Onsigbaar. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Onsigbaar - Deon Meyer страница 3
“Ek verstaan, juffrou le Roux. En ’n mens skrik so groot. Maar enigiets sal help.”
“Dit kan wees dat … een swart was.”
“En die ander twee?”
“Ek weet nie … “
“Het u onlangs enige werk in of om die huis laat doen?”
“Nee.”
“Is daar enige artikels in die huis wat van besondere waarde is?”
“Net die gewone. ’n Paar stukkies juweliersware. ’n Laptop. Die TV…”
“’n Laptop?”
“Ja.”
“En dit is nie gesteel nie?”
“Nee.”
“Nou moet u verskoon, juffrou le Roux, maar dit is ongewoon. As ek so luister na wat gebeur het, dit is nie die modus operandi van jou gewone huisbreker nie. Die deure oopgebreek en die agtervolging tot in die agterplaas …”
“Ja?”
“Dit klink of hulle u in die persoon wou aangeval het.”
Sy knik.
“’n Mens begin maar altyd soek na redes, u verstaan.”
“Ek verstaan.”
“En dit is gewoonlik persoonlik van aard. In die meeste gevalle.”
“O?”
“Vergewe die vraag, maar is daar dalk ’n liefde wat onlangs skeefgeloop het?”
“Nee,” sê sy met ’n glimlag om haar verligting te masker. “Nee … nie só skeef nie, hoop ek.”
“’n Mens weet nooit, juffrou. So daar was ’n man in die onlangse verlede?”
“Ek kan u verseker, meneer, ek was meer as ’n jaar gelede in ’n ernstige verhouding en hy was ’n Brit wat terug is Engeland toe.”
“Die afskeid was gemoedelik?”
“Heeltemal.”
“En daar was sedertdien nie iemand wat dalk ongelukkig kon wees oor ’n verbrokkeling nie?”
“Nee. Hoegenaamd nie.”
“Watse werk doen u, juffrou le Roux?
“Ek is ’n handelsmerk-konsultant.”
Sy sien onbegrip en probeer verduidelik. “’n Brand consultant. Ek help maatskappye om hul produkhandelsmerke te posisioneer. Of te herposisioneer.”
“Vir watter maatskappy werk u?”
“Nee, ek werk vir myself. My kliënte is maatskappye.”
“So u het geen werknemers nie?”
“Nee.”
“En u werk met groot maatskappye?”
“Meestal. Soms is daar kleineres …”
“Daar het nie onlangs by die werk iets gebeur wat mense kon kwaad maak nie?”
“Nee. Dit is nie … ek werk met die produkte, of die maatskappye se handelsmerk-beeld. Dit kan niemand kwaad maak nie.”
“’n Alterkasie? Met u motor? Met iemand wat ’n diens aan u gelewer het? Tuinwerker, huishulp?”
“Nee.”
“Is daar enigiets waaraan u kan dink? Enigiets wat kon aanleiding gee?”
Dit was die vraag wat sy nog nie gereed was om te beantwoord nie.
* * *
“Toe sê ek ’nee’, maar ek dink nie dit was die waarheid nie,” sê Emma vir my. Die staanlamp langs haar werp ’n sagte, simpatieke lig oor haar eufemisme.
Ek reageer nie.
“Ek … ek wou nie … Ek was nie seker of die goed verbind was nie. Nee, ek wou nie gehad het dit moet verbind wees nie. In elk geval, dit was iets wat ’n duisend kilometer van die Kaap af gebeur het en dit kon Jacobus gewees het, of dit kon nie, en ek wou nie die polisie belas met iets wat dalk net my verbeelding is nie.” Sy hou skielik op met praat, kyk na my en glimlag stadig, asof sy moeg is vir haarself. “Ek maak nou hoegenaamd nie sin nie, nè?”
“Neem u tyd.”
“Dis net … dit máák nie sin nie. Jy sien, my broer …” Sy hou op met praat, skep ’n oomblik asem. Sy kyk na haar hande, dan, stadig, op na my. Emosie blink in haar oë, haar hande beweeg klein en hulpeloos. “Meneer Lemmer, hy’s oorlede …”
Dit is die som van haar liggaamstaal, haar woordkeuse en skielike ratverwisseling wat die alarm in my kop laat afgaan. Asof sy hierdie frase, dié aanbod geoefen het. Daar is die fyn flikkering van manipulasie, asof sy my aandag van die feite op die tafel wil weglei. Wat my op daardie oomblik laat wonder: Hoekom is dit nodig?
Emma le Roux sal nie die eerste kliënt wees wat met die klein frons van absolute eerlikheid op die voorhoof blatant lieg oor ’n bedreiging nie. Of met mistige oë ten dele fantaseer of vergroot om die egostrelende teenwoordigheid van Die Lyfwag te regverdig nie. Mense lieg. Vir ’n duisternis van redes. Soms net omdat hulle kán. Dit is een van die bevestigende verskynsels van Lemmer se Eerste Wet: Moenie betrokke raak nie. Dit is een van die primêre bronne van Lemmer se Tweede Wet: Moet niemand vertrou nie.
3
Sy herstel gou, dit moet ek haar toegee. Wanneer sy sien dat ek nie reageer nie, skud sy die emosie met ’n beweging van haar kop af en sê: “My broer se naam was Jacobus Daniël le Roux …”
Haar sinne is nou weer minder vloeiend, haar storie kursories, asof die detail ’n fontein is waar sy nie wil gaan drink nie. Sy sê haar broer het in 1986 verdwyn. Sy was toe 14, Jacobus 20. Hy was ’n soort tydelike wildbewaarder, een van ’n paar dienspligsoldate wat as vrywilligers gewerf is om te gaan help, want die Parkeraad was nie opgewasse teen die olifantslagting in die Krugerwildtuin nie. En toe raak hy net weg. Hulle het agterna die tekens van ’n skermutseling met ivoorstropers gekry, koeëldoppies en bloed en die haastig agtergelate oorblyfsels van die wilddiewe se kampplek. Hulle het twee weke lank gesoek en gejag, tot hulle die enigste sinvolle afleiding gemaak het: dat Jacobus en sy swart assistent dood is tydens die konfrontasie, dat die stropers hul lyke saamgeneem het uit vrees vir die reaksie wat dit sou ontlok.
“Dis meer as twintig jaar gelede, meneer Lemmer … Dis ’n lang tyd, dit moet jy verstaan. Dis wat alles so moeilik maak … In elk geval, verlede week, die 22ste, het die ding gebeur wat ek die polisie nie vertel het nie …”
Daardie Saterdagaand, net ná sewe, sit sy in haar huis se tweede slaapkamer. Sy het dit as kantoor ingerig, met ’n ingeboude lessenaar, liasseerkabinette