Goue gerf. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Goue gerf - Tryna du Toit страница 4

Goue gerf - Tryna du Toit

Скачать книгу

      Die “asseblief” is ’n bevel en nie ’n versoek nie, en effens nukkerig gee Oswald toe. Hy weet al uit ervaring dit sal nie help om teë te praat nie. Daar is tye dat hy hom diep vererg vir die meisiekind se hovaardigheid, en tog kan hy nie van haar af wegbly nie. Hy is nie gewoond dat meisies so koel en afsydig teenoor hom is nie, maar hy het baie gou besef dat Elizabeth Bornman anders is as al die ander meisies met wie hy tot dusver te doen gehad het. ’n Man moet volgens haar reëls speel, het hy uitgevind, of sy speel glad nie saam nie. Maar dit is nogal ’n interessante ervaring en hy is bereid om sy tyd af te wag.

      Wat is dit in Elizabeth wat hom altyd na haar toe laat terugkom? wonder hy nou. Is dit haar skoonheid, die pragtige koringgeel hare, die besonderse blou oë en sagte, goudgebrande vel, die grasie van haar slanke figuur? Of is dit haar trotse onafhanklikheid van gees, die gevoel dat sy buite sy bereik is, wat hom telkemale weer terugbring na haar toe ten spyte van die koel ongeërgdheid waarmee hy so dikwels ontvang word?

      In die maanlig ry hulle huis toe. Stil sit sy langs hom. Die blinkertjies op haar serpie glinster soos diamante en haar profiel is suiwer en mooi in die sagte lig van die maan. Elizabeth het die aand geniet, maar haar gedagtes is nie nou by die jong man wat langs haar sit nie. Sy wonder wat die dag van môre alles sal oplewer. Sal sy kry wat sy soek of sal sy net teleurgesteld en meer verbitterd as ooit vantevore terugkeer na die stad, wat die afgelope jare haar enigste tuiste en haar toevlug geword het?

      Oswald sit sy hand oor albei hare, wat in haar skoot gevou lê, en voel hoe sy instinkmatig verstyf.

      “Hoekom so stil? Droom jy of slaap jy?”

      Sy sit sy hand terug op die stuurwiel. “Ek geniet die maanlig en die wind. Dis ’n nag vir liefde en romanse, soos die skryfsters van soetsappige liefdesverhale sal sê.”

      Haar stem is koel en spottend, en effens uitdagend sê hy: “Wat is fout met liefde en romanse?”

      “Alles! Dis ’n illusie, ’n lokval, ’n strik, ’n hersenskim . . . ’n droom waarin jy net kan glo as jy baie jonk en baie onervare is.”

      “As ek mag vra, met watter gesag praat jy?”

      Sy lag sag, geamuseerd. “Ek kan nie met soveel gesag en ervaring as jy praat nie, my vriend, maar die toeskouer sien dikwels baie meer as die man wat in die hitte van die stryd staan.”

      “Jy is vanaand baie slim,” antwoord hy liggies. “Maar onthou, slim vang ook sy baas. Ons sal weer praat.”

      Sy antwoord nie, en ’n rukkie later hou hulle voor die losieshuis stil. Sy draai na hom toe. “Dankie, Oswald. Ek het die aand geniet.”

      “Is dit al?” vra hy. “Nie eens ’n goeienagsoentjie nie?”

      Sy aarsel ’n oomblik, dan lig sy haar gesig na syne. “Aangesien dit tog jou verjaardag is,” sê sy liggies, spottend.

      ’n Koel, vlugtige soentjie, dan glip sy uit sy omhelsing, maak die deur oop en klim uit.

      “Moenie saamkom nie,” sê sy, en liggies hardloop sy met die paadjie op en glip saggies die donker losieshuis binne.

      ’n Oomblik kyk hy haar agterna, dan swets hy ligweg, skakel die motor aan en met ’n diep gebrul ry hy in die maanlig weg.

      Hoofstuk 2

      Elizabeth is besig om ’n paar stukkies klere in ’n tassie te pak toe Ethel Fourie ná ’n ligte kloppie die kamer binnekom. Dit is agtuur in die oggend en Ethel het ’n kort, geblomde katoenkamerjas en pantoffels aan. Haar sagte bruin hare is netjies geborsel en met ’n rooi lint van haar gesig af weggebind, en sonder grimering lyk sy in die helder oggendlig ’n bietjie valer en ouer as gewoonlik.

