oudste kind. Dus was my oupa en Motle in ’n verhouding voordat hy met Oumie getroud is. Wie weet, dalk ook daarna. Moontlik tot aan die einde? Maar toe hy en Oumie getroud is – hulle was albei agtien en Motle ’n paar jaar jonger – was die kind al daar of sterk op pad. Hy het by hulle grootgeword asof hy Oumie se eie kind was, met Motle agter die skerms, in die kombuis, in die buitekamers. Dit het ek my ma en pa hoor bespreek, ’n snars hier en daar, agter die hande, deur die jare, en gister in die eetsaal het die volle prentjie skielik tot my deurgedring. Wat ek toe op die plek uitblaker. Dit verduidelik hoe die Susters so ’n gesagsposisie verkry het. Sterk vroue, swart vroue wat in ’n paternalistiese, rassistiese opset mag in die hande gekry en gehou het. ’n Vreemde opset.”
Suster Rut doem uit die mis op. Sy staan en wieg, haar arms om haarself geslaan. Daar loop ’n kraak deur haar formidabele stem. “’n Seder het geval. Ons is wees. Sy is heen. So pas. In ’n oogwenk. Sy het die aardse kleed afgeskud. Die kruik by die fontein is gebreek.”
— Ek, ellendige mens —
Nog ’n reëndag, nog ’n wandelende stoet, nog droewe engelgesange. Ses mans kon Moeder Motle se kis nie tot op skouerhoogte lig nie, daar is spesiale handvatsels geprakseer. Die Volgelinge is daar, elke enkele een, of ten minste die oudstes, hoede teen die bors, kappies vasgeklem