Proteus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 9
Hy laat die sak deur die X-straalmasjien skuif. Twee broeke, twee hemde, twee onderbroeke, twee paar kouse, sy swart skoene, ’n trui, sy toiletsakkie, die oorblywende kontant. En die hardeskyf – plat, klein, tegnologie waarvan hy niks weet nie. En iewers aan die elektroniese binnekant word daar onheilighede van hierdie land se verlede geberg.
Hy wil nie daaroor nadink nie, hy wil nie betrokke raak nie, hy wil die goed vir Johnny Kleintjes gaan gee en sorg dat hy veilig is, terugkom en aangaan met sy lewe. Soveel planne vir hom en Miriam en Pakamile.
Hy raak bewus van die twee in die grys pakke agter hom, ’n instink uit ’n ander lewe, ’n gedempte waarskuwing uit sy agterkop. Hy kyk terug na hulle, maar dit is sy verbeelding. Hy vat sy sak en kyk na sy horlosie. Drie-en-dertig minute voor hy aan boord moet gaan.
* * * * *
“Wat maak ons?” vra Quinn, wat sy oorfone afgeskuif het en afwagtend na Janina Mentz kyk.
“Ek wil eers weet waarheen hy gaan.”
“Hulle is besig om uit te vind. Hy het ’n ComAir-kaartjie gekoop.”
“Hou my op die hoogte.”
Quinn knik, skuif die oorfone terug en praat sag in die mikrofoontjie voor sy mond.
“Rahjev, nog niks?” vra sy aan die oordadig swaar Indiër agter sy rekenaar.
“Nasionale bevolkingsregister gee nege Tobela Mpayipheli’s. Ek is besig om na geboortedatums te kyk. Gee my tien.”
Sy knik.
Waarom het Monica Kleintjes vir Mpayipheli gekies? Wie is hy?
Sy loop na Radebe toe wat oor die telefoon praat, in gesprek met die Gauteng-kantoor. Iemand het koffie en toebroodjies ingebring. Sy wil nog nie koffie drink nie en sy is nie honger nie. Sy stap terug na Quinn. Hy luister net, kyk op na haar, kalm, vaardig.
Ongelooflike span mense, dink sy. Dié ding gaan oor wees voor dit begin.
“Hy vlieg Johannesburg toe,” sê Quinn.
“Hy het net die een sak by hom?”
“Net die een.”
“En ons is heeltemal seker Monica Kleintjes is by die huis?”
“Sy sit voor die televisie in die sitkamer. Hulle kan haar deur die kantgordyne sien.”
Sy oorweeg die moontlikhede, deurdink implikasies en scenario’s. Mpayipheli moet die data by hom hê. Neem dit nou by hom, stuur haar eie span daarmee Lusaka toe. Meer beheer. Met die RU as rugsteun. Miskien. Want dit gaan moeilik wees om Mazibuko-hulle in Zambië te kry. Te veel diplomatieke gunse, te veel blootstelling. Die direkteur sal sy Reaksie-eenheid dalk ’n ander keer moet toets. Die hoofdoel: Hou dit in die familie. Hou dit veilig en onder beheer.
“Hoe goed is die span by die lughawe?”
“Goed genoeg. Ervare,” sê Quinn.
Sy knik. “Ek wil hê hulle moet Mpayipheli inbring, Quinn. Lae profiel. Ek soek nie ’n konfrontasie by die lughawe nie. Diskreet en vinnig. Kry hom en sy sak in ’n motor en kry hom hier.”
* * * * *
Hy sit met die sak op sy skoot en die gewaarwording van afsondering daal stadig oor hom. Meer as ’n jaar nou dat hy en Miriam saamwoon, meer as ’n jaar se aande as gesin … Skielik sit hy hier en hy is alleen, soos in die ou dae.
Hy soek na reaksie in homself. Mis hy dit? En die antwoord – dat hy geen genoegdoening in dié privaatheid vind nie – verras hom. Na ’n leeftyd van op homself aangewese wees, het dit hulle net twaalf maande geneem om sy lewe te verander. Hy wil daar wees, nie hier nie.
Maar hy sal die taak moet afhandel.
Kleintjes. Die Johnny Kleintjes wat hy geken het, sou nie uitverkoop het nie. Daar moet iets gebeur het om die ou man se kop te draai. Wie weet wat alles in die binnekringe en wandelgange van die nuwe regering en die nuwe intelligensiedienste aan die gang is? Dit is seker nie onmoontlik nie. Net onwaarskynlik. Johnny Kleintjes was ’n man van integriteit. En lojaliteit. ’n Sterk man, met karakter. Hy sal hom vra wanneer hy hom sien, wanneer die data oorhandig is en Johnny Kleintjes sy geld gekry het. As alles glad verloop. Dit moet. Hy sien nie kans vir moeilikheid nie, hy is klaar met daardie dinge.
En dan is hulle by hom, die twee in die grys pakke; hy het hulle nie sien kom nie en as hulle hier teen hom is, skrik hy vir die diepte van sy gedagtegang en die vervaging van ou vaardighede.
“Meneer Mpayipheli,” sê die een.
“Ja?” antwoord hy, verbaas dat hulle sy naam ken. Hulle is teen hom, hy kan nie opstaan nie.
“Ons wil hê jy moet saam met ons kom.”
“Vir wat?”
“Ons verteenwoordig die Staat,” sê die tweede en hou ’n plastiekomhulde kaartjie voor sy oë: Foto en landswapen.
“Ek het ’n vliegtuig om te haal,” sê hy, sy kop nou oop, sy lyf gereed.
“Nie vanaand nie,” sê Nommer Een.
“Ek wil niemand seermaak nie.”
Nommer Twee lag gemoedelik. “Is dit so?”
“Asseblief.”
“Ek is bevrees jy het nie ’n keuse nie, meneer Mpayipheli.” Hy tik met ’n vinger op die blou sak. “Die inhoud …”
Wat weet hulle? “Ek vra mooi,” sê hy. “Ek wil nie moeilikheid hê nie.”
Die agent hoor die smeking in die groot Xhosa se stem. Vrees, dink hy. Gebruik dit. “Ons kan vir jou meer moeilikheid maak as wat jy ooit kan dink, ou grote,” sê hy en skuif sy baadjie se pant terug om die pistool ten toon te stel, staalkolf in ’n swart skouersak. Hy steek sy hand uit om die sportsak te neem. “Kom,” sê hy.
“Ai, ai,” sê Tobela. Hy moet sy besluite neem terwyl die hand afdaal na die blou sportsak op sy skoot. Hy snap iets uit hul optrede: Hulle wil nie oproer hier hê nie. Hulle wil hom stil-stil wegneem. Hy moet dit gebruik. Hy sien Een se baadjie oopgaap terwyl die agent sy arm uitstrek na die sak. Hy sien die pistool se kolf en reik daarna, kry dit, draai dit om, staan op. Een het die sak in sy hand, sy oë skielik groot. Tobela is teen hom, met die pistool se loop teen die agent se hart. Twee is agter Een. Ander passasiers, hier en daar, wat nog nie veel gemerk het nie.
“Ek wil nie moeilikheid hê nie. Ek soek net my sak.”
“Wat maak jy?” vra Twee.
“Hy het my pistool,” sis Een.
“Vat die sak,” sê Tobela vir Twee.
“Wat?”