Proteus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 17
Sy laat die groot kaart van die land teen die muur aanbring, haar stem sag en egalig.
Sy trek in dik rooi ink die vermeende roete na. Sy bepaal die Reaction Unit se rol: hulle sal haar vangnet wees, haar verwelkomingsparty sewe-en-sewentig kilometer noord van Beaufort-Wes, waar die moontlikhede verdubbel en die pad vurk – Kimberley na Johannesburg links en Bloemfontein na Johannesburg regs.
Sy vra die spanne van Quinn en Radebe om die polisiekantore en verkeersowerhede langs die roete bewus te maak, te maan tot bloot inligtingverskaffing en nie optrede nie, want hul gewapende voortvlugtige is nog grootliks ’n onbekende faktor. Maar hulle weet hy kan skiet.
Die onbekendheid van die faktor lê swaar op haar en die tweede rondte opdragte moet dit regstel: ondersoekspanne na Miriam Nzululwazi, na Monica Kleintjes. Die handskoene is nou uitgetrek. Spoor die voortvlugtige se familie op. Sy ouers. Sy vriende. Kry inligting. Wie? Wat? Waar? Waarom? Hoe? Sy wil hom ken, hierdie skim met die vae gesig.
Sy het mag. Sy moet dit gebruik.
* * * * *
Uittreksel uit transkripsie van onderhoud deur J. Wilkinson met mnr. André Bodenstein, eienaar van Mother City Motorrad, 23 Oktober, 21:55, Oswald Pirowrylaan, Kaapstad.
W: Weet u enigiets van mnr. Mpayipheli se vorige betrekkings?
B: Hy was ’n handlanger.
W: Handlanger?
B: Ja. By ’n karverkoper op Somerset-Wes.
W: Hoe weet u dit?
B: Hy het my gesê.
W: Watse soort handlanger?
B: Handlanger is handlanger. Dit beteken jy doen al die kak jobs wat niemand anders wil doen nie.
W: Dis al wat u weet?
B: Luister, ek het nie ’n man met ’n graad nodig om die fokken motorfietse te was nie.
W: En u het ’n sleutel aan hom toevertrou?
B: Nie die eerste dag nie – ek is nie ’n moroon nie.
W: Maar later wel.
B: Hel, hy was elke oggend hier voor die deur as ek aankom. Elke fokken oggend. Hy was nooit siek nie, hy was nooit laat nie, hy was nooit astrant nie, hy werk, hel, daardie man kan werk. Verlede winter toe sê ek hy moet oopsluit, hy kan nie so in die reën staan nie, hy kan solank uitvee en die water aansit; as ons hier kom, staan die koffie reg, elke fokken oggend, die plek blink soos ’n nuwe sikspens, jy dink jy kan mense vertrou. Jy dink jy ken mense …
* * * * *
Twee keer was hy handlanger by Killarney toe die BMW Rider Academy wit, middeljarige, welgestelde mans geskool het in die kuns van motorfiets ry. Nou verwyt hy homself dat hy nie geluister het nie, dat hy nie die kennis ingedrink het nie.
Die Du Toitskloofpas in die donker, en hy besef hy is die toonbeeld van hoe dit nié gedoen moet word nie. Hortend ry hy, remme en versneller en remme en versneller en die ligte wat hy voortdurend op helder en domp skakel in ’n stryd tussen beter visie en aankomende verkeer. Massiewe, snorkende vragmotors wat die tolgeld wil vryspring en die langer roete gebruik, wat die skerp draaie wyd vat of voor hom voortsukkel teen ’n slakkepas. Hy sweet binne die duur, doeltreffende rypak, sy liggaamshitte wat die skerm voortdurend met waterdamp vul sodat hy dit kort-kort moet oopknip, bewus van die afgronde aan sy linkerkant, die liggies daar ver onder.
Rem, draai, ry, rem, draai, ry. Sukkelend en swetsend tot bo, en dan draai die pad skerp oos en die liggies is weg en vir die eerste keer is die donkerte volmaak en die pad skielik stil. Hy word bewus van die geweldige spanning in sy torso – sy spiere is snaarstyf. Hy trek af, bring die motorfiets tot stilstand. Hy maak die valhelm se skerm oop, sit die ratkas in neutraal, haal sy hande van die stuurstang af en strek. Haal diep asem.
