Onsigbaar. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Onsigbaar - Deon Meyer страница 7
Hy is gewoond daaraan om die middelpunt van belang te wees. Hy wil nie buite dié ding staan nie. Hy wil hê ek moet weet hy is verantwoordelik vir my teenwoordigheid, hy is die vaderfiguur wat Emma se belange dien, dus eintlik in beheer, die beoordelaar van my dienste. Hy het die reg om in te meng, om deel te wees. En boonop het hy Kennis. En hy gaan dit nou met my deel.
“Sy’t by my kom werk, ná universiteit. Die meeste ouens sal net hierdie mooi, klein dingetjie sien, maar ek het geweet daar’s iets, my vriend.” Hy punktueer sy sin met die sigaar.
“Ek het hoeveel van hulle aangestel, account managers, en hulle sien net die glamour en die lang lunches met kliënte en die vet salaristjeks. Maar nie Emmatjie nie. Sy wou leer, sou wou wéét, sy wou wérk. Jy sou nooit sê daar’s geld agter haar nie, sy’t die soort ambisie gehad van iemand wat uit ’n arm huis uit kom. Vra my, ek weet, my vriend. In elk geval, sy’t so drie jaar vir my gewerk toe gebeur die ding met haar pa-hulle. Motorongeluk, op slag, al twee van hulle. Sy’t in my kantoor gesit, my vriend, daardie klein dingetjie, gebreek, ek sê jou. Gebreek, want toe het sy niemand oor nie. Toe vertel sy my van die broer ook. Kan jy dink? So baie verlies. Diep waters. Hoe troos jy?”
Hy trek weer die bottel nader, skroef dit oop.
“Maar sy’s sterk, daardie een. Sterk.”
Skuif sy glas nader.
“Ek het eers later gehoor hoe groot die boedel is. En laat ek nou vir jou sê …” Hy skink twee vingers. “Hierdie ding wat nou gebeur, is oor die geld.”
Dramatiese stilte, prop terug op die bottel, kort teug aan die glas, kort teug aan die sigaar. “Daar’s baie aasvoëls daar buite, my vriend. Baie. En hoe groter die rykdom, hoe vinniger ruik hulle dit uit. Vra my, ek weet.”
Hy beduie met sy glashand: “Daar buite iewers is iemand met ’n scheme. Iemand wat sy huiswerk gedoen het, iemand wat haar geskiedenis ken en nou wil hy dit gebruik om by haar geld uit te kom. Ek weet nie hoe nie. Maar dit gaan oor die geld.”
Hy bring weer die glas tot by sy lippe en sit dit dan met ’n finaliteit op die kroegtoonbank neer. “So al wat jy moet doen, is om die scheme uit te werk. Dan het jy jou man.”
Op daardie oomblik kan ek hom vertel van Lemmer se Eerste Wet. Ek doen dit nie.
“Nee,” sê ek.
Dit is nie ’n woord wat hy gereeld hoor nie. Sy reaksie wys dit.
“Ek is ’n lyfwag. Nie ’n speurder nie,” sê ek voor ek uitloop.
* * *
My kamer is langs Emma s’n. Haar deur is toe.
Ek stort en sit die klere vir môre uit. Ek gaan sit op die bed se rand en stuur vir Jeanette Louw ’n SMS: IS DAAR DOSSIER BY SAPS TUINE OOR AANVAL/INBRAAK OP E. LE ROUX GISTER?
Dan maak ek die kamerdeur oop, sodat ek kan hoor, en sit die lig af.
5
Niemand agtervolg ons lughawe toe nie.
Ons ry met Emma se Renault Mégane, ’n groen Cabriolet. My bakkie staan in Carel se motorhuis. “Hier is meer as genoeg plek vir hom, Emma,” was die boodskap. Hy het my vanoggend geïgnoreer.
“Bestuur jy, meneer Lemmer?” het sy gevra.