      “Ek kom net kyk of ek kan help. Wanneer ry jy?”

      “Alles is onder beheer, dankie. Ek is feitlik klaar.”

      Ethel kyk hoe sy klaar pak en die tassie toemaak. Elizabeth het vanoggend ’n swart langbroek en ’n blou bloesie aan. Sy weet tannie Cora sal nie daarvan hou nie – tannie Cora dink dis vulgêr en onfatsoenlik vir ’n dame om in ’n langbroek op straat te verskyn – maar sy is haar eie baas en hoef haar nie aan Cora Bornman se eng, bekrompe idees te steur nie.

      “Het jy al geëet?” vra Ethel. “Kan ek nie gou vir jou ’n bietjie tee maak nie?”

      “Nee, dankie. Ek het ’n paar appels in die motor en ek kan altyd op pad iets drink as ek dors word.”

      “Is jy nie bang om alleen so ver te ry nie? Ek kan nou nog ’n plan maak om saam met jou te gaan.”

      “Jy is die derde persoon wat aanbied om saam met my te ry,” sê Elizabeth geamuseerd. “Ek het nie besef ek het soveel goeie vriende nie.”

      Ethel kyk onseker na haar. Dan sê sy liggies: “Ek weet nie van die ander nie, maar ek is beslis jou vriendin. En ek hou niks van die idee dat jy alleen so ver ry nie.”

      Elizabeth tel haar trui van die bed af op en trek dit aan. “Jy het nie die minste rede om onrustig te wees nie. Die son skyn, dis ’n heerlike teerpad, en as ek nie teëspoed kry nie, is ek netnou by die huis.”

      “En as jy teëspoed kry?”

      “Jy moet die lewe positief benader, nooit negatief nie.” Sy skud haar kop en sê met ’n spottende glimlaggie: “En jy is ’n onderwyseres wat moet help om die karakter van ’n nasie te bou.”

      Met ’n glimlaggie gee Ethel die saak gewonne. Elizabeth tel haar tassie en handsak op.

      “Tot siens, Ethel. Geniet die lewe. Vanaand is gelukkig Saterdagaand, nè, dan kom die professor weer kuier.”

      Die “professor” is Ethel se vriend, ’n jong lektor wat tans vir sy doktorsgraad studeer. Hy is ’n sober, hardwerkende man wat die lewe ernstig opneem en kuiertjies word streng tot die naweek beperk.

      Ethel stap saam met Elizabeth tot by die trap, waar sy vir haar tot siens sê. ’n Paar minute later ry die klein Fiat vinnig daar weg en dit word gou deel van die stroom verkeer wat stadwaarts vloei. ’n Halfuur later lê die stad agter haar, en sy trap die versneller dieper in. Die motortjie loop lekker, die pad is betreklik stil en sy kan dit waag om so ’n bietjie te ontspan en haar gedagtes vrye teuels te gee.

      Sy het haar pa meer as ’n jaar laas gesien, sestien maande gelede om presies te wees, en sy wonder nou of sy siekte hom verander het. Hy was altyd ’n sterk, gesonde man en die nuus van sy siekte het haar diep geskok. Haar pa ’n hulpelose invalide – dit bly vir haar ’n vreemde gedagte. ’n Hartaanval is nie speletjies nie, en sy word nou nog koud as sy dink hy kon gesterf het sonder dat sy hom ooit weer gesien het.

      Haar pa se siekte – haar aangenome pa om presies te wees, hoewel min mense, hier in die stad altans, dit weet – is die eintlike rede vir haar besoek aan Oudendal. Sy is baie verskuldig aan Jan Bornman en ten spyte van alles wat gebeur het, ten spyte van die bitterheid en steeds groeiende verwydering wat die jare tussen hulle gebring het, sal daar in haar hart tog altyd ’n gevoel van dankbaarheid en erkentlikheid teenoor hom wees. Sy dink met verlange aan daardie gelukkige jare toe Jan Bornman en sy mooi blonde vrou haar met hulle liefde en sorg omring het. En as Engela Bornman nie gesterf het nie, sou sy miskien vandag nog geglo het dat hulle haar eie ouers is en sou al die hartseer en bitterheid wat sy later deurgemaak het, haar gespaar gewees het.

      Sy

Скачать книгу