13 uur. Deon Meyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 13 uur - Deon Meyer страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
13 uur - Deon Meyer

Скачать книгу

dit?”

      “Die rugbyspeler.”

      “Hy was Springbok-kaptein, Vusi.”

      “I’m more of a soccer guy.”

      “Anyway, sy’t hierdie paar …” Arnold wys met sy hande om groot borste aan te dui. Tiffany October kyk weg, geaffronteer. “I’m just stating a fact,” sê Arnold, verdedigend.

      Jimmy trek die vesels versigtig met ’n tangetjie uit die meisie se wond. “Haar naam is Amore,” sê hy.

      “Dis Amor, ek sê jou. En toe klim hierdie ou mos op die stage saam met haar …”

      “Watter ou?” vra Vusi.

      “Ek weet nie, dit was ’n ou wat na een van haar shows gaan kyk het. En hy gryp die mikrofoon en hy sê: ‘Jy’t die mooiste tiete in die business,’ so sê hy vir Amor, en toe is Joost vreeslik die moer in.”

      “Shows? Sy gee shows?” vra Griessel.

      “Jissis, Bennie, lees jy nie Huisgenoot nie? Sy’s ’n sangeres.”

      “Toe gryp Joost hom ná die tyd en hy sê: ‘Jy kan nie so met my vrou praat nie’ en die ou sê vir hom: ‘Maar sy hét mooi tiete’ …” Arnold lag uitbundig. Jimmy he-he saam. Tiffany October vervies haar en loop na die muur se kant toe.

      “Wat?” sê die korte verontskuldigend vir haar. “Dis ’n ware storie …”

      “Praat liewer van ‘borste’,” sê Jimmy.

      “Maar dis wat die ou gesê het.”

      “Nou hoekom het Joost hom nie gemoer nie?”

      “Dis wat ek ook wil weet. Hy’t vir Jonah Lomu getackle dat die spoeg spat, hy breek booms by hekke af as hy die moer in is, maar hy klap nie ’n ou wat oor sy vrou se t … borste praat nie.”

      “Let’s be reasonable, hoe gaan hy by ’n landdros verbykom met daai een? Die ou se prokureur gaan net ’n pak Huisgenote uitpluk en sê: ‘Edelagbare, kyk hier, op elke kiekie kan jy die werke sien, van Pramberg tot in Koekenaap.’ Dan moet ’n man mos weet, die ouens gaan oor jou vroutjie se assets praat of dit hulle s’n is.”

      “Is so. Maar ek sê jou, dis Amor.”

      “Not ’n fok.”

      “Jy dink aan Amore Bekker, die DJ.”

      “Nee, issie waar nie. Maar een ding sê ek vir jou: Ek sal nie my vrou só laat rondloop nie.”

      “Jou vrou het nie die mooiste tiete in die business nie. If you’ve got it, flaunt it …”

      “Is julle klaar?” vra Bennie.

      “Ons moet nog die paadjie klaarmaak en die muur doen,” sê Jimmy en staan op. Vusi roep die fotograaf nader. “Hoe gou sal ek my gesigfoto’s kan kry?”

      Die fotograaf, jonk met lang krulhare, haal sy skouers op. “Ek sal kyk wat ek kan doen.”

      Sê vir hom sy moer, dink Griessel. Maar Vusi knik net.

      “Nee,” sê Griessel. “Ons soek dit voor agt. Dis nie onderhandelbaar nie.”

      Die fotograaf het ’n houding aan hom as hy wegstap muur toe. Griessel kyk hom vies agterna. “Dankie, Bennie,” sê Vusi sag.

      “Jy moet hardegat wees, Vusi.”

      “Ek weet …”

      Ná ’n ongemaklike stilte vra hy: “Wat mis ek, Bennie?”

      Griessel hou sy stem sag, raadgewend. “Die rugsak. Dit moes roof gewees het, Vusi. Haar geld, haar paspoort, haar selfoon …”

      Ndabeni snap gou. “Jy dink hulle het die rugsak iewers gegooi.”

      Griessel kan nie meer so rondstaan nie. Hy kyk om, na die sypaadjie, waar die toeskouers nou begin handuit ruk. “Ek sal dit hanteer, Vusi, kom ons gee die Metro-mense iets om te doen.” Hy loop tot teen die muur en roep na die uniforms. “Wie’s in beheer hier?”

      Hulle kyk vir mekaar.

      “Die sypaadjie is ons s’n,” sê ’n bruin Metro-polisieman met ’n indrukwekkende uniform, rangtekens net waar jy kyk. Seker ’n veldmaarskalk, dink Griessel.

      “Julle s’n?”

      “Dis reg.”

      Hy wil hom vererg, want hy het ’n probleem met die hele idee van die stadspolisie, fokken spietkops wat nie hulle werk doen nie, almal maak net wat hulle wil op die paaie. Hy hou hom in en wys met ’n vinger na ’n SAPS-konstabel: “Ek wil hê julle moet dié sypaadjie afkamp, van daar onder af tot hier bo. As die mense wil staan, kan hulle anderkant die pad staan.”

      Die konstabel skud sy kop. “Ons het nie tape nie.”

      “Dan gaan háál jy tape.”

      Die SAPS-man hou nie daarvan om die uitverkorene te wees nie, maar hy draai om en loop deur die skare. ’n Ambulans kom van sy linkerkant af aangesukkel deur die mense.

      “Dis ons sypaadjie,” sê die swaarberangde Metro-poliesman moedswillig.

      “Is jy die hoofman hier?” vra Bennie vir hom.

      “Ja.”

      “Wat is jou naam?”

      “Jeremy Oerson.”

      “En die sypaadjies is julle jurisdiksie?”

      “Ja.”

      “Perfek,” sê Griessel. “Sorg dat die ambulans hier kom parkeer. Net hier. En dan wil ek hê julle moet elke sypaadjie en stegie begin inspekteer binne ses blokke van hier af. Die slagoffer het ’n rugsak gehad en ons soek daardie rugsak. Elke asdrom, elke hoek en draai, verstaan jy?”

      Die man kyk vir hom, lank. Seker besig om aan die implikasies te dink as hy weier. Dan knik hy, nors, en begin vir sy mense bevele blaf.

      Griessel draai om en loop terug na Vusi toe.

      “Julle beter hier kom kyk,” roep die patoloog van waar sy by die lyk buk.

      Hulle gaan staan by haar. Sy hou ’n klere-etiket met ’n knyptangetjie vas, die een wat agter aan die meisie se kamisool is.

      “Broad Ripple Vintage, Indianapolis,” sê sy en kyk betekenisvol vir hulle.

      “Wat beteken dit?” vra Vusi Ndabeni.

      “Ek dink dis van Amerika,” sê sy.

      “Fok,” sê Bennie Griessel. “Is jy seker?”

      Tiffany October se oë rek effens oor sy taalgebruik en haar stemtoon beaam dit: “Redelik seker.”

Скачать книгу