Proteus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 13
Mazibuko het gekies om nie deur kanale die skaal van geregtigheid te herstel nie, want dan sou ander ook met die RU kom kanse vat. ’n Punt moes gemaak word. En nou huil die Bats.
“Hulle huil, ja. Hulle soek tugstappe.”
“Tug my.” Uitdagend, want hy het geweet die RU is onaantasbaar voor hy die Bat gebliksem het.
“Nie voor jy jou brood verdien het nie.” Toe gee sy die agtergrond, die opdrag.
Sy span gee vir hom sy wapens en baadjie aan, die nagsig-kopstuk en kamoefleerverf laaste. Hy maak gereed met behendige, geoefende bewegings, tot hulle in gelid voor hom staan en hy voor die ry afstap en hier en daar aan ’n gordel pluk of ’n stuk uitrusting regtrek.
“Ek het ’n nuwe naam vir die Ama-kill-kill,” sê hy. “Na vanaand gaan julle bekend staan as die Gangsta Busters.”
7
Hy vra vir die taxibestuurder om hom voor die Media 24-gebou in die Heerengracht af te laai. Hy kies koers, oos, deur die Nico Malan, draai links in Hertzog, die verkeer dié tyd van die aand uitgedun. Hy loop doelbewus sonder dringendheid, soos ’n man wat nêrens heen op pad is nie. Weer links in Oswald Pirow. As hy tussen die vulstasie se pompe deurstap en die petroljoggies in hul nagkamer deur die venster groet, sien hy die voertuig voor Mother City Motorrad staan, die ligte aan. En hy sien die Spoke voor, langs mekaar. Sy hart sink.
Hulle hou die plek dop.
Hy maak die joggies se nagkamerdeur oop en gaan in, weet as hy buite staan, gaan hy gesien word.
Hul enjin luier. Goeie teken, as hulle op observasiediens was, sou hulle verder terug in die dwarsstraat gestaan het, ligte af, enjin af. Die joggies is bly om hom te sien – enige afleiding dié tyd van die aand is welkom. Wat maak hy hier, wat is in die sak? Hy fabriseer ’n antwoord – ’n kliënt se gedienste motorfiets is nie afgelewer nie en nou moet hy wat Mpayipheli is die Whiteys se kastaiings uit die vuur kom krap. Maar uit die hoek van sy oog hou hy die motor in die straat dop. Hy sien dit trek weg, probeer dit dophou sonder om agterdog by die joggies te wek.
Moet hy die kliënt se motorfiets dié tyd van die nag gaan aflewer?
Ja, die man is kwaad, hy het die fiets môreoggend nodig en die Whitey-baas is te lui om in die aand uit te kom, daarom dat die Xhosa uitgeroep is, dit is mos maar dieselfde ou storie; wat kyk julle op televisie, ’n wedstrydspeletjie?
Ja, elke ou moet uit drie meisies kies, maar hy kan hulle nie sien nie, hy mag hulle net vrae vra …
Die motor is weg, hy luister nog hoflik vir ’n minuut of twee, verskoon homself, loop uit, kyk in die strate op en af. Daar’s niks. Hy stap oor, agter, in die dienssteeg in. Hy haal sy beursie uit die blou sak, soek deur die voue van die leer. Die houtdeur se silwer sleutel lê blink en plat waar hy dit altyd bêre, want hy is soggens eerste hier om uit te vee, ’n halfuur voor die meganici – dan moet hy die ketel en die ligte aansit en seker maak die vertoonvensters is skoon.
Hy sluit oop, tik die kode op die alarmpaneeltjie in. Hy moet besluit – sit hy die ligte aan? Die joggies sal wonder as hy dit nie aansit nie. Maar hy besluit daarteen, hy moet nie aandag trek nie.
Volgende besluit: Watter motorfiets? Here, die goed is groot. Sal hy met sy Honda 200-kennis kan bo bly? Nog nooit is hy toegelaat om een te ry nie – hy moet hulle na buite stoot, dan was, poleer en blinkvryf. En weer terugstoot.
En vanaand moet hy op een klim en Johannesburg toe ry. Maar watter een?
Hy voel die gewig van die sak in sy hand.
Die 1200 RS is die vinnigste, maar wat van die sak? Die LT het pakplek, maar dit is reusagtig. Die GS-demonstrasiemodel in die vertoonlokaal het die vaste bagasiesakke weerskante van die agterwiel, die motorfiets staan daar, bonkig en gehurk, oranje-geel; die sleutel, weet hy, hang in die onderdelekamer.
Here, die goed is so groot.
* * * * *
Ondanks die doringdraadbekroonde betonmure en hoë hek, ondanks die menslike waarskuwingstelsel van oë af in die straat en die agt man met hul versameling van vuurwapens binne, neem dit Tiger Mazibuko en sy Reaksie-eenheid slegs sewe minute om die huis te oorrompel.
Hulle kom in drie spanne van vier, vier en vyf deur die donker. Die twee ongemerkte motors laai hulle een blok suid van die huis af en hulle beweeg sekuur deur tuine en oor muurtjies, tot hulle teen drie kante van die erf die muur kan oorsteek. Die roesende doringdraad knip sag en maklik, handgebare in die straatlampverligte donker gee instruksies.
Die vensters het diefwering voor, maar die groot ruite is onbeskermd en dit is waar hulle deurgaan, met geoefende, gladde bewegings van breek, induik en rol, op drie plekke, binne sekondes van mekaar. Wanneer die inwoners binne reageer, paniekbevange begin reik na wapens, is dit te laat. Vreesaanjaende figure met dik strepe kamoefleerverf, geklee in gevegsdrag, dwing hulle met groot behendigheid teen die vloer, druk bonkige Heckler & Koch masjienpistole teen hul slape. Oomblikke van chaos en verwarring word skielik stil, tot net een man se selfversekerde stem opklink, helder en in volle beheer.
Mazibuko laat hulle almal na ’n voorkamer bring, arms agter die koppe lê.
“Weyers, Zongu, hou die straat dop,” sê hy. Dan wend hy hom tot die bondel van lywe op die vloer. “Wie’s in bevel hier?”
Hulle lê met hul gesigte na die vloer. Een of twee wat fyn bewe.
Sekondes wat verbygaan sonder reaksie.
“Skiet een, Da Costa,” sê Mazibuko.
“Watter een, kaptein?”
“Begin daar. Skiet hom in die knie. Fok sy been op.”
“Goed, kaptein.”
Da Costa wat die H&K se slotmeganisme luid terugtrek en die loop teen ’n been druk.
“Julle kan nie net skiet nie,” sê een in die middel van die bondel.
“Hoekom nie?”
“Daar is rules vir die SAPD.”
Mazibuko lag. “Skiet, Da Costa.”
Die skoot is ’n donderslag in die vertrek en die man maak ’n diep, ontstellende geluid. Kordietreuk vul die kamer.
“Hier’s ’n brokkie slegte nuus: Ons is nie SAPD nie,” sê Mazibuko. “Ek vra weer: Wie is die Chief Gangsta hier?”
“Ek,” sê die middelste man, sy gesig beangs.
“Staan op.”
“Gaan jy my ook skiet?”
“Dit hang af, Gangsta, dit hang af.”
* * * * *