“As dit vir u aanvaarbaar is, juffrou le Roux.” Dit is ons laaste formele interaksie, want terwyl ek tussen Fisherhaven en die N2 vrede maak met die outomatiese ratkas en die verrassing van die tweeliterenjin se krag, sê sy: “Jy moet my asseblief Emma noem.”
Daar is altyd ongemaklikheid aan dié oomblik, want mense verwag ’n voornaam, wat ek nie gee nie. “Ek is Lemmer.”
Ek hou aanvanklik die truspieël met groter aandag dop, want dit is waar die amateurs sal wees – sigbaar, gretig. Maar daar is niks. Ek wissel die spoed, tussen 90 en 120. Teen die Houwhoekpas op begin ek wonder oor ’n wit Japannese sedan voor ons wat ondanks my maatreëls op dieselfde afstand van ons bly, ’n vermoede wat anderkant af sterker word as ek die Renault 140 toe stoot.
’n Paar kilometer voor Grabouw word dit tyd om finaal vas te stel. Kort voor die afdraai sit ek die flikker aan, ry stadiger asof ek gaan afdraai en hou die wit motor dop. Geen reaksie nie, hy hou net aan met ry. Ek sit die flikker af en versnel.
“Jy ken die pad?” vra Emma hoflik.
“Ja dankie,” sê ek.
Sy knik tevrede en krap in haar handsak tot sy haar donkerbril kry.
* * *
Kaapstad Internasionaal is chaos – te min parkering weens die aanbouings, te veel mense, ’n miernes van angstige Kersreisigers wat iewers heen op pad is en die vlug so gou moontlik agter die rug wil kry. Onmoontlik om skaduwees raak te sien.
Ons boek Emma se aansienlike tas en my swart sportsak in. “En jou wapen?” vra sy op pad na die vertreksaal.
“Ek het nie een nie.”
Sy frons.
“Carel het gisteraand ’n aanname gemaak,” sê ek.
“O,” sê sy. Maar sy is nie gelukkig nie. Sy wil die gemoedsrus hê dat haar beskermer toegerus is. Ek bly stil tot anderkant die bagasieskandeerder, waar ons by die Nescafé-koffiewinkel wag vir twee mense om ’n tafeltjie te ontruim.
“Ek het gedink jy is gewapen,” sê sy met ’n vae kommer.
“Wapens maak dinge moeilik. Veral as jy reis.” Dit sal nie help om nou vir haar te sê my paroolvoorwaardes verbied die besit van ’n wapen nie.
Die tafel raak beskikbaar en ons gaan sit. “Koffie?” vra ek. “Asseblief. Cappuccino, as hulle het. Sonder suiker.”
Ek gaan staan in die ry, maar só dat ek haar kan sien. Sy sit met die instapkaart in haar hande, staar daarna. Waaraan dink sy? Aan wapens en die vlak van beskerming wat sy verwag? Aan dit wat voorlê?
Dan sien ek die man. Sy oë, sy fokus is op Emma. Hy vleg tussen die tafeltjies deur, groot, wit, netjiese baard, vaalgeel T-hemp, gestrykte denim, sportbaadjie. Vroeë veertigs. Ek beweeg, maar hy is te naby om te onderskep. Hy loop tot langs haar, steek sy hand na haar skouer uit en ek onderskep hom, vat sy pols en swaai sy arm terug, kry my gewig teen sy rug, druk hom teen die pilaar langs Emma vas, maar sonder geweld. Ek wil nie aandag trek nie.
Hy maak ’n geluid van verbasing, kyk na my. “Hei,” sê hy.
Emma kyk op. Sy is verward, haar lyf verstyf van die skrik. Maar sy herken vir baardbek. “Stoffel?” sê sy.
Die man kyk na haar, dan weer na my. Hy beur terug, probeer sy arm loskry. Daar is krag in sy lyf, maar ongekoördineerd. ’n Amateur. Ek bly vloeibaar, gee effe skiet.
“Ken jy hom?”