Goue gerf. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Goue gerf - Tryna du Toit страница 5

Goue gerf - Tryna du Toit

Скачать книгу

het. Daarna was dit nooit weer dieselfde nie. Engela was weg en haar verlies is op talle maniere by die verslae jong dogter tuisgebring. Sy was destyds in die koshuis op die dorp en kon slegs met langnaweke en vakansies Leeufontein toe gaan, waar Jan Bornman sonder die hulp en inspirasie van sy geliefde vrou alleen probeer aansukkel het. Ook vir hom was sy vrou se dood ’n verpletterende slag. Die jong Elizabeth het haar bes gedoen om die leemte te vul wat haar ma se heengaan in hulle huis en lewens gebring het, maar sy was die meeste van die tyd op die dorp. Die huishouding is verwaarloos en niemand was juis baie verbaas of het Jan Bornman dit kwalik geneem dat hy net nege maande ná sy vrou se dood weer getrou het nie. ’n Man kan nie so alleen lewe nie en veral op ’n plaas het hy ’n vrou se hulp en sorg nodig.

      Almal was blykbaar so iets te wagte, almal behalwe Elizabeth. Vir haar was dit ’n hewige skok en teleurstelling. Sy kon of wou eenvoudig nie aanvaar dat haar pa so gou haar geliefde ma kon vergeet en so gou en so maklik met ’n ander vrou kon trou nie. Later het sy beter besef hoe verlore Jan Bornman sonder sy geliefde Engela was. Sy was die sterk een, die spil waarom alles gedraai het, en toe sy wegval, was dit vir Jan Bornman asof die vaste grond onder sy voete padgegee het. Later kon sy sy eensaamheid beter begryp, die hulpeloosheid van ’n man vir wie daar met algehele oorgawe gesorg is, wat gesteun en onderskraag is in alles wat hy doen . . . en wat dan een oggend opstaan en ontdek dat hy nou alleen verder moet gaan. Dit alles kon sy later verstaan en vergewe. Maar dat hy met Cora van Breda van alle mense moes trou, vir haar in Engela se plek moes stel, dit kon sy nooit begryp of vergewe nie.

      Cora van Breda was een van Elizabeth se onderwyseresse. Haar man is ’n paar jaar ná die geboorte van hulle dogtertjie in ’n skietongeluk dood en sy was verplig om weer onderwys te gee. Elizabeth het nooit veel van die temerige, vrome juffrou gehou nie en hulle het dikwels gebots. Haar jonger suster, Ria, was in dieselfde klas as Elizabeth en Elizabeth en haar maats het haar altyd die witbroodjie genoem omdat hulle gedink het sy word voorgetrek. Elizabeth was van jongs af ’n klein waaghals wat vir niks of niemand gestuit het nie en omdat sy gewoonlik die voorbok in alles was, het Cora van Breda haar blameer vir haar suster se ongewildheid en die res van die klas se gevoel teenoor Ria. Cora het later sover gegaan om die saak persoonlik met Jan Bornman te bespreek, en dit was die begin van die einde. Cora het dadelik die moontlikhede wat die situasie inhou, besef. Sy het haar kaarte goed gespeel en Jan Bornman, nog verslae en verpletter deur sy vrou se skielike dood, was nie bestand teen die aanslae van die troulustige jong weduwee met haar vroom gesiggie en soetsappige maniertjies nie.

      Elizabeth het van die hele moord niks geweet nie en teen die tyd dat sy agtergekom het wat aangaan, was die troudatum reeds vasgestel en was daar niks meer aan die saak te doen nie.

      “Ek hoor jou pa gaan weer trou,” het ’n maat een Maandagoggend met pouse vir haar gesê. Sy het die meisie ’n oomblik aangestaar en toe koel en trots gesê: “Dis nie waar nie!”

      “My tannie sê so. My tannie sê hy kuier gereeld by juffrou Van Breda en juffrou Van Breda het vir haar gesê hulle trou sodra die skole sluit.”

      “Juffrou Van Breda!” Daar was spot en minagting in haar stem. “Juffrou Van Breda sal haar wat verbeel! My pa sal nooit na háár kyk nie. Dis sommer net praatjies.”

      Sy het eenvoudig geweier om te glo dat so iets moontlik is, maar sy was die res van die week bedruk en ongelukkig en toe haar pa haar die naweek onverwags kom haal om saam plaas toe te gaan, het sy sommer geweet daar is onraad. Maar sy het niks gesê nie en eers die volgende dag het haar pa genoeg moed bymekaargeskraap om haar van sy planne te vertel.

      Hy het probeer om die nuus mooi en taktvol aan haar oor te dra. Hy is baie eensaam so alleen op die plaas, het hy gesê, en hy het ’n vrou se hulp en sorg bitter nodig. Hy is bekommerd oor sy dogter wat so sonder ’n ma se leiding grootword en hy het besluit dat dit vir hulle albei die beste sal wees as hy weer trou.

