Proteus. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Proteus - Deon Meyer страница 8
“Waarom?”
“Want ek gaan my ou vriend verras.”
“Verjaar hy?”
“Amper so iets.”
“Kan ek nie eens vir Johnson vertel nie?”
“Johnson vertel dalk vir sy pa, en sy pa bel dalk my ou vriend. Dit moet net ons drie se geheim wees.”
“Ek sal vir niemand vertel nie.”
“Weet jy waar Zambië op die atlas is?”
“Dis in … eee … Mpumalanga?”
In gewone omstandighede sou Miriam geglimlag het vir haar seun se wilde raaiskoot. Maar nie vanaand nie.
“Zambië is ’n land, Pakamile. Kom, ek wys jou.” Tobela blaai na ’n kaart van Suidelike Afrika. “Ons is hier,” wys hy met sy vinger. “Kaapstad.”
“Ja. En hier bo is Zambië.”
“Hoe gaan jy daar kom, Tobela?”
“Ek gaan met die vliegtuig ry tot hier, in Johannesburg. Dan kry ek nog ’n vliegtuig, wat só gaan vlieg, oor Zimbabwe, of miskien so, oor Botswana, tot hier. Dié plek se naam is Lusaka. Dit is ’n stad, soos Kaapstad. Dit is waar my ou vriend is.”
“Gaan daar koek wees? En koeldrank?”
“Ek hoop so.”
“Ek wil saamgaan, Tobela.”
Hy lag en kyk op na Miriam. Sy skud net haar kop.
“Eendag, Pakamile, sal ek jou neem. Dit belowe ek.”
“Dis slapenstyd,” sê Miriam.
“Wanneer gaan jy vlieg?”
“Netnou, wanneer jy aan die slaap is.”
“En wanneer kom jy terug?”
“Net so twee slapies. Jy moet jou ma mooi oppas, Pakamile. En die groentetuin.”
“Ek sal. Sal jy vir my van die koek saambring?”
* * * * *
“Die onbekende faktor is Tobela Mpayipheli. Ons weet nie waarom Monica Kleintjes na hom toe is nie. Julle het die gesprekke gehoor – hy staan ook bekend as ‘Tiny’, werk by Mother City Motorrad, ’n BMW-motorfietshandelaar. Hy bly by Miriam Nzululwazi in Guguletu – ons weet sy is die geregistreerde eienaar van die huis, maar verder niks. Kleintjes is per huurmotor na die huis, het net meer as veertig minute daar vertoef en is reguit terug na haar pa se woning. Nie Mpayipheli of Kleintjes het sedertdien beweeg nie.
“Daar is twee waarnemingspanne by haar en een in Guguletu, by hom. Die Reaksie-eenheid is op pad van Bloemfontein en behoort nou enige oomblik by Ysterplaat te land. Hulle sal daar bly tot ons meer inligting het. Dit, mense, is waar ons nou staan.”
Sy skakel die videoprojektor af.
“En nou moet ons vinnig aan die gang kom. Radebe, ons het net een man in Lusaka. Ek wil nog vier daar hê. Met ervaring. Gauteng-kantoor is die naaste en daar is genoeg van die regte mense. Verkieslik twee mans en twee vroue wat as paartjies in die Republican Hotel kan inboek. Onopsigtelik, en uiteraard nie almal gelyk nie, maar ek laat dit in jou hande. Kry jou telefoonstelsels aan die gang. Quinn: Ons het ook nodig om telefoonoproepe na die Nzululwazi-huis in Guguletu te onderskep. Dringend. Rajkumar, bring jou span in. Ek wil weet wie Tobela Mpayipheli is. Ek gee nie om in watter databasis jy gaan hengel nie, maar dit is jou absolute prioriteit. Wikkel, mense, wikkel. Twintig minute, asseblief, dan is ons aan die gang.”
* * * * *
Mazibuko is die laaste van Falcon af. Hy laat die lede van Alpha eers uit, kyk na hulle, wit, swart, bruin, elkeen met sy eie storie. Da Costa, seningrige afstammeling van Angola-vlugtelinge met die meslitteken teen sy wang en die vyfuurbaard-skaduwee. Weyers, die Afrikaner van Germiston met die indrukwekkende boarms. Klein-Joe Moroka, ’n Tswana, grootgeword op ’n mielieplaas by Bothaville, praat sewe van die amptelike elf landstale. Cupido, die kortste, die spraaksaamste, bruin dorpskind van Ashton met ’n Technikon-diploma in elektroniese ingenieurswese. Daar is selfs ’n “token royal”, soos Zweletini, die lang, lenige Zoeloe, na homself verwys, al is hy hoegenaamd nie familie van die koning nie.
Hulle staan in gelid op die aanloopbaan. Die Kaapse somerwind is sag teen Mazibuko as hy afspring tot op die teer.
“Afpak en wag. Hurry up and wait. Julle ken die storie.”
* * * * *
By die voordeur sit hy sy arms om haar, druk haar skraal lyf teen hom vas, ruik die vrouereuke, die vae oorblyfsels van sjampoe en reukwater na ’n lang dag, die geure van kombuis en huis en daardie unieke warmte wat eie aan haar is.
“Ek sal in Johannesburg moet oorslaap,” sê hy sag teen haar oor. “Ek sal eers môre van daar af ’n vliegtuig Lusaka toe kan kry.”
“Hoeveel geld het sy vir jou gegee?”
“Baie.”
Miriam sê niks, hou net aan hom vas.
“Ek bel jou sodra ek by die hotel kom.”
Steeds staan sy so, met haar gesig teen sy nek en haar hande om sy rug. Tot sy eindelik terugtree en hom vinnig op die mond soen. “Kom terug, Tobela.”
* * * * *
In die privaatheid van haar kantoor bel Janina Mentz huis toe. Lien, die oudste, antwoord. “Hallo, Mamma.”
“Ek moet laat werk, my kind.”
“Maaaa … Ma het belowe om my te help met Biologie.”
“Jy is vyftien, Lien. Jy weet wanneer jy die werk goed genoeg ken.”
“Ek sal wakker bly.”
“Ek wil met Suthu ook praat. Sy moet oorslaap, want ek kan nie huis toe kom nie.”
“Maaa. My hare môreoggend.”
“Ek is jammer, Lien. Dit is ’n noodgeval. En dis nodig dat jy daar moet help. Jy is my ounooi. Het Lizette haar huiswerk gedoen?”
“Sy was die hele middag op die telefoon, en Ma weet hoe die graadsewes is. ‘Het Kosie iets van my gesê? Dink jy Pietie hou van my?’ Dis só … kinderagtig. Dis gross.”
Sy lag. “Jy was ook in Graad Sewe.”
“Ek wil nie eens daaraan dink nie. Was ek ook só erg?”
“Jy was. Laat ek met Lizette praat. Jy moet jou slaap kry, my kind. Jy moet vars wees vir die vraestel. Maar ek sal môreoggend bel, ek belowe.”
5
Die taxi laai hom buite die binnelandse vertreksaal af, hy betaal, neem die sportsak,