Hy moet ontspan, hy sal móét, hy is al klaar moeg en daar lê nog honderde donker kilometer voor. Hy het gevorder. Hy het tot hier gekom, hy het ’n pas halfpad in die donker genavigeer. Die reusefiets is nie onhanteerbaar nie, ondanks sy swaarhandigheid. Dit is geduldig, asof dit vir hom wag om ’n ligter aanslag te probeer.
Diep asem, in en uit, ’n sekere genoegdoening. Hy het ’n mylpaal bereik, hy is bo. Hy het ’n storie om vir Pakamile te vertel, vir Miriam. Hy wonder of sy al slaap. Die digitale horlosie op die instrumentpaneel sê sy het die kind se skoolgoed reggesit, klere en kospakkie; as hy daar was, was sy kostrommel gepak, die huis netjies, die lakens van hul bed teruggevou. Sy sal met die heerlike vrugtige reuke van die olies en sepe aan haar kom lê, die wekker gestel vir vyfuur, die lig af en haar asemhaling onmiddellik diep en rustig. Die slaap van die onskuldiges, die slaap van die werker.
Agter hom hoor hy ’n vragmotor die draai benader en hy strek ’n laaste keer, teug die naglug, knip die skerm toe en trek weg met die wete dat hy minstens al die versneller baasgeraak het. Hy draai dit berekend oop, voel die krag onder hom. In die volgende draai konsentreer hy om sy lyf ontspanne te hou, om soos met die Benly in die draai in te leun. Versigtig, onbehendig, maar dit voel effens beter, meer gemaklik, meer natuurlik. Hy versnel stadig uit die draai, pyl af op die volgende, deur die ou tonnel, nog ’n draai en nog een, af, af na die kloof van die Meulenaarsrivier, af. Hy veg teen die instink om te verstyf, hou homself los en lig, voel met sy ledemate na die fiets se natuur, draai en pylvak, oor en oor, sluit aan by die tolpad, skielik onmoontlik luuks en driebaan-breed, die draaie wyd. Die verligting wat oor hom kom, is groot.
As hy afkyk na die naald van die snelheidsmeter, lees dit 130. Hy glimlag binne die valhelm vir die sensasie, vir die verstommende ding wat hy nou net vermag het.
9
Mazibuko staan langs die aanloopbaan. Hy kan sy manne deur die venster daar binne sien. HuIle is nog vol vuur van die aksie wat hulle beleef het en praat oor niks anders nie, het dit al die pad terug na die lugmagbasis in fyn detail herleef, mekaar gespot, selfs vir hom, vir hul bevelvoerder gesmeek om hulle ook ’n beurt te gee om te skiet, waarom het hy vir Da Costa voorgetrek? Zweletini wat gesê het hy gaan ’n sterk bewoorde brief aan die Zoeloe-koning skryf, want selfs in die land se beste elite-eenheid is daar rassediskriminasie – net die koloniste mag skiet, die arme swartes mag net kyk. Die twaalf het gebulder van die lag. Maar nie Mazibuko nie.
“Dit is nie waarvoor ons opgelei is nie,” sê hy oor die selfoon.
“Ek weet, Tiger, maar dit was vir ons goud werd,” antwoord sy.
“Ons is nie SAPD nie. Gee ons iets ordentliks om te doen. Gee ons ’n uitdaging.”
“Klink ’n man wat bierbottels op 200 meter met ’n AK een vir een kan raak skiet na ’n uitdaging?”
“Een man?”
“Ongelukkig net een, Tiger.”
“Nee, dit klink nie na ’n uitdaging nie.”
“Dit is die beste wat ek kan doen. Staan by vir ’n Oryx van 23 Eskader. Ek gaan ons voorvlugtige aanjaag, julle gaan hom inwag.”
Hy laat stilte sy misnoeë te kenne gee.
As sy die strategie