      “Net nie juffrou Van Breda nie,” het sy ontsteld uitgeroep. “Enigeen, maar nie juffrou Van Breda nie!”

      Maar dit wás Cora van Breda. Elizabeth het gesoebat en gehuil en mooigepraat, maar haar pa was onversetlik.

      “Ek weet jy hou nie van Cora nie. Cora het my alles vertel, ook hoe onvriendelik jy en jou maats teenoor Ria is. Maar sy verkwalik jou dit nie – kinders is dikwels wreed en onbedagsaam omdat hulle nie besef hoe maklik hulle iemand kan seermaak nie – en sy sê van haar kant af sal sy probeer om in alle opsigte jou ma se plek in te neem. En nou kry jy sommer ’n sussie ook by. Onthou jy nog hoe graag jy altyd ’n sussie wou gehad het?”

      “Pa kan met haar trou as Pa wil,” het sy koud gesê, “maar sy sal nooit my ma wees nie. Nooit! Nooit! Nooit nie! Net so min as wat haar kind my suster sal wees.”

      Haar pa het moeg en ongelukkig gelyk. “Ek is jammer jy neem so ’n houding in, my kind. Maar Cora het my gewaarsku dat jy aan die begin opstandig sal wees, dat jy eers aan die gedagte gewoond moet raak. Onthou net, ek doen dit vir ons albei, Elizabeth. ’n Dogter kan nie so vir wind en weer grootword nie. Sy het ’n ma se hulp en leiding nodig en ek kan aan niemand dink wat meer geskik is om jou ma se plek in te neem as Cora nie. Sy is ’n goeie vrou en ’n regte dame en het self ook ’n dogter. Ek hoop jy sal jou bes doen om hulle albei gelukkig en welkom hier op Leeufontein te laat voel.”

      Verslae en ongelukkig is sy terug skool toe en die selfvoldane, triomfantlike glimlaggie op Ria se ronde poedinggesig was vir haar soos gal. Maar sy het haar kop hoog gehou en selfs haar beste maat het nie geweet wat in haar hart omgaan nie. Daardie Julievakansie is haar pa en Cora van Breda getroud en ná ’n kort vakansie in Durban het hy haar en haar tienjarige dogter, Maybelle, Leeufontein toe gebring.

      Daarna was Leeufontein nooit weer dieselfde nie. Cora het die huis laat verbreek en talle ander veranderinge aangebring. Alles wat aan Engela kon herinner, is stelselmatig verwyder en uitgewis. Ria het dikwels daar gekuier en Elizabeth was verplig om haar kamer met haar te deel – dit sou die twee dogters die kans gee om mekaar beter te leer ken! – en Elizabeth, wat so lank die huis en die harte van haar ouers regeer het, het skielik geen seggenskap meer gehad nie. Is dit ’n wonder dat sy soos ’n vreemdeling en ’n indringer in haar eie huis begin voel het?

      Al Cora se pogings om die, volgens haar, trotse, parmantige, bedorwe en moedswillige jong meisie tot inkeer te bring, het misluk; van toenadering tussen hulle was daar nie sprake nie.

      Op skool het sy nog goed gepresteer; daar het sy altyd vir Ria ver in die skadu gestel. Sy was altyd eerste in die klas terwyl Ria moes swoeg om haar plek hier in die middel te behou. Aan die begin van die jaar is Elizabeth weer as klaskaptein gekies, sy het in die eerste tennis- en korfbalspan gespeel en in hulle groepie was sy die erkende leier in alles. Sy was gelukkig op skool, die enigste vlieg in die salf was Ria. Ria het gedurig stories oor haar aangedra en was die oorsaak van die groeiende spanning en verwydering tussen Elizabeth en haar pa.

      En toe kom nog die bitterste slag van almal.

      Dit was net ná die langnaweek in Mei, die jaar ná haar pa en Cora se huwelik. Elizabeth was saam met ’n vriendin Laeveld toe terwyl Ria die naweek op Leeufontein gekuier het. Elizabeth het die oggend al ’n paar keer opgemerk dat Ria so snaaks na haar kyk – met dieselfde ingenome uitdrukking op haar gesig wat ou Trix die kat het as sy onverwags ’n pierinkie room gekry het – en sy het gewonder wat aangaan. Ria het egter niks gesê nie, tot die dag dat hulle weer haaks geraak het.

      “’n Dame maak nie so nie,” het Ria haar vroom berispe oor die een of ander sonde wat Elizabeth weer begaan het. “Ek sal vir Cora sê wat jy gedoen het.”

      “Sê gerus, ou klikbek,” het Elizabeth minagtend geantwoord. “My pa steur hom gelukkig nie aan jou stories nie. Hy weet jy is net jaloers.”

      Ria het so rooi soos beet geword.

Скачать книгу